SOE se ondersoek oor elektrifiseringsprojek kan voortgaan

(Argieffoto: pixabay)

Die hooggeregshof in Polokwane in Limpopo het ʼn aansoek deur ʼn ingenieursmaatskappy, om ʼn SOE-verslag tersyde te stel, van die hand gewys.

Mphaphuli Consultin het die hof versoek om die verslag, deur die spesiale ondersoekeenheid (SOE) te hersien en tersyde te stel, ná daar bevind is die maatskappy het die Groter Tubatse- plaaslike munisipaliteit te veel laat betaal vir dienste gelewer.

Die maatskappy het die munisipaliteit (nou bekend as Fetakgomo Tubatse-munisipaliteit) minstens R73 miljoen te veel gevra tydens ʼn elektrifiseringsprojek in 2013.

Die munisipaliteit het aanvanklik ʼn kontrak ter waarde van R168,8 miljoen met die maatskappy aangegaan om minstens 13 000 huise aan die elektrisiteitsnetwerk te koppel. Die projek het bekendgestaan as Operation Mabone.

Die koste het egter die hoogte in geskiet toe die munisipaliteit die kontrak twee keer gewysig het. Die getal huise wat uiteindelik verbind moes word, was 19 000, teen ʼn koste van minstens R326 miljoen.

Volgens Kaizer Kganyago, woordvoerder van die SOE, het Mphaphuli aangevoer ʼn afkondiging deur oudpresident Jacob Zuma wat die SOE in staat gestel het om die sake van die munisipaliteit te ondersoek, het nie die SOE toestemming gegee om die maatskappy ook te ondersoek nie.

Kganyago sê die regsaksie teen die SOE is ʼn poging om die eenheid oor te haal “om alle stappe teen die ingenieursmaatskappy te staak”.

“Deur die aansoek van die hand te wys, het die hof gesê Mphaphuli se argument het nie enige gronde nie. Die omvang van die afkondiging het toestemming gebied dat ʼn wye rits van sake deur die SOE ondersoek mag word. Die eenheid kon voorvalle tussen 11 Maart 2004 en 1 Augustus 2014 ondersoek.”

Kganyago het Vrydag gesê die uitspraak in die hooggeregshof bring ʼn einde aan Lufuno Mphaphuli se bewerings van vooroordeel en onbehoorlike optrede deur die SOE in die ondersoek van die Operation Mabone-projek.

Dit beteken die SOE kan voortgaan met sy siviele optrede om die R73 miljoen te verhaal. “Die SOE het ʼn siviele eis in die hooggeregshof in Polokwane ingedien om die finansiële verliese wat die munisipaliteit gely het, te verhaal as gevolg van die R73 miljoen wat te veel betaal is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.