Soektog na nuwe Mej. SA begin nou

Natasha Joubert, Mej. SA 2023. (Foto: Verskaf)

Die soektog na die nuwe Mej. Suid-Afrika om in die voetspore van vorige wenners soos Natasha Joubert, Demi-Leigh Tebow en Tamaryn Green te volg, het pas begin.

Inskrywings vir die Mej. Suid-Afrika-kompetisie het vandag (Donderdag) oopgemaak en sluit Woensdag 8 Mei om 18:00.

Daar is vanjaar slegs een toevoeging tot die inskrywingsreëls, naamlik dat finaliste van 2023 se kompetisie eers weer in 2025 hul naam in die hoed mag gooi.

Vroue wat 30 word in hulle kroningsjaar word ook toegelaat om deel te neem, en daar is ook spesifikasies of vereistes in terme van gewig of lengte nie.

Nes verlede jaar sal die werklikheidsreeks Crown Chasers ook sorg vir ʼn kykie agter die skerms van die Mej. SA-kompetisie.

As deel van die werklikheidsreeks sal deelnemers almal saam in die Mej. SA-hoofkwartiere woon, vanwaar hulle uitdagings wat verband hou met die kompetisie se vier pilare, naamlik plig, kampioenskap, bemagtiging en skoonheid, sal moet aanpak.

Finaliste se entrepreneurs- en sakevaardighede sal ook op die proef gestel word, en hulle sal innoverende maniere moet vind om toerisme aan te moedig, om ondersteuning te toon vir ondernemings wat deur vroue besit word, of om aspekte van hulle kultuur of erfenis ten toon te stel.

Natasha op die rooitapyt die Aitsa-toekenningsgeleentheid in 2023. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

ʼn Uitdagingswenner sal elke week deur ʼn beoordelaarspaneel gekies word.

As die huidige Mej. SA, én iemand wat twee keer ingeskryf het, is Natasha Joubert se raad aan voornemende deelnemers om hulself goed te ken, beide emosioneel en geestelik.

“ʼn Deelnemer moet haar sterk kant ken en weet wat haar swakpunte is en ondersoek hoe sy reageer op druk, negatiwiteit of konfrontasie. Dit is iets waarvan sy bewus moet wees en waaraan sy moet werk – hulle kan nie net op hulle klerekas of doelwitte fokus nie. Selfbewustheid is baie belangrik,” sê sy.

Natasha vertel dat eenvoudige vrae soos “vertel ons van jouself” of selfs “wat is jou gunstelingkleur” haar aanvanklik onkant gevang het.

“Soms sou ek dink dat party van die vrae baie eenvoudig is, maar ek het gou besef die beoordelaars wou bepaal hoe goed ons onsself ken. Jy moet ondersoek hoe jy optree en reageer wanneer jy in ʼn stresvolle situasie geplaas word of wanneer jy moeg is of wanneer jy baie reis. Om in Mej. SA in te gaan moet jy heeltemal deursigtig en oop met jouself wees. Dit maak die proses soveel makliker.”

Sy glo ʼn goeie werksetiek, aanpasbaarheid en vriendelikheid is noodsaaklik om die Mej. SA-kroon te dra.

Natasha moedig deelnemers aan om outentiek te wees. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

“Dit is ʼn veeleisende werk met ʼn dikwels uitmergelende skedule. Jy moet weet hoe om jou tyd te bestuur en te navigeer en om seker te maak jy doen alles na die beste van jou vermoë. Ek was ʼn sake-eienaar voordat ek gekroon is, en dit het my steeds uitgedaag en my laat kyk hoe ek dinge beter kan doen terwyl ek myself verbeter,” verduidelik Natasha, wat ʼn BCom-graad in bemarkingsbestuur agter haar naam het en eienaar en modeontwerper van die handelsmerk Natalia Jefferys is.

“Jy moet ook vriendelik en geduldig wees aangesien jy met soveel mense met verskillende persoonlikhede omgaan. Wees genadig met mense en wees kalm. Jy moet ook altyd outentiek wees en weet hoe om pret te hê! Jy moet jou eie persoonlikheid wys, hetsy op ʼn TV-program of interaksie met die publiek.”

Natasha, wat in verlede jaar se aflewering van Crown Chasers byna drie keer koning(in) gekraai het, moedig deelnemers aan om dié deel van die kompetisie te omarm en geniet.

“As jy nie tydens hierdie proses uitgedaag word nie, dan is iets verkeerd. Jy moet oop wees om te weet dat daar laagtepunte en hoogtepunte gaan wees en dat jy teruggaan na jou kamer toe en voel dat jy dalk nie gereed is om die nuwe Mej. SA te wees nie. Dít is wanneer jy weet dat jy groei en dat jy jouself druk.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.