Natasha kraai tweede week koning(in) in Mej. SA-werklikheidskompetisie

Natasha Joubert. (Foto: Willem Botha/Verskaf)

Die Mej. Suid-Afrika-finalis, Natasha Joubert, het opnuut bewys dat sy ʼn kop vir sake het nadat sy vir die tweede opeenvolgende week as die wenner van dié skoonheidskompetisie se unieke werklikheidsreeks, Crown Chasers, aangekondig is.

Maroela Media het voorheen berig dat finaliste as deel van hierdie werklikheidsreeks saam in die Mej. SA-hoofkwartiere woon, vanwaar hulle verskeie uitdagings moet aanpak.

Finaliste se entrepreneurs- en sakevaardighede word op die proef gestel om toerisme aan te moedig, om ondersteuning vir sakeondernemings in vroulike besit te toon en om aspekte van hul kultuur of erfenis ten toon te stel.

Zozibini Tunzi, voormalige Mej. SA en Mej. Heelal-titelhouer, Leandie du Randt, aktrise, aanbieder en entrepreneur, en Bonang Matheba, radio- en TV-persoonlikheid, dien as beoordelaars en aan die einde van elke episode word een van die 12 finaliste afgestem, met die sewe oorblywende finaliste wat deurgaan om aan die regstreekse eindrondte deel te neem.

Die Mej. SA-finaliste in Mauritius. (Foto: Verskaf)

Natasha het in Sondagaand se episode haar tweede Crown Chasers-uitdaging gewen nadat sy die beste verpakking en besigheidsplan vir ʼn energiedrankie ontwerp het.

Die finaliste het in die vorige week se episode die Goudstad vir Mauritius se goue strande verruil. Hier het hulle die taak gekry het om ‘n reisvideodagboek te skep, ‘n stranduitdaging te voltooi en aan ‘n swemklere-fotosessie deel te neem – wat Natasha óók gewen het.

Natasha se fotosessie in Mauritius. (Foto: Verskaf)

Sy sê sy was verheug oor haar dubbele oorwinning, veral omdat sy in beide uitdagings haar kreatiewe kant kon wys.

“Die twee uitdagings het baie van mekaar verskil, maar in albei kon ek my kreatiewe kant gebruik. Hierdie uitdagings is presies wat hulle sê hulle is, naamlik uitdagend. Ek wil myself egter altyd in die posisie plaas om anders te dink en te groei.”

Dit is die tweede keer wat die donkerkop skoonheid die gesogte Mej. SA-titel najaag nadat sy in 2020 as die tweede naaswenner aangekondig is en haar land by die Mej. Heelal-kompetisie verteenwoordig het.

Die Mej. SA-finaliste Lungo Katete en Lebohang Raputsoe is in die eerste en tweede episodes van Crown Chasers afgestem.

Kykers het Sondagaand ook gesien hoe Levern Jose die besluit neem om self haar tassie te pak, wat beteken dat geen deelnemer uitgestem is nie.

Maroela Media het ook vroeër berig dat Levern uit die Mej. SA-kompetisie onttrek het oor sy glo geboelie was nadat sy as een van die top-12 finaliste aangekondig is. Die aanlyn boeliery waaraan Levern onderwerp is, spruit egter uit bewerings van ʼn voormalige skoolmaat dat sy wat José is self op skool ʼn boelie was.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Wikkie ·

Liewe genade! Dit lyk asof die mens se gesig noukeurig met ‘n beiteltjie uitgekap is. En hoe lekker is dit om te lees dat sy boonop ‘n slimkop ook is. Die laaste maal toe ek ‘n Mej. Suid Afrika kompetisie gekyk het, was toe Cindy Nel destyds gewen het. En dis ook maar net omdat ek haar van skool af geken het. Miskien moet ekmweer bietjie loer daarna.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.