Nou jaag Natasha ʼn nalatenskap, nie net Mej. SA-kroon

Natasha Joubert. (Foto: Verskaf)

Nuus oor die voormalige Mej. Suid-Afrika-finalis, Natasha Joubert, se besluit om haar naam vir ʼn tweede keer in dié gesogte skoonheidskompetisie se hoed te gooi het die afgelope week omtrent die wenkbroue op sosiale media laat lig.

Volgens dié donkerkop skoonheid sal enigeen wat self op die verhoog kon wees toe Suid-Afrika met haar deelname in 2021 nie plek onder die top-21 op die Mej. Heelal-verhoog gehaal het nie, verstaan hoekom sy die Mej. Suid-Afrika titel vir ʼn tweede keer najaag.

“Daardie tipe skok en teleurstelling wat ek in 2021 in myself ervaar het, was my grootste mislukking, maar is nou ook my grootste dryfkrag,” vertel sy aan Maroela Media enkele dae nadat sy as een van die top-30 finaliste in vanjaar se Mej. SA-kompetisie aangewys is.

“Nou is ek eers vuur en vlam om vir my land te wys wat in my steek.”

Maroela Media het vroeër berig dat die Mej. SA-kompetisie in 2020 vir die eerste keer in sy geskiedenis al drie sy finaliste gelyktydig na verskillende internasionale kompetisies gestuur het.

Shudufhadzo Musida, Mej. SA 2020, het haar land in 2021 op die Mej. Wêreld-verhoog verteenwoordig, terwyl die eerste naaswenner, Thato Mosehle en Natasha, toe die tweede naaswenner, onderskeidelik aan die Mej. Supranasionaal en Mej. Heelal-kompetisies deelgeneem het.

“Mense vergeet dat ek as naaswenner nie die volle Mej. SA-ervaring gehad het in aanloop tot Mej. Heelal nie, en boonop moes poog om die titel vir die twee opeenvolgende jaar vir SA te kry nadat Zozibini Tunzi dit in 2019 gewen het,” verduidelik Natasha.

“Die Covid-19-pandemie het die ervaring ook natuurlik vir al die deelnemers tot ʼn mate gekelder.”

Natasha saam met Shudufhadzo Musida, mej. Suid-Afrika 2020 (links) en Thato Mosehle, naaswenner vir 2020. (Foto: Mej. SA-organisasie)

Sy kan elke oomblik van haar aand by die Mej. Heelal-kompetisie onthou, en het gevoel asof sy haar hele land in die steek laat toe sy nie plek onder die top-21-finaliste gehaal het nie.

“Jy’t ʼn beter kans om vir die Springbokke uit te draf as om op die Mej. Heelal-verhoog te wees, en mense het baie hoë agting vir die Mej. Heelal-kompetisie, veral omdat ons die afgelope paar jaar so goed daarin gevaar het.

“Ek dink die druk en impak van daardie teleurstelling het my ʼn bietjie geknak. Ek het in ʼn diepe depressie geval en later ʼn sielkundige en lewensafrigter gaan sien om alles te verwerk.”

Nou sê sy verstaan sy mooi die gesegde wat sê: “Wysheid is geneesde pyn”.

“Ek is nou veel meer doelgerig want ek is gedwing om diep te delf en van my uitdagings in die gesig te staar. Ek kry ook nie meer skaam om erkenning aan my gevoelens te gee en openhartig daaroor te praat nie.”

Sy het ook nou besef dat haar eie grootwordjare ʼn meer realistiese blik van die algemene Suid-Afrikaner se lewe is en iets is waarmee mense kan vereenselwig.

Natasha tydens die uitdunrondes van Mej. Heelal in 2021. (Foto: Verskaf/Mej. Suid-Afrika Organisasie)

“My pa het sy werk verloor toe ek 16 jaar oud was en is kort daarna oorlede. Ek moes vinnig self baie plannetjies rondom finansies beraam. Almal se verhale lyk natuurlik anders, maar ek ken teleurstelling, verlies en finansiële uitdagings, en wil daardie kennis gebruik om ander te help.”

Sukses lyk ook nou vir haar anders en daarom spits sy haar daarop toe om deurlopende persoonlike groei te ervaar eerder as om titels na te jaag.

Selfs sonder die Mej. SA kroon het sy sedert 2021 nog nie vir ʼn oomblik stilgesit nie, en soveel van haar drome en doelwitte daarsonder bewaarheid.

“Ek is ongelooflik dankbaar vir die geleenthede wat op my pad gekom het, maar borge en betaalde sosialemediaveldtogte is bloot besigheid. Ek streef nou daarna om werklik ʼn nalatenskap agterna te laat.”

Natasha steur haar ook nie aan kritici wat sê dat sy voordeel trek deur weer deel te neem nie.

“Ek dink nie mense besef dat dit nie ideaal is om ʼn tweede keer deel te neem nie. Dit is duur en baie tydsaam. Jou ‘regte lewe’ staan nie stil tydens jou deelname nie, so ʼn mens moet alles balanseer en goed bestuur. Ek voel mense moet dit eers self ervaar, dan kan ons gesels oor voordeel trek.”

Ook die opofferings wat sy met haar eerste deelname moes maak, vuur haar nou aan.

Natasha saam met haar mede top-30-finalis, Hestie Jooste. (Foto: Yolanda van der Stoep/Verskaf)

“Ek het in 2020 in aanloop tot Mej. Heelal vir vyf maande regtig net asem vir my land gehaal en soveel prys gegee, insluitend ʼn lewenslange vriendskap. So my deelname loop natuurlik nou baie dieper.”

Sy glo sy het nou niks om te verloor nie.

“Ek is ʼn baie realistiese persoon en dié keer vrees ek nie teleurstelling nie. Natuurlik bly ek ʼn mens en dit gaan ʼn rukkie vat om te herstel as ek nie verder vorder nie, maar no risk, no reward. Dié ervaring sal my nie maak of breek nie, want ek glo met my hele hart dat dinge gebeur soos dit moet.”

Sy hoop haar deelname vanjaar sal ander vroue ook aanspoor om tweede kanse te waag.

“Ek gaan heeltemal openhartig, kwesbaar en eerlik deur my reis wees.  Ek gun vir myself ʼn tweede kans. Ek gaan nie nee sê vir myself net om ja te sê vir ander nie.”

Hoewel die nuwe deelnamereëls haar nie direk beïnvloed nie, ondersteun sy ten volle die aanpassings om getroude vroue en ma’s toe te laat om in aanmerking vir die Mej. SA-kroon te kom.

Natasha en haar kêrel, Enrico Vermaak. (Foto: Facebook/Natasha Joubert)

“Om ʼn ma of getroude vrou te wees, maak jou nie minder bekwaam om Mej. SA te wees nie. Jy moet net jouself vra of jy alles gelyk kan aanpak,” benadruk sy.

“Ek dink die belangrikste deel daarvan is dat ʼn mens nou ʼn keuse het. Ek is al vir agt jaar in ʼn verhouding, maar kies om alles in een seisoen op ʼn slag aan te pak, want ek weet dat ek as Natasha nie ʼn huwelik en Mej. SA gelyk kan aanpak nie.”

Soos die internasionale reëls tans uitgelê is, is dit ook nog nie bekend of Natasha wel vir ʼn tweede keer op die Mej. Heelal-verhoog sal mag wees, sou sy Mej. SA wen nie, maar dít pla haar ook nie.

“Om Mej. SA te wen sal baie meer diepte hê as die geleentheid om as naaswenner vir nege dae op ʼn internasionale verhoog in ‘n blink rok of ʼn bikini rond te loop. Daardie was nooit my doelwit nie en ek het soveel meer om vir ons land te bied. Ek wil die beste Mej. SA wees, enige ander prestasies en titels daarna is net ʼn bonus.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.