Mev. SA het gʼn kommer oor nuwe reëls by Mej. SA

Jo Judnick Wilson, Mev. SA 2022. (Foto: Mrs. South Africa/Facebook)

Volgens organiseerders van die Mev. SA-kompetisie is daar geen kwade gevoelens tussen hulle en die Mej. SA-skoonheidskompetisie nadat die reëls verander het sodat ma’s en getroude vroue nou ook in aanmerking vir die Mej. SA-titel kan kom nie.

Inteendeel, die twee skoonheidskompetisies “vul mekaar nou nóg beter as ooit aan”, sê Joani Johnson, hoof van Mev. SA.

Dít volg nadat die Mej. SA-kompetisie tydens vanjaar se finale ronde – waartydens Ndavi Nokeri as Mej. SA 2022 gekroon is – aangekondig het dat hulle nou ma’s en getroude vroue toelaat om aan dié kompetisie deel te neem.

Mej. SA-organiseerders het in ʼn verklaring verduidelik dié besluit volg nadat die Mej. Heelal-kompetisie aangekondig het dat hulle “ter wille van inklusiwiteit” vir die eerste keer in meer as 70 jaar ook moeders en getroude vroue toelaat om aan hul kompetisie deel te neem.

Volgens Johnson is dié besluit ʼn belangrike stap en aanduiding dat die plaaslike skoonheidskompetisiebedryf ook toenemend vroue van alle agtergronde wil vier.

Daar word vermoed dat dié onlangse verandering gemaak is om in ooreenstemming met die Mej. Heelal-kompetisie te wees, siende dat Mej. SA-wenners die afgelope vyf jaar uiters goed in dié kompetisie vaar.

Twee Mej. SA-deelnemers het in die afgelope vyf jaar die Mej. Heelal-kroon gedra, naamlik Demi-Leigh Nel-Peters (nou Tebow) in 2017 en Zozibini Tunzi in 2019, terwyl Mej. SA 2018, Tamaryn Green, en Mej. SA 2021, Lalela Mswane, albei as naaswenners geëindig het.

Ndavi Nokeri, Mej. Suid-Afrika 2022. (Foto: Mizanne Hattingh/Maroela Media)

Johnson verduidelik verder dat dié twee kompetisies mekaar goed aanvul, aangesien Mej. SA slegs oop is vir deelnemers onder die ouderdom van 28 jaar en Mev. SA boonop vroeër vanjaar hul eie ouderdomsbeperking tot 55 verleng het.

Dit beteken dat getroude vroue en ma’s tussen 20 en 28 jaar oud dus die keuse het om aan enigeen van dié twee kompetisies deel te neem.

“Ons skep platforms vir die bemagtiging van vroue-ambassadeurs van môre en daarom is verteenwoordiging en inklusiwiteit so belangrik,” sê Johnson.

Sy voeg by dat Mev. SA trots is om saam met vroue, ongeag hul ouderdom, ʼn pad te stap terwyl hulle hulself “herontdek” en aktief hul drome najaag.

“Albei programme speel ʼn belangrike rol om vroue deur verskillende stadiums van hul lewe te ondersteun en om hul krag, talent en vasberadenheid ten toon te stel as inspirasie vir ons almal. As Mev. SA wil ons veral graag ʼn rol speel in die omhelsing van inklusiwiteit deur die stigma wat aan ouderdom vaskleef te verbreek.”

Géla le Roux, ‘n voormalige Mev. SA-naaswenner. (Foto: Verskaf)

Géla le Roux, ʼn Mev. SA 2017-naaswenner, sê dit is goed dat ouerskap en huwelikstatus nie meer ʼn faktor vir deelname aan Mej. SA is nie.

“Ek dink nie dit was noodwendig broodnodig om so ʼn verandering te maak nie, omrede daar reeds ʼn platform by Mev. SA is, maar ek dink tog dit is goed dat hulle nou dié geleentheid aan getroude vroue of mammas bied, veral omdat Mej. SA ʼn baie groter platform en internasionale blootstelling vir deelnemers bied.”

Die binnenshuise ontwerper en ma van twee benadruk egter dat só ʼn Mej. SA-ervaring ʼn baie goeie ondersteuningsnetwerk gaan verg, aangesien wenners se programme propvol is en baie tyd weg van die huis vereis. “Ek glo wel dat vroue hul drome moet najaag en enigiets is moontlik as jy ʼn goeie ondersteuningstruktuur het.”

Sy erken dat sy as jong vrou self aan Mej. SA wou deelneem, maar reeds op 21 getrou het en kort daarna ma geword het. “Mev. SA bied egter steeds ʼn wonderlike platform, veral vir ouer vroue, en fokus nie so baie op die ‘skoonheidskompetisie-aspekte’ nie, maar eerder op ʼn vrou se waardigheid in die sakewêreld en in die breër samelewing.”

Andrea Meza, ʼn voormalige Mej. Heelal van Mexiko, het ook dié besluit met ope arms verwelkom en vorige Mej. Heelal-regulasies as “onrealisties” en “seksisties” bestempel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Henri ·

En die titel as mejuffrou, miss, senorita, madamoiselle, ensovoorts? Gaan dit wegval?

Lillian ·

Ag dié ou kompetisie hou niks interessant meer in nie. Dit kan maar geskrap word.

Blikkies ·

Dit het nou al so vals geword, hulle kan dit maar stopsit. Ons almal weet tog waarom die reëls aangepas word.

Waarnemer ·

Belaglik!Hoe kan n mevrou nou skielik weer mejuffrou word?Hoe kan mammie die pligte van n ongetroude dame wie n geweldige groot plig as mej.SA navolg Haar kinders sal vir die jaar as mej SA deur ander mense versorg moet word wanneer sy die land/ wereld vol moet reis ten einde haar land te verteenwoordig.Dit is anders vir mevrou SA omrede haar kinders indien hulle nog aan huis is deur die vrou se eggenoit bygestaan kan word terwyl sy haar pligte as mevr SA moet nakom.
Hierdie is maar net my opinie.

Leah ·

Ek verstaan jou hele argument oor mevrou na mejuffrou en ek stem saam, maar ek self is ‘n jong ma wat baie moet rondreis vir my werk. Ek is baie kere vir weke lank in Afrika, in Suid Afrika in ander provinsies, of in China. Ek gee my kinders nogsteeds dieselfde liefde as n ma wat elke dag by hulle kinders is. Gelukkig weet my kinders dat mamma moet werk om die beste vir hulle te kan gee en dat ek dit doen vir hulle toekoms. Ander mense kyk dalk na my kinders ma ek maak hulle groot en nog steeds in beheer van hulle alledagse lewens en roetines. My man is self werk en is slegs saans tuis, maar my kinders is omring deur liefde of ek nou in China of by die huis is. Mens leer om by so n leefstyl aan te pas jou kinders ook.

AmY ·

Sal hulle dan aan mej Wêreld en Heelal kan deelneem sou hulle wen?

Boatsie ·

En spesifiseer asb duidelik in die reëls hoe vêr mag jy swanger wees.
Alles in die land van ons raak ‘n klug.

Chantel ·

Gaan die naam dan nou ook verander… of het ek dit mis gelees. Actually belaglik

Republikein in die Wes Kaap ·

Sal te pragtig lyk indien die koningin se man en vyf kinders op die verhoog storm om mamma geluk te wens.

Wit Leeu ·

Baie mense het belang verloor die kompetisie ! Gaan maar net aan soos julle wil.

Johann ·

Ter wille van inklusiwiteit…en ten koste van? Volgende is seker weer alle en enige leefstyl keuses?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.