Soektog na vermiste Duitser afgeskaal

Nick Frischke (22) word al byna ’n maand vermis.  (Foto: SAPD)

Die Wes-Kaapse polisie het bevestig dat die soektog na Nick Frischke (22), die vermiste Duitse toeris, afgeskaal is, maar dat hernude pogings om hom op te spoor steeds voortduur.

Die vyf mans wat daarvan beskuldig word dat hulle Frischke beroof het, bly intussen in aanhouding nadat hulle Maandag hul borgtogaansoek in die Wynberg-landdroshof laat vaar het. Hulle het egter nog geen woord gerep oor waar die Duitse jong man moontlik kan wees of wat van hom geword het nie.

Dit is nou al byna ʼn maand sedert sy familie in Duitsland iets van hom gehoor het. Sy selfoon, kredietkaart en rugsak is van die besittings wat in die verdagtes se besit gevind is.

Kol. Malcolm Pojie, polisiewoordvoerder, het Donderdag by navraag gesê verskeie kundiges insluitend polisieduikers, die K9-soek-en-reddingseenheid, provinsiale en plaaslike soek-en-reddingseenhede en talle vrywilligers is ook gereed om bystand te bied waar nodig.

“Hoewel die soektog ná twee weke afgeskaal is, sal ons nou nuwe strategieë volg om die vermiste man op te spoor. Intussen word alle leidrade en inligting sonder uitsondering opgevolg deur die ervare ondersoekspan. Dit het reeds gelei tot die inhegtenisneming van vyf verdagtes wat tans in aanhouding is in verband met die roof van die vermiste persoon,” het Pojie gesê.

Die vyf mans sal na verwagting weer op 4 Mei in die hof verskyn terwyl die ondersoek voortduur.

“Namate die ondersoek ontvou kan meer aanklagte teen die vyf verdagtes aanhangig gemaak word.”

Frischke se broer, Tom, het op sy Facebook-blad geskryf dat hulle steeds hoop het dat Frischke veilig opgespoor sal word.

“So lank as wat hy nie gevind is nie, leef hy. Jy moet slegs ophou hoop wanneer alle hoop verlore is en jy sekerheid het,” het hy geskryf.

Tom het ook op Facebook gevra dat mense hom nie direk kontak met navrae, leidrade en inligting nie, maar alles na die polisie verwys.

Maroela Media het vroeër berig dat Frischke sedert 15 Februarie vermis word. Die gemeenskap van Houtbaai en Kaapstad het Saterdag opnuut na Frischke gesoek deur die nek van Hangberg (Sentinel) by Karbonkelberg te fynkam. Hy is vir die laaste keer in dié omgewing opgemerk toe hy vermoedelik wou gaan stap.

Lede van die gemeenskap het ʼn week gelede ʼn nagwaak vir Frischke gehou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

JohanR ·

Die probleem is hulle sal nie se nie want op die oomblik is hulle net skuldig van roof. As die jong man dood gevind word dan word dit moord.

Nettie ·

Hoekom kry ek die indruk “lede van die gemeenskap” is meer betrokke en bekommerd, as lede van sy familie? Hoe verskriklik. As dit my kind is, sou ek ALS in die stryd werp om minstens een lid van ons familie na die land te stuur om te help soek. En ek sou oop wees vir enige leidrade wat enige iemand aan my sou wou deurgee.

In elk geval, hierdie is verskriklik en ek is so jammer dat hy nog nie opgespoor is nie. Mag die waarheid binnekort uitkom oor wat van hom geword het.

Zollie ·

Dalk beskik hulle nie oor die fondse om iemand te stuur nie, veral as dit vir ‘n onbeperkte tyd moet wees.

Nettie ·

Ek verstaan, maar dit verduidelik nie die “moenie my pla met leidrade” aanmerking van die boetie nie!

TruthDealer ·

Dalk is sy broer onder die indruk dat SA polisie net so goed funksioneer soos die Duitse Polizei. Dit moet vir Europese mense onmoontlik wees om te begryp watter groot verskil daar is in bevoegtheid. Die graad van patetiese onbevoegtheid vd SAP bestaan nie in oorsese mense se verwysingsraamwerk oor die lewe nie. Hulle kan hul dit eerlikwaar nie indink nie. Ek sluit uit my stelling, die handjievol polisiemanne en vroue wat met trots hul werk ordentlik en goed doen. Julle word waardeer soos n kosbare skat.

Amelia ·

Ons weet almal wat is waarheid Die man sal mos nie net als oorhandig het aan die 5 nie

TruthDealer ·

Hy sou, as hy kon sien sy lewe hang af daarvan. Maar sommige rowers het genade, vele het dit nie. So ja ons kan ons afleiding maak, hy het sy goed oorhandig maar dit het hom met hierdie spesifieke groep rowers, nie gehelp nie.

Manie ·

As hulle hom beroof het, het hulle hom waarskynlik ook vermoor, maar speel kat en muis met die treurige polisie om dit te bewys.

Opinie ·

Vat hulle vir n trippie in n chopper, hulle sal sing soos kanaries.

TO ·

Nou vra ek jou, hulle kry sy besittings in besit van die mense maar hulle weer om te praat nee regtig dan moet ander taktiek gebruik word. Weet enigiemand die hel wat mens deurgaan, my seun is vermoor, ek weet na 15 jaar niks, dit maak jou stukke vir stukkkie dood

quartus ·

in die goeie ou dae sou hulle na n afgesonderde plekkie geneem gewees het waar hulle “oortuig” sou word om te se waar die duitser is

Truman Burbank ·

Die ou polisie mag sou al lankal die waarheid uit hulle uit gekry het

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.