Soektog na vermiste motorfietsryer eindig tragies

Nicholas Klingelhoeffer en sy vrou Janique (Foto: Nicholas Klingelhoeffer/Facebook)

Die liggaam van die vermiste motorfietsryer Nicholas Klingelhoeffer (37) is Woensdag gevind.

Ao. Majola Nkohli, woordvoerder van die polisie, sê Klingelhoeffer is Saterdag as vermis aangemeld tydens die Funduro-wedren by Lilyfontein School in Brakfontein, Oos-Londen.

“ʼn Plaaswerker het vanoggend om 10:00 op sy liggaam afgekom. Sy liggaam en motorfiets is in die bosse, sowat ʼn kilometer van die renbaan, gevind.”

Nkohli sê die ondersoek duur voort.

Die Funduro is ʼn jaarlikse motorfiets/kwadfiets-wedren by Lilyfontein School en sluit verskillende roetes in. Die organiseerders het hul innige meegevoel betuig met Klingelhoeffer se vrou, Janique, sy ma Michelle, en sy familie en vriende by die huis. “Mag sy siel in ewige vrede rus en sy familie en vriende omring wees deur ʼn kombers van liefde, ondersteuning en beskerming in dié tyd.”

Just Ride SA het elkeen bedank wat aan die soektog deelgeneem het. “Hy is vanoggend gevind en het ongelukkig beswyk aan sy beserings. Hou asseblief sy familie en vriende in jul gebede. Ons groet ʼn sagmoedige mens. Mag jy in vrede rus, Nick. Ons sal jou nie vergeet nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.