Sol-Tech: Lesufi braak weer gal; Solidariteit versnel planne

‘n Skermskoot van Somadoda Fikeni se inskrywing en Lesufi se reaksie daarop.

Die Solidariteit Beweging gaan sy planne versnel om opvoedkundige instellings met Afrikaans as voertaal vinniger uit te bou.

Die Solidariteit Beweging se nuwe Sol-Tech-kampus word tans in Monumentpark gebou. Dié instelling, wat ambagsopleiding in Afrikaans verskaf, het die afgelope week lof ontvang van ʼn bekende politieke ontleder, maar ook weer onder kritiek van Panyaza Lesufi, Gautengse LUR vir onderwys, deurgeloop.

Somadoda Fikeni, ʼn politieke ontleder verbonde aan Unisa, het foto’s op Twitter gedeel van die vordering wat met die bouwerk aan die kampus gemaak word. Hy het gesê Afrikaners is beslissend en sit nie in “eindelose werkswinkels” nie. “Boere maak ʼn plan,” het hy geskryf.

Lesufi het Fikeni se Twitter-inskrywing gedeel en geskryf: “Nierassigheid is die toekoms en daar sal geen instelling in hierdie land wees wat mede-Suid-Afrikaners sal uitsluit op grond van taal of ras nie. Dit is ’n geveg wat ver van verby is.”

‘n Skermskoot van Lesufi se twiet oor Sol-Tech. .

Lesufi het verlede jaar toe daar met bouwerk aan die Sol-Tech-kampus begin is, ook hewige kritiek gelewer. “Ek haat rassisme wanneer ek dit sien. ʼn Rasgegronde instelling in ʼn nierassige samelewing sal nie slaag nie. Moet ons asseblief nie aan apartheid herinner nie,” het Lesufi getwiet.

Volgens Flip Buys, hoof van die Solidariteit Beweging, is die doel nie om ander uit te sluit of om Afrikaanse studente te isoleer nie, maar juis om die Afrikaanse ruimtes te skep wat dit vir jongmense moontlik sal maak om saam in Suid-Afrika te bly tot voordeel van die land en al sy mense.

“Die doel is ook nie om uitsluitend te wees nie, maar juis om te verseker dat Afrikaans as akademiese taal én Afrikaanse studente ingesluit is. Hierdie instellings is ook oop vir enige anderstalige student wat in Afrikaans wil studeer.”

Lesufi het egter nie net op Twitter gal gebraak nie en ook tydens ʼn spreekbeurt by die Nasionale Raad van Provinsies kritiek op die Solidariteit Beweging se bestaande private instellings gelewer. Hy het ook kritiek gelewer oor die appèlhof se uitspraak oor Afrikaans by Unisa. Die hof het Unisa se taalbeleid, wat Afrikaans in wese afgeskaf het, as ongrondwetlik verklaar.

Hoofregter Mogoeng Mogoeng. (Foto: Jacques Naude/African News Agency, ANA)

Volgens Buys het die Konstitusionele Hof by monde van hoofregter Mogoeng Mogoeng in 2019 in sy uitspraak in die Stellenbosch-taalsaak ’n beroep op die gemeenskap gedoen om self private onderriginstellings ter bevordering van Afrikaans en ander inheemse tale te bou, ingevolge artikel 29(3) van die Grondwet.

“Hoofregter Mogoeng het selfs ’n beroep op korporatiewe welwillendheid gedoen om hulpbronne beskikbaar te maak om sodoende te help om private opleidingsinstellings vir Afrikaans en ander inheemse tale te befonds.

“Hoofregter Mogoeng se versoek dat gemeenskappe self instellings moet bou en dit met eie kapitaal moet finansier om taal te bevorder, is dus presies wat die Beweging, binne die raamwerk van die Grondwet, doen.”

Hy het beklemtoon dat hoofregter Mogoeng se uitspraak voortbou op vele soortgelyke standpunte deur die Konstitusionele Hof ten gunste van Afrikaans en Afrikaanse instellings vir hoër onderwys.

Die LUR vir onderwys in Gauteng, Panyaza Lesufi. (Foto: Mia Slabbert)

Volgens Buys is dit ironies dat Lesufi tydens die debat van die Nasionale Raad van Provinsies gemaan het dat daar nie ’n “super-taal” moet wees nie en dat alle tale gelyk moet wees, terwyl hy doelbewus en met ywer voortgaan om erkende inheemse tale te ondermyn sodat Engels as die enigste “super-taal” van onderrig by instellings voortbestaan.

“Die Solidariteit Beweging, anders as die LUR, staan juis die beginsel van veeltaligheid voor en moedig dus ook enige gemeenskap aan om hul taal deur onderriginstellings te bevorder. Die Beweging is voorts bereid om saam met enige gemeenskap te werk om dít te verwesenlik,” het Buys gesê.

Hy het ook beklemtoon dat die Beweging se opleidingsinstellings ten doel het om wêreldklas in Afrikaans te wees.

Flip Buys, voorsitter van die Solidartiteit Beweging. (Foto: René Roux)

“Die internasionale reg en die Grondwet se vertrekpunt is dat taal- en kultuurgemeenskappe die reg op bestaan en voortbestaan het, en dat hulle instellings mag hê om hulle taal en kultuur na die volgende geslag oor te dra. Enige poging om hulle hierdie reg te ontsê, is ’n totalitêre poging om daardie gemeenskappe te vernietig.

“Daarom is die Solidariteit Beweging se opvoedkundige instellings deel van ons strategie om die kulturele infrastruktuur te bou wat nodig is om dit vir Afrikaners en Afrikaanssprekendes moontlik te maak om vry, veilig en voorspoedig in Suid-Afrika te bly. Die Grondwet se uitgangspunt is juis eenheid in verskeidenheid, en daarom sal pogings om eenvormigheid af te dwing of om minderhede by die meerderheid in te lyf, met alle mag teengestaan word.”

Demokrasie sonder kulturele vryheid, is net vryheid vir die demografiese meerderheid en dus ondemokraties, meen Buys. “Daarom mag aktivistiese politici, wat die multikulturele werklikheid van die land met ’n monokulturele ideologie probeer omskep na hulle politieke beeld, nie toegelaat word om ter wille van goedkoop publisiteit ’n heksejag teen Afrikaans en sy sprekers te voer nie. Dis ’n deursigtige poging om die aandag van die groter onderwyskrisisse in die land af te lei, waaraan mnr. Lesufi ’n groot aandeel het,” het Buys gesê.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

22 Kommentare

jongste oudste gewildste
Sobymykoolkop

My woordeskat te beperk om te verduidelik hoe my hart wil bars van trots oor my volk se skeppende vermoëns. Laat die grootste rassis maar kla en kerm dit maak ons net meer vasberade, sak eerder jou kop in skaamte lesufi oor die brand en vernietiging van die persone wat veronderstel is om ALLE voordele van beee te geniet maar wat tot in lengte van dae sal vernietig omdat julle nie kan opbou en skep nie.

Kokerboom

Hoe kan 48 miljoen mense van kleur na 26 jaar van absolute beheer nog so vreesbevange wees vir 4.7 miljoen ander mense wat deurgaans net welwillendheid toon. Gaan my verstand te bowe. So Soldariteit DOEN jul ding

Anel

Nou wat het jy, lesufi, in jou tyd nou al gebou? Hierdie instelling gaan volgende jaar sy deure open. Binne ongeveer 14 maande nadat bouwerk begin het. Met geen ondersteuning van die regering. Wat het jy om te wys vir al die miljarde van ons belasting geld wat jy jaarliks kry? Hoeveel skole en universiteite wat swarttale bevorder het jy gebou? Nee, jy het gesorg dat omtrent almal afgebrand word en dat daar nue genoeg plekke van opleiding is vir our people nue. Sodat hulle gedwig word om ons instellings te oorstroom. Dsn word jy kwaad as die Afrikaanse kund… Lees meer »

Duwweltjie

Wie is Lesufi nou weer?

JohanR

Wie is die ou? Ek wou ‘n sterker word gebruik, maar bly maar by “ou”! Hy is maar die Gautengse LUR vir onderwys! Hy is nie ‘n koning nie, hy is nie ‘n President nie, hy is nie ‘n god nie…..hy is ‘n LUR vir onderwys. Hoekom is hy die ENIGSTE LUR vir onderwys in die hele Suid Afrika wat heeltyd ‘n gat van homself maak? Die Wes-Kaap LUR vir onderwys Debbie Schäfer bou skole, en maak seker dat by bestande skole dinge regloop. Sy wil nie al die tyd probeer om ‘n taal te verwoes, en Afrikaanse skole en… Lees meer »