Solidariteit sê nee dankie vir dié loonaanbod

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Facebook)

Solidariteit het Woensdag ʼn aanbod op die tafel vir ambagslui van die hand gewys.

Verteenwoordigers van die metaal- en ingenieursbedryf het onder toesig van die Bedingingsraad van die Metaal- en Ingenieursbedrywe (MEIBC) in Boksburg vergader vir die laaste ronde van loononderhandelinge.

Solidariteit sê die finale loonaanbod wat deur die werkgewersorganisasie Seifsa namens verskeie werkgewersorganisasies gemaak is, is só saamgestel dat die verhogings, soos in die geval van die vorige ooreenkoms vir 2021-’24, op die minimum loonskale per poskategorie bereken word.

Die uiteinde daarvan is dat vaardige ambagslui op hoër loonskale ontsaglik benadeel word, sê Gideon du Plessis, hoofsekretaris van Solidariteit.

Du Plessis verduidelik dat die finale aanbod vir die eerste jaar van die ooreenkoms tussen 7% vir ongeskoolde werknemers en 6% vir geskoolde werknemers wissel. Verhogings word egter ingevolge dié ooreenkoms op die laagste loonskale bereken.

“Vir die tweede en derde jaar van die ooreenkoms is die aanbod 6% vir ongeskoolde werknemers en 5% vir geskoolde werknemers ook op die minimum loonskale bereken.

“Aangesien die loonverhogings nie op die werklike lone bereken word nie, sal die ambagslui en ander vaardige werknemers se verhogings tussen 2% en 3% wees, en ná statutêre aftrekkings kom dit in werklikheid op ʼn verhoging van net oor die 1% neer.”

Du Plessis sê verhogings in die vorige driejaarooreenkoms op die minimum loonkoerse is bereken as ʼn kompromis ná Covid-19 wat onder die omstandighede “te verstane” was.

Hy wys egter daarop dat die voortsetting van hierdie “diskriminerende praktyk” vir ʼn verdere driejaartydperk beteken dat ambagslui vir ses agtereenvolgende jaar verhogings van ver benede inflasie sal ontvang.

“Solidariteit is nie gekant teen gunstige verhogings vir ongeskoolde werkers nie, maar is wel ten sterkste gekant teen die lae verhogings wat vaardige werknemers ontvang waarmee die intreevlakverhogings van bo die inflasiekoers gesubsidieer word.

“Die gevolg is dat die gaping in vergoeding tussen ongeskoolde werknemers en gekwalifiseerde ambagslui baie klein geword het,” sê Du Plessis.

Solidariteit se finale eis van ʼn minimum verhoging van 5% op werklike lone is deur die werkgewers verwerp. Solidariteit se bedryfsraad vir die metaal- en ingenieurswesebedryf het die Solidariteit-onderhandelaars dus versoek om nie die ambagslui-onvriendelike ooreenkoms te onderteken nie, selfs al besluit ander vakbonde wat by die onderhandelinge betrokke is om die werkgewers se aanbod te aanvaar.

Du Plessis sê Solidariteit sal waarskynlik nou die voorgeskrewe geskilroete moet volg. Die organisasie doen intussen ʼn beroep op werkgewers om hul vaardige werknemers na waarde te skat.

“Ons vra dat verhogings, soos wat voor 2021 die geval was, op ambagslui se werklike loonkoerse bereken word. Dit sal nie net dié benadeling tot ʼn einde bring nie, maar ook die uittog van vaardige werknemers beperk,” sê Du Plessis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

annie ·

… Uitog van werknemer… Waarheen. Ook na die robot op die hoek? Daar was min kere in die Afrikaners se geskiedenis waar slim onderhandelinge so broodnodig is. Om nie in jou amp bedreig te voel nie, maar oor ander wie se poste erg geraak word, sonder meer meerwaardig lukraak te besluit en dreig, is ietwat erg dom. ‘Ons sal self’ is nie altyd en orals dadelik haalbaar nie. Abrakadabra werk net in storie.

Aggie ·

Wat se waansinnigheid is dit om verhogings op die intreevlak salarisse te maak? Verhogings word normaalweg gemaak op die huidige kerf waarop die werknemer is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.