Solidariteit skryf aan ministers oor brandstofpryse

Argieffoto (Foto; andreas160578/Pixabay)

Solidariteit het Dinsdag skrywes aan die minister van minerale hulpbronne en energie, Gwede Mantashe, sowel as die minister van finansies, Enoch Godongwana, gestuur oor die dramatiese styging in brandstofpryse waaronder Suid-Afrikaners tans gebuk gaan.

“Suid-Afrikaners bevind hulle tans in die benarde posisie waar baie nie finansieel ten volle herstel het van die vernietiging wat die Covid-19-pandemie veroorsaak het nie,” sê Theuns du Buisson, ekonomiese navorser by Solidariteit. “Dit is in die lig hiervan dat ons ‘n beroep op die departement van minerale hulpbronne en energie doen om alle brandstofpryse op beide groot- en kleinhandelvlakke dringend te dereguleer. Ons doen ook ʼn beroep op die departement van finansies om die brandstofheffing te verminder.”

Volgens Solidariteit lê brandstof in die hart van enige ekonomie, en daarom is dit van die uiterste belang dat pryse so laag as moontlik moet wees of ten minste nie kunsmatig hoog gehou moet word nie, om burgers in staat te stel om by die werk te kom en om dit moontlik te maak vir goedere en dienste om hul pad na burgers te vind.

“Die pandemie en jarelange trae ekonomiese groei is ʼn werklikheid terwyl lewenskoste aanhou styg. Een so ’n koste is die brandstofprys, wat tans op die hoogste vlakke in Suid-Afrika se geskiedenis staan. Volgens die jongste VPI-syfers van Statistieke Suid-Afrika is brandstof tans 19.9% duurder as ’n jaar tevore in September 2020. Sedertdien het ons massiewe prysstygings gehad, en spesifiek die verhogings van meer as R1 per liter op elke brandstoftipe aan die begin van November vanjaar,” verduidelik Du Buisson.

Solidariteit voer aan dat toe die kleinhandelprys van diesel gedereguleer is, ons byna onmiddellik ʼn aansienlike daling in pryse gesien het. Petrol is tans sowat 20c duurder as diesel wanneer dit teen R9.37 per liter ingevoer word. Op kleinhandelvlak is die prysverskil egter dikwels meer as R2 per liter, met R16.66 die laagste dieselprys wat Solidariteit kon opspoor – ʼn verskil van R2.88 per liter.

“Soos wat deur die dieselprys aangetoon en bewys word, is deregulering in die publiek se belang. Ons doen dus ʼn beroep op die minister van minerale hulpbronne om petrolpryse op sowel groot- as kleinhandelvlak te dereguleer en om ook dieselpryse op groothandelvlak te dereguleer,” stel Du Buisson dit. “Ons land tel vandag onder die minderheid van lande wie se regerings die huidige mate van kunsmatige prysmanipulasie uitoefen. Om sake te vererger, dring ons regering daarop aan om die prys van sekere brandstowwe kunsmatig hoog te hou, terwyl byna alle ander regerings ingryp om die brandstofprys laer te hou. Dié benadering van die regering strek tot nadeel van alle Suid-Afrikaners wat nog van een van die grootste ekonomiese afswaaie in die wêreldgeskiedenis moet herstel.

“Dit is ons vaste oortuiging dat die voortsetting van bogenoemde prysregulering op irrasionele en onbillike optrede deur die ministers neerkom. Indien die ministers besluit om nie verligting aan burgers te bied nie, kan regsoptrede deur dit in die hof uit te daag, nie uitgesluit word nie,” sluit Du Buisson af.

Om die volledige brief aan die minister van minerale hulpbronne en energie te lees, klik hier.
Om die volledige brief aan die minister van finansies te lees, klik hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Keith ·

Ek se weer…. die meeste van ons brandstof, petrol en diesel word deur SASOL vervaardig. Jy kan dit glo of nie. Ek weet dat dit die waarheid is. En… ons petrol IS n mengsel van petrol , alkohol en LPG. Daarom is ons petrol pryse n’ groot geheimsinige bedrogspul. Dit is hoogs tyd dat die waarheid blootgele word.

Pieter ·

Vyftien jaar terug het my oom by sasol gewerk toe kos dit minder as vier rand om n liter brandstof te maak. Maar nou jou die anc is mos soos aas voels ouer people wil net he en he en ons moet betaal.

Danie ·

Briewe geskryf?
Kan hierdie mense lees?
Moenie asem ophou vir n antwoord nie

Waarnemer ·

Regtig!!!Dink julle regtig julle skrywe aan die regering gaan help?Julle poep teen wind,die ANC kaders sal nie toelaat dat hulle sakke leeg word nie.

kaplyn ·

Nou wat stel jy voor doen ons? Voel jy dalk ons moet dit gelate aanvaar?

Papsak ·

Hulle het te veel heffings verminder dit n bietjie en ons petrol sal nie sky high wees nie hulle weet net hoe om SA lam te le pateties want nie een van hulle kan waarlik SA regeer nie

Nico ·

Hoe lewe die minder gegoede mense met die voedsel pryse wat so hoog is, nogsteeds wen die middelman.

Dirk Mostert ·

1. Ontbind die padongelukkefonds. Ek het dit in 50 jaar nog nooit nodig gekry nie.
2. Ondersoek en ontwikkel die olie/gasbronne langs ons kus, asook ons skaliegasbronne.
3. Vergroot Sasol se produksie van petrol uit steenkool.

Pietertjie ·

En die ministers gaan ag slaan daarop. Soos wat hulle ag slaan op korrupsie, diefstal, bedrog, besoedeling, wanbestuur… die lys is lank.

Swerwer ·

Die hoop dat daar ag geslaan sal word op die briewe, is ‘n skamele hoop. Die Regering en ANC benodig geld en sal die burgers melk tot daar niks meer oor is nie. Die “hoës” moet net weet, hul gaan die hardste val.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.