Solidariteit wil Denel met finansiële krisis help

Solidariteit het ʼn memorandum wat uitvoerbare voorstelle bevat aan Denel se uitvoerende hoof, dr. Danie du Toit, oorhandig as ʼn bydrae om lewensvatbare oplossings te vind vir die talle finansiële uitdagings wat Denel die hoof moet bied.

Dit volg nadat Solidariteit ʼn omvattende opname onder sy lede by Denel gedoen het oor die uitdagings wat die groep in die gesig staar, onder meer korrupsie, finansiële wanbestuur en kontantvloeiprobleme wat bykans verlammende afmetings aangeneem het.

Die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI) het na aanleiding van die opname vyf oorhoofse kwessies wat ʼn bron van kommer is en wat met die groep se huidige krisisse verband hou, geïdentifiseer. Volgens Johan Botha, Solidariteit se adjunkhoofsekretaris, wentel die kwessie wat die meeste kommer bied om die aanstelling en bestuur van personeel en die strukturering van die organisasie se mensehulpbronne.

Botha het daarop gewys dat besorgdheid wat verband hou met verskaffers en verkryging die naasgrootste kwessie. “Lede meen dat verkrygingsprosesse deur politiek eerder as die gehalte van die produkte of dienste wat verkry word, bepaal word. In talle gevalle kan produkte intern verskaf word of andersins kan dit deur privaat maatskappye gelewer word.”

Nog ʼn gebied wat baie kommer wek, hou verband met die onderhoud en aanwending van tegnologie, toerusting en fasiliteite. “Daar bestaan daadwerklike kommer onder ons lede dat sekere bates teen groot koste behou word al dra dit nie by tot die groep se omset nie,” het Botha bygevoeg.

Lede het ook die hoë vlakke van rompslomp wat gepaardgaan met bestaande prosesse in die organisasie as nog ʼn groot bron van kommer geïdentifiseer. “Lede meen dat rompslomp bestuurders se pogings om strategieë in te stel wat tot finansiële voordeel van die groep kan strek, in die wiele ry. Hulle voel ook dat rompslomp verhoed dat hulle gehoor kan word.”

Volgens hom het lede ook aangedui dat daar ʼn duidelike behoefte is om in alle vorme van sake nouer met die privaat sektor saam te werk en dit verdien ook aandag.

“Solidariteit se lede by Denel beskik oor onontbeerlike institusionele kennis, ondervinding en vaardigheid wat ongetwyfeld kan help om ʼn herlewing van die groep te bewerkstellig as dit reg aangewend word. Daarom het ons besluit om ʼn kennisbank te skep en werknemers aan te moedig om daardie kennis waaroor hulle beskik in te span om met voorstelle vorendag te kom om Denel weer winsgewend te maak,” het Botha gesê.

“Solidariteit glo vas hy kan ʼn rol speel om ʼn omkeer by Denel te bewerkstellig en om uiteindelik groei te bewerkstellig.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Boerboel ·

Ek het my vakleeringskap gedoen by Kempton Park. Toe was die fabriek nog genoem Atlas Vliegtuig kooperasie. Nou is dit Denel Aviation. Die opleiding was van die bestes in die land. Dis jammer dat so ‘n reus nou op die grond is. Daar was baie kundigheid. Baie het ook verlore geraak.

GRIPEN ·

dis in 2 gedeel….Denel Aviation en Denel Aerostructures.

Frank ·

Selle paadjie geloop. Na Atlas Kentron toe. Was beide werklik wereldklas, toonaangewende instansies, plekke om op trots te wees! Dink beide het hulle kern personeel lankal verloor. Personeel wat baanbrekende ontwerpe op die tafel kon sit, laterale denkers. Selfde rakende die onderhouds personeel, kennis in hulle koppe wat nêrens in boeke staan nie. By hierdie plekke was die werklike waarde gesetel in die personeel en nie die instansies as sulks nie.

lewies ·

As lid hoop ek dat julle as organisasie die erkenning gaan kry vir die insette wat julle reeds gelewer het en nog gaan lewer, om die visie vir Suid-Afrika vir almal te laat realiseer.

Deneller ·

As hulle net die politiek uit die maatskappy bestuur kan haal kan ons weer vlieg. Binne 12 – 18 maande. Ons is steeds daartoe in staat.

John ·

… droom julle ook nou groot? Ek kan aan baie beter idees dink om geld te mors want die regering sal dit opeis sodra dit grondvat. En waarmee gaan die hofsaak dan befonds word? Miskien kan nog unies sekere groepe annekseer… ‘n paar goud- en platina-myne… wow! Dink enigeen dat die ANC julle sal toelaat om wapens, nogal, te vervaardig? Met ‘n voordanster soos oompie Stefaans, die brawe bekfaaiter, en die Pieter-slaners…

charmaine ·

Ek hoop en bid dit kan uitwerk want dit beinvloed families se kos op die tafel.

AeroEngines ·

Waar is die dryf krag om Denel Kempton Park Kampus EASA akreditasie te kry?!?! Miljoene Rande gaan maandeliks verlore sonder die sertifikasie.

JAN ·

DENEL en hele wapen industrie en uraan verryking is ‘n uiters gevaarlike toksiese bate.
Wat het van ons wapengraad verrykte uraan geword hmmm? 600 kg ?? = ? 20 kernbomme hmm?
Goeie debat hierdie…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.