Sonkrag-korting goed, maar ‘te min’

(Foto: Maroela Media)

Die korting op die koste van sonpanele is goed, maar skiet steeds te kort om hond haar af met die kragkrisis te maak.

Só sê Morné Mostert, AfriForum se bestuurder van plaaslike regeringsake, na afloop van Enoch Godongwana, minister van finansies, se aankondiging dat belastingbetalers van 1 Maart kan aanspraak maak op ʼn 25%-korting op die koste van sonpanele – maar met ʼn beperking op R15 000.

Godongwana het aangekondig dat die staat individue en ondernemings wil aanspoor om sonkragstelsels te installeer en dat die koste daarvan van belasbare inkomste afgetrek kan word.

Dit blyk dat ondernemings vir die koste van die omvattende kragoplossing – wat panele, batterye en wisselrigters insluit – tot en met 125% van die koste daarvan van hul belasbare inkomste kan aftrek.

Mostert sê die korting vir individue behoort nie ʼn uitwerking op die groter kragkrisis te hê nie, maar ondernemings kan daarmee minstens ʼn mate van verligting kry.

“Hoewel hierdie ʼn stap in die regte rigting is, is dit nie genoeg om die leemte in Eskom se prestasie te pak nie.

“Ondernemings kon in die verlede al 100% van die koste van sonkraginstallasies van hul belasbare inkomste aftrek en tot dusver het die vlakke van beurtkrag nogtans toegeneem.”

Mostert meen dat die toelaag ʼn reeks onvoorsiene gevolge vir ander sfere van regering kan hê. Die besluit kan nie net ʼn groot uitwerking op Eskom se tariefaansoeke in die toekoms hê nie, maar ook op munisipaliteite se vermoë om dienste te lewer.

“Munisipaliteite maak verkeerdelik gebruik van kragverkope om hul begrotings aan te vul en beoog om ander dienste ook te finansier.  Die munisipaliteite gaan nog verder struikel om hul grondwetlike pligte na te kom.”

Wes-Kaapse premier Alan Winde sê Godongwana se aankondiging van belastingingrypings om ondernemings en huishoudings aan te moedig om hulle na hernubare energiebronne te wend, is deels in ooreenstemming met dít waarvoor die Wes-Kaapse regering gevra het.

Hy sê die minister moes selfs verder gegaan het, veral vir mense wie se daaglikse lewens aansienlik deur beurtkrag ontwrig word.

“Die korting moet hoër wees en moet oor ʼn langer tydperk strek. Die energiekrisis sal vir baie langer as ʼn jaar met ons wees en as ons die land se regverdige energie-oorgang wil volhou, moet ons ʼn besliste verbintenis tot hernubare energie toon. Die gebrek aan ʼn duidelike plan om langtermyn-energieveerkragtigheid te bereik, bly vir ons ʼn groot bekommernis,” sê Winde.

Hy is wel bemoedig deur die minister wat erken dat die energiekrisis die land se grootste ekonomiese beperking is en dat niks kan gebeur om ekonomiese groei te stimuleer sonder beduidende werk om hierdie ramp op te los nie.

“Die Wes-Kaap gaan harder druk vir meer inwoners om hernubare energie te oorweeg sodat die provinsie onafhanklik van Eskom kan word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

domheks ·

Watter huishouding kan sommer net panele installeer? Daar moet in elk geval nog baie ander uitgawes bygereken word soos bv. batterye, krag opwekker ens. Dit gaan na R200,000 per huis! En die regering wil R15, 000 vergoed – BELAGLIK!

VaalDonkie ·

Ek kon darem al my kantoor inrig met so R10 000 se toerusting sodat ek kan aanhou werk as die krag afgaan. Maar dis net-net genoeg vir ‘n rekener, ‘n paar skerms, en ‘n lig of twee.

Tipper ·

Ek kan dit ook nie bekostig nie, neem maar net my buurman wat langs my bly, hy moes vir baie lank sy kar aan die brand stoot want hy het nie geld vir n battery gehad nie. Sonpanele??

Koen ·

Jy praat twak. Geen kar kan ry sonder ‘n battery nie. En soos alles in die lewe. As jy dit nie kan beskostig nie, bly daarsonder.

Piet parys ·

Die kar se battery was net pap en nie uitgehaal nie . As jy in soweto bly kry jy krag verniet Mahalla so jy praat nonsens .

VaalDonkie ·

Al wat gaan gebeur is dat pryse met 25% of R15000 gaan styg.

Eugene ·

Belaglik. Julle klomp ….. Koppe. Stel minister van sonkrag aan.

Stofdonkie ·

Kan iemand net voorstel dat regering invoerbelasting afskaf op enige alternatiewe energie opwekkings produkte? Sou dit afgeskaf wor dval die pryse van kragopwekkers, sonpanele, batterye, en wisselrigter met ongeveer 70%. Dit sal dan meer bekostigbaar weer vir individue en besighede om sonkrag-stelsels te laat installeer en hulle kan elektrisiteit dan terugvoer in die netwerk in. My skatting is dat sou die regering die invoerbelasting en BTW afskaf op die items dan is die land se hele energiekrisis opgelos in twee maande se tyd

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.