Sonpanele nou in boewe se visier

Foto bloot ter illustrasie. (Argieffoto: pixabay)

Hoe meer kragprobleme in Suid-Afrika opduik, hoe meer sonpanele word weekliks by residensiële en kommersiële gebiede reg oor die land opgerig. Maar terwyl mense spook om die nodige toerusting in die hande te kry om dié alternatiewe vorm van krag te benut, beraam kriminele planne om dit te steel.

Charnel Hattingh, woordvoerder van Fidelity ADT, sê dit het die afgelope tyd duidelik geraak dat kriminele nou sonpanele teiken en steel.

“Ons het die afgelope paar weke verskeie oproepe ontvang van sonpanele wat by eiendomme gesteel word,” sê sy.

“Die meeste van die eienaars vertel dat die sonpanele veral deur die dag gebuit word wanneer niemand tuis is nie.”

Natasha Antonie van Auto & General sê dié versekeraar het in die afgelope jaar sowat 20 versekeringseise ontvang wat met sonpanele verband hou.

Hoewel die meeste van dié eise nie vir diefstal ingedien is nie, meen Antonie dat gevalle waar sonpanele gesteel is, wel meer is as in die verlede toe daar net sowat een of twee gevalle per jaar was.

“Dit is moeilik om vas te stel waar die brandpunte presies is, maar dit is gewoonlik waar daar veral baie kragonderbrekings is of ʼn algehele tekort aan elektrisiteitsverskaffing, soos op plase,” sê sy.

Gert Gous, wat aan die landwye sonpaneelinstalleerder Utility Africa verbonde is, sê dit is boonop nie eens so moeilik om hierdie duur toerusting te steel nie.

“As jy op die dak van ʼn huis of by gemonteerde sonpanele op die grond kan uitkom, is dit baie maklik om die panele te steel,” sê hy.

“Jy kort geen kundigheid nie, net basiese gereedskap. Om jou perseel te beskerm is dus die enigste verweer hierteen.”

Die meeste misdadigers wat sonpanele teiken, is wel opportunisties en sien dit as ʼn geleentheid om vinnig geld te maak.

“Op die oomblik is daar ʼn groot vraag na sonpanele in die land en die wagtyd is tipies tussen vier en ses weke vir panele wat bestel en betaal is,” sê Gous.

“Verder verkoop groothandelaars net ʼn palet vol panele op ʼn slag, so enkelpanele is skaars en as jy dit kry, is dit duur. Om dus selfs net een paneel op ʼn slag te verkoop kan winsgewend wees.”

Volgens Gous het die vraag na sonpanele, veral in die onwettige mark, gegroei weens die voortslepende kragkrisis in Suid-Afrika en die waarde wat nou deur baie burgers daaraan geheg word.

Tog hoef burgers nie te vrees nie, want sonpanele word dikwels saam met ʼn huis verseker, hoewel skade wat aangerig word as gevolg van gewone daaglikse gebruik nie gedek word nie. Skade weens stormtoestande word wel gedek. Daar is dikwels ook nie enige spesifieke voorsorgmaatreëls wat mense moet neem om hulle sonpanele te verseker nie, slegs dat dit deur ʼn goedgekeurde installeerder geïnstalleer word.

Spyt kom altyd te laat

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: pixabay)

Hattingh sê dit is nodig dat almal wat sonpanele het of beplan om dit in die toekoms te kry, een stappie voor opportunistiese kriminele moet wees.

“Dit is belangrik om jou huis minder van ʼn teiken te maak deur dit so moeilik as moontlik vir kriminele te maak om hulle planne suksesvol uit te voer.”

Hoewel dié soort kriminele veral deur die dag toeslaan, is dit nietemin belangrik om jou erf goed te belig en ʼn soort veiligheidversperring te laat installeer soos diefwering, elektriese omheining of alarmstrale (beams) buite om die huis.

ʼn Sigbare teken wat wys dat jou huis deur ʼn gewapende reaksiespan beskerm word, kan as ʼn goeie afskrikmiddel dien, asook ʼn goeie alarmstelsel met kringtelevisie buite om die huis. Die kringtelevisie kan op sy beurt die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) se ondersoek help en opportunistiese kriminele afskrik.

Van die belangrikste advies wat Hattingh kan gee, is om enige soort toerusting of tuingereedskap veilig toe te sluit.

“Moenie toelaat dat jou eie leer die middel is waarmee misdadigers tot op jou balkon of dak kan kom nie,” sê sy.

“Moet ook nooit jou asblik vir dae aaneen buite los nie, want misdadigers gebruik dit om op dakke te klim of selfs die gesteelde goedere in te vervoer.”

Sy sê dit is ook belangrik om enige digte bosse in en om jou erf te snoei, veral as dit ʼn moontlike wegkruipplek vir misdadigers kan wees.

“Bly waaksaam en laat niks aan toeval oor nie. Indien iets verdag lyk in jou woonbuurt, meld dit dadelik by jou private veiligheidsmaatskappy of die polisie aan.”

Fidelity ADT het ook ʼn beroep op slagoffers van dié soort misdaad gedoen om die misdryf by die polisie aan te gee sodat dit as ʼn misdaadstatistiek aangeteken kan word.

“Misdaadstatistieke help die polisie om die nodige hulpbronne aan voorstede toe te ken sodat hulle in samewerking met private veiligheidsmaatskappye menselewens en eiendomme kan beskerm,” sê Hattingh.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

annie ·

… en die kragopwekker laat loop terwyl die eienaar uithuisig is? Het jy een ding is ‘n ander een weer nodig. En ‘n gewapende reaksie-span blyk die beste te wees. Wat van twee spanne ingeval die een span dalk elders op ‘n noodoproep ivm ander dakklimers uitgeroep is? Miskien is daai lastige Kaapse bobbejane bereid om ook elders diens te doen. Is daar opleiding beskikbaar indien een oorgekoop kan word?

Papsak ·

Jy gaan niks behou solank die goed rond loop en kyk waar om ons wittes se goed te grip nie hulle kan net eenvoudig niks uit los nie alles moet hulle sin wees weer korrupt

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.