SOS verwelkom plan om standaard van laerskole te meet

Die Gautengse premier, David Makhura. (Foto: Gertrude Makhafola/ANA)

Die Skoleondersteuningsentrum (SOS) het Gauteng se premier, David Makhura, se eis dat die standaard van onderrig van laerskole in die provinsie gemeet word, verwelkom.

Makhura het Maandag tydens sy provinsiale rede gesê hy het reeds aan Panyaza Lesufi, Gautengse LUR vir onderwys, opdrag gegee om onmiddellik die nasionale geïntegreerde assesseringsraamwerk in te stel. Die laerskole se uitslae sal bekendgemaak word nadat die assessering afgelê is.

“In ’n provinsie waar die departement van onderwys meer gereeld op politiek as die gehalte van onderrig fokus, is hierdie opvoedkundige besluit soos ’n vars bries,” sê dr. Danie Brink, hoof van die SOS.

“Skole (en ouers) wonder dikwels of hulle op die regte pad is en leer wat hulle behoort te leer. Die matriek-eindeksamen bied aan hoërskole in Suid-Afrika die geleentheid om hulself akademies te vergelyk met ander skole en verstellings aan te bring waar nodig. Dit is ’n luuksheid wat laerskole nie meer het sedert die afskaffing van die jaarlikse nasionale assesserings (ANA’s) in 2016 nie.”

Brink meen egter Makhura kan teenstand verwag van onderpresterende of disfunksionele skole wat nie graag hul gebrekkige prestasie aan die groot klok wil hang nie.

“Indien die geïntegreerde assesseringsraamwerk egter benut word om onderwysers te ondersteun en toe te rus om effektief aandag te gee aan leemtes en beter onderrig te gee, sal dit onderwys in Gauteng beslis baat,” sê Brink.

Die SOS het in November verlede jaar die eerste gestandaardiseerde wiskunde-eksamens vir grade 4, 5 en 7 reg oor die land van stapel gestuur in ʼn poging om self die leemte in gestandaardiseerde assessering te vul.

Meer as 6 000 Afrikaanse leerders van 43 skole het die eksamen afgelê.

“Dit het aan laerskole wat vrywillig deelgeneem het die geleentheid gegee om hulself op ’n niebedreigende manier te meet aan hul eweknieë. Waar leemtes in wiskunde geïdentifiseer is, kon skole planne maak om doelgerig aandag te gee aan die probleme. Die SOS se Vereniging vir Afrikaanse Wiskunde onderwysers (VAW) het terugvoer uit die gestandaardiseerde toetse ook benut as riglyn om hul opleidingsgeleenthede vir wiskunde-onderwysers dienooreenkomstig aan te pas,” sê Brink.

Johan Koekemoer, wiskunde-spesialis en hoof van die VAW, sê wiskunde is ’n unieke vak waarin almal nie ewe goed presteer nie. “By die VAW wil ons egter sien dat elke kind sy volle vermoë verwesenlik en geen kind een punt minder kry as dít waartoe hy of sy in staat is nie,” sê Koekemoer. Hy sê die uitslae van die SOS se gestandaardiseerde wiskunde-eksamen wys dat Afrikaanse onderwysers oor die algemeen puik werk doen.

“Waar leerders swak gevaar het, kan dit enersyds die gevolg wees van ’n vreemde vraestel van wie die opsteller nie aan leerders bekend is nie. Andersyds kan dit ’n aanduiding wees van moontlike leemtes in aanbieding van die kurrikulum of oneffektiewe onderrigmetodes,” sê Koekemoer. “Uit die uitslae is dit ook duidelik dat meeste leerders op ’n vroeë ouderdom reeds sukkel met 2D-vorms, lengte, massa en breuke.”

Koekemoer sê die feit dat die SOS se gestandaardiseerde toetse vrywillig deur skole afgelê is, hou die voordeel in dat skole en onderwysers die uitslae as waardevolle terugvoer beskou, eerder as ’n stok om onderpresteerders by te kom.

Die volledige SOS verslag met praktiese aanbevelings vir wiskunde-onderrig in laerskole word in Augustus 2019 gepubliseer en sal tot die Gautengse departement van onderwys se beskikking gestel word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Kobus ·

Julle verwag ‘n ongekookte verslag van Lesufi?? Wanneer word die man beoordeel?

Leon ·

Bring skole inspekteurs terug. Maar jy mag mos nie mense dophou en evalueer nie. Jy mag hulle ook nie oor die vingers tik nie want jy val hulle menseregte aan. Eintlik oortree ons om kriminele te vervolg want ons tas hulle menseregte ook aan as ons hulle vervolg. Dit is ons wonderlike grondwet.

Maljan ·

Gautengseremier en ek dag dis dis n “Wizard of Oz” reklame foto.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.