Sowat 75 beseer ná busongeluk

Paramedici is net na 03:00 na die toneel ontbied (Foto: Verskaf)

Sowat 75 passasiers is Sondag beseer nadat ’n bus naby Tinley Manor op die N2 in KwaZulu-Natal teen ’n tydelike sementversperring in die pad vasgery het.

Paul Herbst, woordvoerder van Medi Response KZN, sê paramedici is net na 03:00 na die toneel ontbied. Volgens inligting het die bus van Umzimkulu na Nongoma gereis toe dit teen die versperring vasgery en omgeslaan het.

Die bus het glo van ’n troue afgekom en die insittendes was familielede en gaste wat die troue bygewoon het.

Die bus het van ‘n troue afgekom (Foto: Verskaf)

Teen die tyd van publikasie was twee passasiers ernstig beseer, sewe het matige beserings opgedoen terwyl altesaam 66 geringe beserings opgedoen het.

Reddingswerkers is steeds op die toneel om beseerde passasiers by te staan.

“Een van die ernstig beseerde insittendes moes met kake van die lewe uit die voertuig bevry word,” sê Herbst.

Die polisie was op die toneel om ondersoek in te stel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Swerwer ·

Sleg as die bestuurder se aandag nie op die pad is nie, en wettoepassing en padreëls verontagsaam en mede passasiers/insittendes se lewens op die spel plaas.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.