Spanne spook nog met Lourensford-brand

(Foto: Johan Botha, streeksbevelvoerder van die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit)

Die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit se brandweer en spanne van CapeNature en die Wynland-brandbeskermingsvereniging spook steeds om die brand te bestry wat vroeër die week op die Lourensford-wynlandgoed uitgebreek het.

Jo-Anne Otto, woordvoerder van die distriksmunisipaliteit, sê die spanne het deurnag eiendomme agter die Mt Fleur-gebied beskerm. “Brandspanne sal Sondag steeds die brand en opruimingsbedrywighede monitor om seker te maak dat enige plek waar die brand weer opvlam, vinnig hanteer word.”

Geen lewensverlies of skade aan eiendomme is aangemeld nie.

Otto sê die brandlyn in die ontoeganklike gebiede strek tans van die gebied bo Mt Fleur oor die berg tot aan die kant van Somerset-Wes. Dit woed steeds buite beheer.

“Vars grondspanne en brandspanne sal vroegoggend die huidige spanne vervang. Daar is kommer dat die wind sal opsteek voor die reën val wat vir later vandag voorspel word. Die rigting waarin die wind waai kan moontlik daartoe lei dat die brand in die rigting van eiendomme beweeg.”

Sy sê die spanne is egter optimisties dat reën wat voorspel word, hopelik hul brandbestrydingspogings sal ondersteun.

“Ons hou ons brandbestryders en spanne in ons gebede. Dit gaan ʼn lang dag wees.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.