Spanning loop hoog in Eswatini

Koning Mswati III (Foto: U.S. Department of State via Wikimedia Commons)

Die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) het Dinsdag gesê politieke spanning verhoog in Eswatini (Swaziland) waar ʼn bekende menseregteprokureur en aktivis vermoor is.

Thulani Maseko is op 21 Januarie doodgeskiet en dit het kommer laat ontstaan oor politieke geweld in Afrika se laaste absolute monargie.

Sy moord het gevolg net ure ná koning Mswati III aktiviste, wat hom teenstaan, gewaarsku het dat hulle nie “trane moet stort” as “huursoldate hulle vermoor” nie.

Daar was tot dusver nog nie enige inhegtenisnemings nie.

“Daar is voortgesette en sporadiese voorvalle van geweld in die Koninkryk Eswatini,” het Namibiese president Hage Geingob, voorsitter van die SAOG-komitee oor politiek, verdediging en veiligheid, gesê. “Dit dui op verhoogde spanning.”

Hy sê die voorvalle gebeur “ongelukkig terwyl die streek daarop fokus om ons sustersland te help om vreedsame oplossings te vind”.

Geingob het sy toespraak gelewer tydens ʼn buitengewone vergadering van die paneel in Windhoek. Pres. Cyril Ramaphosa en Windshoek se Hakainde Hichilema het ook die vergadering bygewoon.

Maseko (52) het onverpoosd baklei teen staatsverdrukking in die koninkryk waar opposisiepartye verbied word. Hy het ʼn koalisie van politieke, burgerregte en godsdienstige groepe gelei wat in November 2021 tot stand gekom het. Die koalisie wou ʼn dialoog aanknoop met die koning en wou ʼn oplossing vind vir die krisis.

Hy is deur ʼn ruit by sy huis in Luhleko geskiet, sowat 50 km buite die hoofstad Mbabane.

Eswatini, ʼn land met 1,2 miljoen mense, probeer om opstande te onderdruk en politieke partye word sedert 1973 verbied.

Minstens 37 mense is dood tydens die weke van teen-monargie-betogings in Junie 2021.

Die SAOG is ʼn groepering van 16 lande in die Suider-Afrika.

Die Windhoek-vergadering het gefokus op konflik in die streek met ʼn spesiale fokus op Mosambiek, die Demokratiese Republiek van Kongo en Eswatini.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.