Spar-eienaars na arbeidshof oor miljoene se arbitrasie

(Argieffoto: Spar)

Die Giannacopoulos-groep, eienaar van meer as 40 Spar-winkels, het hom nou tot die arbeidshof gewend nadat die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) hom beveel het om R11 935 478 vir onder meer onwettige aftrekkings en oortyd te betaal.

Die Giannacoupolous-groep sê die KVBA het die beslissing op 13 Februarie gemaak, maar hy het byna twee weke later eers daarvan bewus geword toe die departement van arbeid ʼn mediaverklaring oor die beslissing uitgereik het.

Hy gaan in ʼn dringende aansoek die arbeidshof vra om die KVBA se beslissing te hersien en ter syde te stel.

Die stryd tussen die groep en die departement van arbeid sleep nou al geruime tyd voort. Die groep het vroeër gesê hy verskaf werk aan bykans 3 000 mense en dat die stappe teen hom ʼn bespotting van Suid-Afrika se arbeidswetgewing maak. Volgens die groep voldoen al sy winkels aan arbeidswetgewing en is die departement deeglik bewus daarvan.

Die Giannacoupolous-groep voer ook aan die Spar-groep en -gilde sit agter die “vlaag aanvalle teen hom”.

Christo Giannacopoulos, wat agt van die geraakte winkels besit, sê nou in ʼn beëdigde verklaring daar was heelwat korrespondensie oor spesifieke kwessies en dat die laaste daarvan ʼn brief was wat in besonderhede verduidelik dat die winkels alle bepalings nagekom het. Hy het geen antwoord hierop gekry nie.

Giannacopoulos voer aan KVBA-kommissaris Segokodi Thoka het die wetgewing verontagsaam deur nie die saak vir ʼn arbitrasieverhoor te verwys nie, veral omdat daar groot dispute is rakende die voldoeningsbevele.

“Enige billike kommissaris in dié posisie sou die feitelike dispute vir arbitrasie verwys het. Dit is so ooglopend dat die kommissaris verskeie growwe onreëlmatighede tydens die proses begaan het.”

Die Giannacopolous-groep se regsverteenwoordiger, Mary Erlank, sê dit het sedertdien aan die lig gekom dat sommige werkers selfs te veel betaal word. Van die name op sommige van die voldoeningsbevele – wat selfs later by die arbitrasiesaak gebruik is – is boonop vals name of dié van werkers wat glad nie betrokke is nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

koos10 ·

Iemand soek jou winkels. Moenie verbaas wees dat hulle dit gaan regkry nie. Dis ‘n wettige “onteiening sonder vergoeding” roete.

Nie Verbaas ·

Ek stem saam. Daar is meer agter die “belangstelling” in die groep se sake. Dis ooglopend.

MIA ·

Hulle soek jou winkels, want dis nie geld in hulle sakke nie Mnr Giannacopolous!!

HOOP ·

Hulle het seker te groot geword vir die Spar groep , hulle wou dalk die kitaar ook slaan en dikteer as hulle 40 winkels besit en die Spar groep en Gilde het nie daarvan gehou nie , moenie verbaas wees as die Spar groep die winkels oorvat dit is dalk goedkoper om vuil te speel as om die winkels vir hulle waarde by die eienaars te koop.Hoop hulle regsverteenwoordiger weet wat sy doen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.