Speaker bedank

Nosiviwe Mapisa-Nqakula (Junie 2022) (Foto: GCIS)

Nosiviwe Mapisa-Nqakula het met onmiddellike inwerkingtreding as speaker van die Nasionale Vergadering én as lid van die parlement bedank.

Mapisa-Nqakula, wat haar na verwagting vandag (Woensdag) by die Lyttelton-polisiekantoor sou oorgee, het reeds haar bedankingsbrief by die waarnemende speaker, Lechesa Tsenoli, ingedien.

Sy het egter nog nie by die polisiestasie opgedaag nie.

“Ek het hierdie bewustelike besluit geneem om my tyd en fokus te wy aan die aangekondigde ondersoek teen my deur ons land se wetstoepassingsagentskappe,” sê Mapisa-Nqakula in ’n verklaring wat laatmiddag uitgereik is.

Mapisa-Nqakula stel dit egter in die verklaring duidelik dat haar bedanking “geensins ’n aanduiding van skulderkenning” is nie.

“Ek het hierdie besluit geneem om die integriteit van ons parlement te handhaaf, ’n gerespekteerde instelling van ons regeringstelsel, wat die mense van Suid-Afrika as geheel verteenwoordig.

“Die posisie van die speaker van die Nasionale Vergadering van die Republiek van Suid-Afrika is van kritieke belang in die heropbou en ontwikkeling van ons land.

“Gegewe die erns van die veel-gepubliseerde aantygings teen my, kan ek nie in hierdie rol voortgaan nie. As ’n hoofwetgewer van ʼn land het ek ’n sentrale verantwoordelikheid om die integriteit van die parlement te beskerm en te bewaar deur te seker te maak dat my optrede verseker dat sy heilige werk sonder beletsel voortgaan.”

Mapisa-Nqakula sê dan sy vertrou dat sy op die regte tyd die geleentheid gegun sal word om op die bewerings teen haar in te gaan, “op watter tydstip ek my goeie naam in ere sal herstel. Ek handhaaf my onskuld en is vasbeslote om my goeie reputasie te herstel.”

Mapisa-Nqakula sê sy bly ’n toegewyde lid van die ANC.

“Deel van die beginsel waarvoor ek en baie ander kamerade geveg het, is die beginsel dat elke Suid-Afrikaner onskuldig geag moet word totdat jy skuldig bewys word.

“Gegewe die openbare vertroue wat aan my as speaker van ons Nasionale Vergadering toevertrou is en die behoefte om die beeld van ons organisasie die African National Congress te beskerm, het ek ’n verpligting, ten spyte van die beginsel dat ek onskuldig geag moet word, om uit my amp te tree.”

Mapisa-Nqakula het ook ’n brief van dank aan die ANC gerig om die leierskap van haar besluit in te lig en die ANC te bedank vir die geleentheid om as speaker van die parlement te kon dien.

“Ek bly ’n toegewyde lid van die African National Congress, ’n beweging aan wie ek my hele politieke lewe lojaal gebly het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Ore ·

Help asb. Indien ek ‘n wet oortree sal die SAPD gou wees om my te arresteer. Indien ek reg verstaan, word daar nou gewag dat sy wanneer dit haar pas sal aanmeld vir arrestasie. Werk dit so of verstaan ek nie reg nie?

Cecilia ·

SY het nou genoeg geld om aftetree, sy gaan land uit gaan. SAPD moet vinnig speel…..

Gert ·

Ja hoogdawerende mevrou! As die “frying pan” te warm word, moet mens maar spring! In my opinie is haar oorgawe aan die gereg ‘n aanduiding dat sy grof skuldig is. Vat haar!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.