Speaker skop teen komitee om Phala Phala te ondersoek

Pres. Cyril Ramaphosa (Foto: STEFAN HEUNIS/AFP)

Nosiviwe Mapisa Nqakula, die speaker van die nasionale vergadering, het ʼn versoek deur die leier van die amptelike opposisie van die hand gewys om ʼn ad hoc-komitee aan te stel om bewerings van diefstal by pres. Cyril Ramaphosa se wildsplaas, Phala Phala, te ondersoek.

John Steenhuisen, leier van die DA, het die speaker skriftelik versoek om ʼn komitee aan te stel kragtens die reëls van die nasionale vergadering wat bepaal dat só komitee aangestel kan word wanneer die vergadering vir meer as 14 dae verdaag het. Só komitee kan deur die speaker aangestel word nadat sy die hoofsweep en die mees senior sweep van elk van die ander partye genader het.

“In haar brief het die speaker die versoek van die hand gewys,” het Moloto Mothapo, woordvoerder van die parlement, Saterdag gesê. “Sy voer aan dat reël 253 vereistes vir die aanstelling van ʼn ad hoc-komitee uiteensit. Een daarvan is die uitvoer van ʼn spesifieke opdrag. Alhoewel die versoek ʼn komitee voorstel oor Phala Phala, is daar ʼn lys met verskeie opdragte vir die ondersoek. In die aard van die voorgestelde ondersoek, is dit te begrype, maar sommige van die opdragte val ongetwyfeld binne die bestek van ander entiteite of instansies, insluitend wetstoepassing. Dit is moontlik dat dit te syner tyd die aandag van die parlement sal verg.”

Volgens die speaker is die verskillende komponente wat Steenhuisen uitgelig het vir parlementêre ondersoek, in hierdie stadium eerder geskik vir bestaande parlementêre oorsigtelike strukture.

Die speaker het ook die African Transformation Movement (ATM) se mosie van die hand gewys om die president kragtens artikel 89 van die Grondwet te verwyder. Mapisa-Nqakula het in haar brief aan Vuyo Zungula van die ATM verduidelik dat sy nie uit sy skrywe kan bepaal op watter gronde in artikel 89(1) hy staatmaak nie. Die reëls van die nasionale vergadering bepaal dat die mosie spesifiek beperk moet word tot ʼn grondige aanklag wat duidelik uiteengesit is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Yvonne ·

Dit wat in die donker gedoen word sal aan die lig gebring word…..so se die Woord…..so ek vertrou eerder daarop!

john ·

Ja wat verwag jy van die ANC almal n klomp skelms wat mekaar beskerm.

honeybee ·

Ja wat hier van sal niks van hom nie, alles sal onder die mat gevee word.

goodCOP ·

Jy kan mos nou nie die ou wat vir jou ʼn pos met ʼn vet salaris gegee het ondersoek nie. Dis net nie reg nie

Realis Thailand ·

Dit is mos hulle maatjie.Daar sal nooit toegelaat word dat hy voor enige komitee sal verskyn
Wie dink dit sal toegelaat word leef in n droomwereld

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.