Speaker tuis; ‘geskok’ oor berigte van arres

Nosiviwe Mapisa-Nqakula, speaker, het bewerings dat sy in hegtenis geneem is, weerlê. (Foto: GCIS)

Die speaker van die parlement, Nosiviwe Mapisa-Nqakula, en haar gesin is tuis en het “geen gesprekvoering met die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) se ondersoekdirektoraat gehad ná ʼn deursoek-en-beslagleggingsoperasie” Donderdag by haar huis gedoen is nie.

Luidens ʼn verklaring van die parlement was die speaker “geskok” deur berigte van haar inhegtenisneming en die voortgesette mediaverhoor waaraan sy onderwerp word.

“Die land het vanoggend wakker geword met ʼn media-dolheid en nuus dat die speaker … in hegtenis geneem is of haar aan die polisie oorgegee het in verband met die NVG se ondersoek teen haar,” lui die verklaring.

Die berigte is as “onwaar” en ʼn “versinsel” bestempel.

Maroela Media het vroeër berig dat die speaker nou ʼn dringende hofaansoek ingedien het waarin sy die manier waarop die lasbrief vir die deursoek-en-beslagleggingsoperasie bekom is, asook die operasie op sigself betwis. Dié stap is bevestig.

“Sy eis ook, binne haar regte, dat sy volle toegang tot alle wesenlike inligting wat met die saak verband hou, gegee word. Dit sluit in die volledige dossier, sodat sy haar verdediging kan voorberei teen wat sy beskou as grondelose bewerings teen haar.

“In die hofstukke doen die speaker ʼn beroep op die NVG om die besonderhede van die saak teen haar bloot te lê omdat dit oënskynlik reeds aan die media gegee is. Dit onderwerp haar aan ʼn verhoor deur die media, sonder enige manier om haarself teen hierdie openbare bewerings te verdedig en dit te verwerp.”

Mapisa-Nqakula is intussen steeds met spesiale verlof terwyl sy voorberei om haar teen die “bewerings en flagrante en straffelose skending van haar goeie naam te verdedig”.

“Die speaker se regspan sal enige verwikkelinge in die saak aan lede van die publiek en die media bekend maak.”

‘Verrotting’ in weermag strek diep

ʼn Storm woed om Mapisa-Nqakula se kop nadat die DA vroeër ʼn klagte teen haar by die parlement se gesamentlike komitee oor etiek en ledebelange ingedien het. Die klagte spruit uit ʼn verklaring wat die eienaar van Umkhombe Marine by die onafhanklike ondersoekdirektoraat (OD) ingedien het. Die maatskappy lewer vragvervoerdienste vir die weermag.

Die sakevrou Nomba Ntsondwa-Ndhlovu het luidens berigte beweer dat sy tussen November 2016 en Julie 2019 tot R2,3 miljoen in kontant aan Mapisa-Nqakula, destyds die minister van verdediging en militêre veterane, betaal het.

Mapisa-Nqakula is in Augustus 2021 tot parlementêre speaker verkies en Thandi Modise het haar as minister van verdediging opgevolg.

Mapisa-Nqakula is egter toe al betrek by bewerings dat ʼn verdedigingskontrakteur omkoopgeld aan haar betaal het en dat sy R7 miljoen op huurvlugte en duur hotelle geblaas het. Die parlement se staande komitee oor verdediging het later dieselfde jaar ʼn span aangewys om dié bewerings te ondersoek.

Dr. Pieter Groenewald, VF Plus-leier, sê die optrede teen Mapisa-Nqakula wys hoe “diep die verrotting in die weermag strek” en verwelkom die optrede ná bewerings dat die speaker omgekoop is met “geskenke” van weermagkontrakteurs terwyl sy minister van verdediging was.

“Die party hoop die saak word spoedig afgehandel sodat reg en geregtigheid kan geskied.”

Groenewald sê die optrede sal hopelik ook ʼn einde bring aan “die ANC se gebruik oor byna drie dekades om die weermag as sy eie spaarvarkie te gebruik en kaders op hoogste vlak te ontplooi”.

Dit het begin met die wapenskandaal en later is selfs Denel tot op die been gestroop.

“Daarby was daar voortdurende besnoeiings aan die weermagbegroting tot op ʼn vlak waar die land se vermoë om homself te verdedig ernstig bevraagteken word en sy wapenbedryf feitlik vernietig is.

“Die parlement het oor die afgelope jare verskeie kere gehoor dat dringende ingrypings nodig is om die land net weer ʼn beperkte verdedigingsvermoë te gee.

“Mapisa-Nqakula was in die tyd van die groot agteruitgang en verval die minister van verdediging en militêre veterane,” sê Groenewald.

Van die skandes wat aan die lig gekom het terwyl sy minister van verdediging was, sluit in die omstrede Gupta-landing by die Waterkloof-lugmagbasis, die gebruik van ʼn lugmagvliegtuig om ANC-lede na Harare te neem en die leemtes in die weermag wat duidelik geblyk het met die onrus in 2021, sê hy.

“In 2021 reeds het fluitjieblasers na vore gekom met bewerings dat Mapisa-Nqakula miljoene rande van weermag-kontrakteurs ontvang het.

“Daaroor is wyd in die media berig en sy het dit deurgaans ontken.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Pietertjie ·

Hier kom Zuma vers twee. Of is dit nou vers drie? Of vier?

Blomkool ·

Die land is geskok oor die anc se hounding teen oor die land se burgers en wette

Leeubekkie ·

Jou optrede en slegte besluite het jou nou ingehaal,
Nosiviwe Mapisa-Nqakula. Waarom geskok?

skurweberg ·

Nou het hulle ook nog ‘n weermag geword van krimenele waar dit eers ‘n weermag was wat alle mense in SA teen krimenele te beskerm. Now they have also become a army of criminals where it was an army who protect all people in SA from criminals.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.