Speaker vra toegang tot ganse dossier

Nosiviwe Mapisa-Nqakula (Junie 2022) (Foto: GCIS)

Die beleërde parlementêre speaker, Nosiviwe Mapisa-Nqakula, gaan ʼn dringende aansoek by die hooggeregshof in Pretoria ingedien waarin sy vra vir ʼn bevel wat haar inhegtenisneming verbied.

Mapisa-Nqakula word van korrupsie verdink nadat sy glo tydens haar termyn as minister van verdediging omkoopgeld van miljoene rande aanvaar het. Die onafhanklike ondersoekdirektoraat het Dinsdag ʼn klopjag by haar huis in Johannesburg gedoen en daar is wyd bespiegel dat haar inhegtenisneming op hande is.

Sy het haarself luidens berigte Vrydagoggend vroegoggend by die Pretoria-Sentraal-polisiestasie oorgegee en sou glo later vandag in die Pretoriase landdroshof verskyn.

Kort gelede het dit egter geblyk dat Mapisa-Nqakula nié in hegtenis geneem is nie.

Mapisa-Nqakula voer nou aan die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het nie ʼn sterk saak teen haar nie en sy kom met ʼn dringende aansoek om haar inhegtenisneming te stuit. In die hofaansoek vra sy onder meer dat die hof die nasionale direkteur van openbare vervolging en die minister van polisie verbied om haar in hegtenis geneem.

Sy vra voorts vir toegang tot onder meer die “hele polisiedossier”. Dit sluit in toegang tot alle informantdossiere, navraagdossiere en notaboek-inskrywings van diegene betrokke by die ondersoek – hetsy polisiebeamptes en lede van die NVG of ander betrokkenes.

Die aansoek lui voorts dat sy toegang vereis tot die “ganse ondersoek, insluitend die ondersoekdagboek of logboek, alle getuieverklarings en alle werklike bewyse wat deel vorm van die ondersoek deur die agente van die tweede respondent [die minister van polisie] en/of die derde respondent [Bheki Manyathi]”.

Mapisa-Nqakula vra in die aansoek ook dat ʼn “datum met die applikant [Mapisa-Nqakula] se prokureur van rekord bepaal moet word” oor wanneer sy in die landdroshof moet verskyn.

Sy ontken die bewerings teen haar en het vroeër aangedui dat sy haar volle samewerking in die ondersoek sal gee.

Mosie van wantroue teen speaker

Die DA, wat al herhaaldelik ʼn oproep op die beleërde parlementêre speaker, Mapisa-Nqakula gedoen het om te bedank, het intussen ʼn formele mosie van wantroue in die speaker ingedien.

“Die DA het kennis geneem van die ‘spesiale verlof’ wat die speaker oor die aanklagte van korrupsie en geldwassery, wat luidens berigte meer as R4 miljoen beloop, aangekondig het,” sê Siviwe Gwarube, hoofsweep van die DA.

Die party sal nou aan alle partye met verteenwoordiging in die parlement skryf om hul steun te vra om die speaker uit haar amp te laat verwyder.

“Die reëls van die parlement maak nie voorsiening vir ʼn eensydige besluit oor ‘spesiale verlof’ vir ʼn [parlements]-lid nie.”

Dié verlof kan net deur ʼn volle sitting van die huis toegestaan word en dan deur ʼn formele mosie wat ingevolge parlementêre reëls aanvaar word. Alternatiewelik kan ʼn lid vyf dae spesiale verlof, met vergunning van hul politieke partye, toegestaan word. “Gegrond op gisteraand se kommunikasie van die ANC lyk dit nie of dit die geval is nie,” sê Gwarube.

“Die spesiale verlof is niks meer as ʼn wegskrampoging nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

Amelia ·

Sy doen aansoek vir dossier ander sake kan tot 4 jaar uitgestel word hoekom kry sy spesiaale behandeling

skurweberg ·

Jou beurt is jou beurt… Die ander kaders en skelms se beurt sal kom.

koos10 ·

Haar regspan is eers geregtig op die dosier en inhoud wanneer sy formeel aangekla is in die hof. Wil sy nou haar eie reëls maak?

domheks ·

Zupta het die klomp mooi geleer! Uitstel, uitstel, uitstel en hoop vir AFSTEL! Want sy is mos ‘n kader …

Mariana ·

Liewe hemel maar sy is aanmatigend. Beveel, beveel, beveel. Wat maak haar anders as ander korruptes? Nee geen spesiale vergunnings vir haar nie, sy moet deur die proses gaan soos enige ander krimineel en dan in ‘n hof gaan staan om rekenskap te gee……maar helaas weet ons almal dat sy sal wegloop met klop op die skouer en geen haan sal weer daaroor kraai nie, sy is ANC en hulle word beskerm.

Republikein in die Wes Kaap ·

Haar dokter sal haar seker op siekverlof plaas.

domheks ·

Vergeet om te se. as sy weet wie die fluitjieblaser is hou ons more begrafnis!

Pierre ·

Ek sal altyd as jy niks het om weg te steek nie sal jy oor niks bekommerd hoef te wees nie, die wal gooi spreuk boekdele, waarom wil sy volledige dossiere het, sy is nie aangekla nie en het geen reg op bewys stukke nie.

Marinda ·

Hul moet onthou die wiel draai, al draai dit bietjie stadig in SA, erens kom jou streke tot n einde. Wag maar, jul sal sien.!

Anel ·

Wie dink sy is sy? ‘n Skelm, dis wie. Hoort in die tronk net soos al haar kader maatjies!!!!

Andre ·

Dié omkoopgeld misdaad is nog niks!

Wat van haar sameswering om ‘n staatsgreep te pleeg in Julie 2021 toe sy Minister van Verdediging was?

Die groter misdaad waarvoor sy moet teregstaan is hoogverraad?

Casper ·

Haar regsverteenwwordiger kan aansoek doen vir afskrifte van die dossier nie
sy nie,en dit eers nadat sy in die hof verskyn het.Haar saak sal etlike male uitgestel word vir die ondersoek en eers as die saak op verhoor gaan kan die prokureur insae he in die dossier ter voorbereiding.As sy nou insae het kan hulle enige verdere dokumente wat bygevoeg word bevraagteken.

Casper ·

Wees as die direkteur van openbare vervolging die dossier ontvang het en ‘n beslissing gemaak het sal sy of gedagvaar word om in die hof te verskyn of gearresteer word.Sy kan nie voortydig aansoek doen vir ‘n hofdatum nie.Ek twyfel of sy al aangekla is.

Blomkool ·

Dan Kan almel Mos dit doen. Lekke om Bo die res van die mense te wees

Piet Snot ·

Dis algemeen om afskrifte v getuieverklarings vd Staat te kry. Om die res te vra, is bloot ‘n “fishing expedition” deur die Verdediging.
Niks daarmee verkeerd nie; blote taktiek.

Sobymykoolkop ·

O jy kry so bevel nê. Nie geweet nie nou leer ek ook iets.

Shakespeare ·

Mors van tyd en geld.
1. SAP onbevoeg.
2. Regslui is uitverkoop.
3. Sy is ‘n kader.
4. Die ANC sal die saak laat doodloop.

Leeubekkie ·

My pa en ma het altyd gesê: Jy het jou bed opgemaak, nou moet jy daarop slaap. Nou moet sy maar die gevolge dra. Geregtigheid sal geskied. Al is dit dalk nie op die aarde nie, dan eendag daarbó. Vir ons almal.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.