Speurder in hof oor jong pa se skietdood

Armand Swart by sy ouers, Christo en Ronel.

’n Speurder van Johannesburg is een van drie mense wat verdink word van die sluipmoord op ʼn jong pa verlede week voor sy werkplek in Vereeniging.

Ao. Michael Pule Tau (54) het saam met Tlego Floyd Mabusela (46) in die landdroshof in Vereeniging verskyn ná die moord verlede Woensdag op Armand Swart (30).

Die saak is tot 30 April uitgestel, wanneer die drie beskuldigdes om borgtog sal aansoek doen. Die derde verdagte, Musa Kekane (36), was in die hospitaal.

Die drie word ook aangekla van sameswering om moord te pleeg, die besit van ongelisensieerde vuurwapens en klagte wat verband hou met die besit van ongelisensieerde wapens.

Swart se pa, Christo, sê sy jonger broer, Juandré, het hom Woensdag kort ná die skietery gebel en gesê hy moet dadelik kom, Armand is geskiet. “Toe gooi ek alles neer, spring in my bakkie en jaag om daar te kom.”

Q-Tech in Van Riet Lowestraat in Duncanville is sowat vier kilometer vanwaar Christo by ʼn hidroulika-maatskappy werk.

Christo en sy vrou, Ronel, woon in ʼn tuinwoonstel op Armand se erf in Vanderbijlpark.

Vir Armand se naastes is sy moord nog ʼn raaisel. “Ons soek graag antwoorde dat ʼn mens bietjie vrede kan vind,” sê Christo.

Hy sê dit gaan baie swaar met sy skoondogter, Velisha (29). Die egpaar het twee seuns van nege en drie jaar oud. “Hy was mal oor visvang. Ek en hy en sy negejarige het altyd gaan visvang.”

Armand was die broodwinner. Velisha is ʼn tuisteskepper wat bedags na die egpaar se kinders omsien.

Pa en seun het tot sowat drie jaar gelede saam gewerk by ʼn maatskappy in Towerville.

Nadat die polisie inligting opgevolg het, is die verdagtes in Bramley in Johannesburg in hegtenis geneem. Vuurwapens, waaronder ’n ongelisensieerde AK47-aanvalsgeweer, twee handwapens en ammunisie is gevind. ’n Ander voertuig, wat met die aanval verbind word, is opgespoor en ʼn handwapen, ammunisie en leë patroondoppies daarin gevind. Bramley is sowat ’n uur se ry vanwaar Armand vermoor is.

Swart het vroegoggend voor sy werkplek in ’n stortvloed van koeëls gesterf, terwyl hy in sy wit Ford Ranger-bakkie gewag het vir die outomatiese hek om oop te maak. ʼn Wit Hyundai i20 het langs hom ingetrek en op sy voertuig begin skiet.

Swart was ʼn CNC-programmeerder, ʼn persoon wat programme skryf vir masjinerie om materiaal te sny, maal of boor.

Dit is die tweede kind wat Christo en Ronel aan die dood afstaan. Hulle ander seun, ook Christo, het 13 jaar gelede op die ouderdom van 17 sy eie lewe geneem. “Ons gaan Armand langs sy broer begrawe.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Delia ·

Hierdie is n sluipmoord, maar ek wonder of hulle nie die verkeerde ou geskiet het nir.

domheks ·

Innige simpatie met naasbestaandes. Hoop geregtigheid geskied.

Casper ·

Hoekom sal dit ‘n sluipmoord wees.Wat het hulle teen hom gehad?Duidelik was hy die teiken of soos Delia sê,miskien het hulle die verkeerde persoon geskiet.Het hy dalk iets van hulle geweet.Ek gaan my kop op ‘n blok sit dat dit nie hulle eerste moord was nie.Hulle kon selfs deur iemand gehuur gewees het,niemand sal weet nie.Klink soos ‘n moordbende.

Linda ·

Dit is verskriklik, elke dag net moorde. Ek bid die Here se bystand aan die familie.

Alliwyn ·

Georganiseerde misdaad en dis bemoedigend dat die polisie so vinnig n deurbraak gemaak het. Tegniese Afrikaans sterf uit… Numeriese programmeerder vir frees masjiene en of draaibanke.

Papsak ·

Hulle mag mos doen wat hulle wil kom weg met alles hierdie was pure moedswilligheid regtig hoop hulle word ver gebere sterkte aan familie hy was nog so jonk gewees is hartseer !!!!!!

Martie ·

O die swaar en hartseer van ‘n kind verloor kan jy aan geen mens beskryf nie. Dis asof jou eie lewe tot stilstand kom. In SA word jy sommer net vermoor omdat die meeste inwoners daarmee grootgeword het.

Di ·

Iemand sit agter hierdie “huurmoord”. Kan nie sien dat hierdie man enigsins iets verkeerd kon doen nie. Soos ander hierbo se, dalk is verkeerde persoon geteiken!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.