Speurder nou op die spoor van vermiste vrou

Silvia Wittal (45), ‘n ma van twee, word steeds vermis. (Foto: Verskaf)

’n Gesoute speurbeampte is aangewys om die vermiste Silvia Wittal, ʼn Duitse burger van Richmond Hill in Gqeberha (Port Elizabeth), op te spoor.

Kol. Priscilla Naidu, woordvoerder van die polisie, sê konst. Ridwaan Baatjies van die Humewood-speurtak het die ondersoek oorgeneem. Baatjies sal alle moontlikhede ondersoek en die moontlikheid van selfmoord óf gemene spel word nie in dié stadium uitgesluit nie.

Wittal, ’n Duits-onderwyseres, word sedert die begin van die jaar vermis.

Daar word beweer dat Wittal se eksman, Kevin Crouse, die laaste persoon was om van haar te hoor toe hulle op 30 Desember oor die telefoon gepraat het. Crouse het haar op 2 Januarie by die polisie as vermis aangemeld.

Die polisie het reeds ʼn paar dae ná haar verdwyning Wittal se motor, ʼn silwerkleurige Kia Picanto, tydens ʼn uitgebreide soektog by Schoenmakerskop gevind.

Daar word vermoed dat die voertuig vir ongeveer twee dae daar gestaan ​​het. Die voertuig is intussen geskut vir forensiese toetse.

Soektogte deur die polisie se honde-eenheid sowel as vrywilligers het nog niks opgelewer nie.

Die polisie doen nou ʼn beroep op enigiemand wat kan help om Wittal op te spoor of wat oor enige inligting beskik – maak nie saak hoe gering dit ook al mag wees nie – om Baatjies by 073 130 3018 of die StopMisdaad-nommer by 08600 10111 te skakel.

Alle inligting sal vertroulik hanteer word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.