Staan opsy Covid, SA’ners wil trou, vakansie hou

Argieffoto (Foto: Ana_J/Pixabay)

Covid-19 en die warmer weer hoef Suid-Afrikaners net ’n halwe kans te gee en die reistasse en trouskoene word nader gesleep.

Die plaaslike verblyfbesprekingswebwerf LekkeSlaap.co.za. het verlede maand ’n rekordmaand beleef wat besprekings betref, terwyl trouvenues hul vere regskud vir ’n besige bruilofseisoen.

Gerriline Fouché, bemarkingsbestuurder by LekkeSlaap, sê die aanlyn besprekingswebwerf het in September die meeste besprekings nóg in ’n maand ontvang en is ná die derde virusgolf oorval deur die groot aantal mense wat besprekings doen.

Die webwerf beleef reeds ’n groot toename in besprekings nadat interprovinsiale reis verlede jaar heropen is hoewel hy met elke koronavirusvlaag minder besprekings en meer kansellasies ontvang het.

Volgens Fouché is die meeste van LekkeSlaap se gaste Suid-Afrikaners, hoewel die webwerf intussen weens die Covid-19-pandemie nog ’n groep gaste bygekry het.

“Suid-Afrikaners wat normaalweg oorsee sou reis vir vakansie, maak nou graag van LekkeSlaap gebruik om hul binnelandse vakansies te bespreek met dié dat internasionale reis steeds uitdagend is,” verduidelik Fouché.

Die Shamwari- private wildreservaat in die Oos-Kaap het vandeesweek gesê hy het aanvanklik beraam dat sy internasionale besprekings teen 2023 sou herstel, maar vermoed dat dit nou selfs nog langer kan neem.

Goeie nuus is darem dat Suid-Afrika binne dae van die Britse rooilys verwyder gaan word en dit tot ’n toename in internasionale reisigers kan lei.

Joe Cloete, uitvoerende hoof van Shamwari, sê die reservaat is tog versigtig optimisties nadat hy navrae van besoekers uit die VSA en sommige Europese lande met minder streng reisbeperkings begin ontvang het.

Die reservaat het besluit om nog twee van sy sewe lodges verlede maand te heropen in afwagting van al hoe meer plaaslike besoekers en ’n effense toename in internasionale belangstelling. Die lodges sluit in die reservaat se nuutste lodge en vlagskip-tentkamp genaamd Sindile.

Sindile is volgens Cloete ideaal vir paartjies wat ’n luukse of romantiese wegbreekkans soek. Die Bayet-tentlodge sal op sy beurt in Desember heropen.

Fouché sê Suid-Afrikaners moet nou hul oë oophou vir spesiale aanbiedinge. “Ons sien veral dat duurder plekke, wat gewoonlik op buitelande toeriste sou fokus, hul tariewe geweldig aangepas het om Suid-Afrikaners se sakke te pas.

“Dit is dus nou die ideale geleentheid vir Suid-Afrikaners om die meer luukse hotelle en lodges te besoek wat andersins dalk bo plaaslike reisigers se vuurmaakplek sou wees.”

Fouché voorspel dat Desember ’n besonder besige vakansiemaand gaan wees vergeleke met vorige jare. Beskikbare verblyf vir sommige van die gewildste vakansiedorpe is reeds beperk.

“Dit is noodsaaklik dat Suid-Afrikaners plaaslike toerisme deurlopend moet ondersteun sodat dié sektor weer ’n welvarende bedryf kan word. Toerisme is ʼn noodsaaklike deel van ons land se ekonomie en daarom is volgehoue ondersteuning noodsaaklik om ’n stabiele en groeiende plaaslike toerismesektor te verseker.”

Cloete sê hy hoop dat die somermaande ’n selfs groter vraag sal oplewer.

“Dit is belangrik vir ons, maar ook belangrik vir die sektor, want hoe langer dit neem voor ons weer kan begin werk, hoe moeiliker sal dit vir Suid-Afrika wees om sy plek in ’n mededingende wêreldmark terug te kry.”

Belowende bruilofseisoen

Argieffoto (Foto: Pexels/Pixabay)

Robyn Christie, bedryfsraadgewer en konsultant van Agility Hospitality, sê daar word intussen verwag dat al hoe meer paartjies in die komende maande gaan trou nadat afsonderingsregulasies verslap is en 250 mense nou binnenshuis en 500 mense buite by byeenkomste toegelaat word.

Sy wys ook daarop dat al hoe meer mense ingeënt word en sê dat die verslapte afsonderingsregulasies ’n spreekwoordelike wittebrood vir die troubedryf sal beteken wat maande lank weens die pandemie gesteier het.

Christie sê baie paartjies het tydens die afsonderingstydperk baie tyd gehad om hul droomtroue te beplan – en hul verwagtinge is nou baie hoog.

“Kliënte soek ná maande by die huis nou ’n nuwe ervaring wat beter is as voorheen. Ondernemings in die gasvryheidsbedryf moet hierdie entstof-wittebrood optimaal benut en nie net hulself oortref wanneer dit kom by diens en Covid-19-voorsorgmaatreëls nie, maar ook iets magies lewer.

“Die verwagtinge is groot en die diens sal nou meer as ooit tevore moet skitter. Ons het immers genoeg tyd gehad om dinge reg te stel.”

Christie raai intussen werkgewers in die troubedryf aan om hul werkers na die naaste entstofsentrum te verwys.

“Kort voor lank gaan kieskeurige kliënte op die versekering aandring dat al die personeel ingeënt is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

MakersMark ·

Januarie is dit staan opsy werk, trou, drank, begrafnisse, sport, skool en braai want dan hou ons covid golf 4. Dan blameer almal die illuminati, gates, anc en “hulle”.

Strandloper ·

Dalk al Desember almal is covid foos en gooi alles oorbood. Self die basiese masker dra is nou so uit soos die anc….

Prikkie ·

Jip beslis MakersMark, hier kom die vierde golf.

Net soos die infeksiesyfers daal, word alle Covid protokol oor boord gegooi en dan is ons terug in tamatiestraat.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.