Staat SA se ‘remskoen’

Pres. Cyril Ramaphosa lewer Donderdagaand sy staatsrede. (Foto: GCIS)

Pres. Cyril Ramaphosa lewer Donderdagaand sy staatsrede te midde van ʼn rekordhoë werkloosheidsvlak, voortgesette beurtkrag, verdoemende verslae oor staatskaping en die staat se reaksie op verlede jaar se verwoestende onluste.

Prof. Daniel Meyer, verbonde aan die Universiteit van Johannesburg se Kollege vir Sake en Ekonomie (CBE), sê tweespalt in die ANC beteken Ramaphosa kan nie doen wat nodig is om die land op ʼn florerende ekonomiese pad te kry nie.

“Cyril Ramaphosa moet in ʼn baie frustrerende posisie wees en ek glo nie hy gaan ʼn tweede termyn sien nie – daarvoor is daar te veel binnegevegte in die ANC.

“Wat kan hy sê dat hy die afgelope vyf jaar reggekry het? Hy neem nie deurslaggewende besluite nie en verwys alles na komitees om die besluite te neem sodat dit nie lyk of hy dit self doen nie. As die president egter nie die besluite neem nie, hang alles,” sê Meyer.

“As hy ʼn bietjie waagmoed gehad het, sou hy besluite geneem het. Dit is die risiko wat hy moet waag as hy die land eerste wil stel en nie die ANC nie. Hy beskerm die ANC, maar intussen stort die land in duie.”

Abigail Moyo, woordvoerder van Uasa, sê Suid-Afrikaners is oorweldig deur die wete dat die regering en staat die land op velerlei vlakke in die steek gelaat het. “Die land het genoeg gehad van Ramaphosa se bekende goed-voel-toesprake. Pleks daarvan eis ons antwoorde en volhoubare planne vir die jaar en die toekoms.”

Uasa sê die land benodig duidelike antwoorde op die ekonomiese en maatskaplike kwessies wat Suid-Afrika laat steier.

En volgens Meyer is daar verskeie stappe wat Ramaphosa môreaand in sy staatsrede kan aankondig wat vertroue kan help skep.

Infrastruktuur

Meyer sê ingryping om die land se verswakkende infrastruktuur te verbeter, is dringend nodig en is ʼn kwessie wat Ramaphosa moet aanroer. “As ons na die afgelope jaar kyk, dink ek die situasie het verswak. Eskom is in chaos en paaie, watervoorsiening en rioolverwerking gaan alles agteruit.”

Volgens hom kan die ekonomie nie groei of behoorlike ontwikkeling plaasvind as die land nie krag het nie. “Dit is soos om te sê jy het ʼn Ferrari, maar dit kan net 60 km/h ry,” sê Meyer.

Die regering het verlede jaar aangekondig dat die nuwe drempel vir selfopwekking van elektrisiteit sonder ʼn lisensie van 1 MW tot 100 MW verhoog word, volgens Meyer ʼn positiewe verwikkeling. Die beleid is egter steeds nie in werking gestel nie.

“Daar is planne, maar niks word gefinaliseer nie en dit word aan geen begroting gekoppel nie. Jy moet ʼn behoorlike plan hê, met strategieë en projekte wat gefinansier is. Jy kan nie net sê daar is ʼn plan – ons gaan dit en dat bou – maar daar is geen geld of detail beskikbaar nie.”

Hy sê die planne is daar, maar inwerkingstelling moet begin.

Suid-Afrika se uitvoerbedryf is in ʼn sterk posisie, maar chaos heers by onder meer hawens. Die vraghouerterminale by sommige hawens het verlede jaar tot stilstand geknars nadat kuberkrakers Transnet se stelsel aangeval het. Meyer sê Ramaphosa moet stappe aankondig om dié probleme op te los.

“Hoewel ons produksie meer is, kry ons weens die swak verskaffingsketting by hawens nie die produkte uitgevoer nie,” sê Meyer.

Dis egter nie net by Transnet waar chaos heers nie. Prasa, Denel, die Suid-Afrikaanse Lugdiens en die SAUK steier ook, sê Moyo, en Suid-Afrika kan vergeet van ekonomiese herstel as die land nie eens sy staatsbeheerde instellings ordentlik kan bedryf nie.

Die werkloosheidskoers staan op ʼn rekordhoë 34,9% en die syfer gaan na verwagting selfs verder styg. Meyer sê die regering is klaarblyklik steeds onder die indruk dat die staat werk kan skep. “Hy kan nie; die staat moet ʼn gunstige omgewing skep waarbinne die private sektor werk kan skep.”

Die staat kan ook ʼn werkskeppingsfonds op die been bring waarmee byvoorbeeld paaie skoongemaak en herstel, indringerplante verwyder, slaggate reggemaak en spoorlyne herstel kan word. Veral jongmense – en twee uit elke drie Suid-Afrikaners jonger as 35 is werkloos – kan hierby betrek word. Meyer waarsku egter dat die staat nie so ʼn program moet bestuur nie, maar nou saam met die private sektor in dié verband kan saamwerk.

Meyer sê ook dit is belangrik dat Suid-Afrika beleidsekerheid het en Ramaphosa moet antwoorde hierop gee. “Wie besit die myne, grond, landbougrond? Wat doen ons met nywerheidsgrond en oor nywerheidsontwikkeling?

“Belegging is die aandrywer van ekonomiese groei en ons het tans vyf persent groei nodig.

“Die staat is die remskoen,” sê hy.

Meyer sê die staat wil steeds alles beheer en dat dit korrupsie, wat steeds voortduur, moontlik maak.

“Daar is baie positiewe verwikkelinge ook, maar ons het nou leierskap nodig tot voordeel van die land en nie die party nie,” sê hy.

Moyo stem saam en sê die land kan nie langer leiers bekostig wat hul partye voorop stel tot nadeel van burgers nie. “Ons het ʼn president met selfvertroue nodig en ʼn regering wat sy mense eerste stel en hulle dien.”

“Suid-Afrika het ʼn behoorlike en praktiese benadering nodig om sy probleme op te los. Nou is die tyd om Suid-Afrikaners te verseker deur stappe te doen en die beloftes gestand te doen wat ons teen hierdie tyd net as leë woorde beskou,” sê Moyo.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

Althes ·

Die hartseer van die saak is dat Jan Publiek hom as die redder gesien het, om ons nasie te red teen korrupsie, misdaad en om die ekonomie te laat floreer.
Die oorgrote meerderheid publiek van SA sou bankvas agter hom gestaan het – die ANC kaders sou in minderheid wees.

Pietertjie ·

Nou kry tweespalt in die ANC die skuld vir ons swak ekonomie. Wat gaan volgende keer die skuld kry? Weer apartheid, of Jan van Riebeeck?

Di ·

Nee wat, die ANC sal NOOIT die land reg kan bestuur nie. Hulle het meer as 20 jaar gehad en als verwoes. Dit gaan ‘n wonderwerk vereis om die land reg te ruk. Hulle wil ALS beheer om sodoende hulle self te verryk, het geen GEEN ambisies of lojaliteit teenoor die land nie. Al wat Rampie doen is praat en eintlik ook niks se nie

Grassie ·

Ek dink die ANC-regering gaan inplof en dit gaan die pad na algehele anargie versnel. Ek wil graag aanhaal wat Dr Verwoerd oor die moontlikheid van so ‘n regering gesê het. Hy het dit in Engels gesê sodat almal dit kon verstaan.

” On account of their lack of ability to manage a complicated administration the country will administratively and economically be destroyed and for everyone – white and coloured – end in chaos”.

Ek reken die doktor se waarskuwing is nou besig om bewaarheid te word. Ons was gewaarsku maar ons het nie geluister nie.

Wakkerslaper ·

Dr. Verwoerd kon dit nie beter gestel het nie. Die realiteite van ons dag BEWYS dit! Tog bly die liberaliste dit ontken….

Anoniem ·

Dom stemvee hou hulle ongelukkig aan bewind en Jan Alleman kan absoluut niks daaraan doen nie.

Marius ·

Die grootste remskoene en meulstene om die nek vir sa is die president self, anc, eff, sakp ens. Hul kleef nog aan hul argaiëse russiese doktrines en sienings.

Dup ·

Sluk maar ñ sooibrand pil en drink ñ Grandpa poeier want die sogenaamde staatsrede gaan soos voorheen net n gebrabbel,geween en ñ gekners van tanne wees.Daarna gaan hulle jol in die “city hol” en môre gaan alles weer soos “normaal” voortgaan!

SjN ·

SA geniet met reg rommelstatus, derde rangse wereld kan gemeet word aan opleiding, infrastruktuur en mediese sorg, en alles het in duie gestort danksy die Anc.

JohanR ·

Hier is die staatsrede…….blah, blah blah, blah blah blah en dan nog ‘n laaste blah!

Jr ·

Gaan begin met sy gewone. FELLOW South Africans en dan kom nog wharra wharra wharra this is your president Syrypy Cyril

annie ·

Die ergste vrees is dat dit nog slegter sal moet gaan voordat ‘n leier sal opstaan wat die wederstrewiges sal vasvat en planmatig dinge beter maak. Dit sal iemand met Christelike waardes moet wees wat kan/wil onderskei tussen reg en verkeerd. Want as niemand van daai kaliber binnekort verskyn nie, gaan dit nag word en bly.

Genis ·

Ek wil my verstout om te se, dat ons beterf gedoen met Zuma aan bewind…

Cabytheron ·

Dit is omtrent ‘n raak beskrywing van Cyril RamaDoedoe!

Hendrik ·

Die anc is op n absolute vervalde laagtepunt. Dit is die regte tydstip dat oposisiepartye en die privaatsektor meer agerssief optree. Die regte metodes moet geidentifiseer word. Die tyd vir handskoe

H.A. ·

Al wat regtig sal werk is n staatsgreep. Laat die anc,sakp en eff vlug na moeder Kuba.

SomeOne ·

die dag toe hy ingesweer, groot sweer, is, het hy nie belowe dat hy die land sal dien nie?
dan steek hy sy hand in die lug, belofte gebaar – sweer, voor God en almal wat daarna gekyk het, dat hy alles in sy vermoë daarvoor sal doen
waarom kan hy nie aangevat word vir sy huigelary – verroting – wat daar is nie ?
is daar geen regs kennisse (regs geleerdes) in die land wat daaroor dink en iets daaraan doen nie ?

Delia ·

HOU OP STAPPE AANKONDIG. DOEN IETS DAADWERKLIKS MNR RAMAPHOSA

Mariana ·

Dit gaan maar net weer dieselfde gesanik wees as al die ander jare. Die land is op sy knieë agv die ANC en hulle gaan dit nie verander nie. Dit is nie in die kaders se belang dat dinge verbeter nie, hulle verkies die algehele choas dan floreer hulle mos.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.