Staatsamptenare dreig met staking

(Argieffoto: VSA)

Staatsdienswerkers wat lede is van die Vereniging vir Staatsamptenare (VSA) beplan ’n landwye staking Maandag nadat daar ná uitgerekte loononderhandelings steeds geen salarisooreenkoms bereik kon word nie.

Luidens ’n verklaring uitgereik deur verskillende vakbonde wat staatsamptenare verteenwoordig, is daar Maandag ’n versoeningsverhoor by die staatsdiens se koördinerende bedingingsraad (PSCBC) oor die dispuut wat hulle verklaar het rakende die loononderhandelings.

Die vakbonde Nehawu, Nupsaw, Popcru, Denosa, Sapu, PSA, Hospersa, Samatu, Pawusa en Saepu het die regering se aanbod vir ’n 3%-loonverhoging van die hand gewys.

“Die besluit van die minister van staatsdiens en administrasie saam met sy finansiële eweknie om die aanbod, wat deur werkers oorweldigend afgekeur is, te implementeer, los in elk geval nie die dispuut op nie. Daarom gaan ons voort met die staking,” lui die verklaring.

“As vakbonde moet ons hande vat om die houding en die nieuliberale beleid van die werkgewer, wat besuinigingsmaatreëls ingestel het – wat op staatsamptenare en die werkersklas gerig is – te  beveg.”

Maroela Media het vroeër berig daar is in Mei vanjaar al met loononderhandelings begin. Vakbonde het aanvanklik ʼn 10%-verhoging geëis, maar dit later na 6,5% aangepas.

Die vakbonde sê hulle veroordeel die omsendbrief wat deur die departement van openbare dienste en administrasie uitgereik is ten sterkste, spesifiek in verband met die verbetering in diensvoorwaardes vir werknemers op salarisvlak 1 tot 12 en dié wat deur spesifieke bedelings (OSD’s) gedek word, naamlik lewenskoste-aanpassing.

“Hierdie omsendbrief demonstreer duidelik dat die regering kollektiewe bedinging totaal verontagsaam en het die PSCBC tot ʼn nie-entiteit gereduseer. Ons verwerp dus die eensydige implementering.

“Dit is ʼn demonstrasie van minagting vir die wyse waarop staatsamptenare behandel word, en die voortsetting van die agenda om kollektiewe bedinging in die staatsdiens te vernietig.”

Die vakbonde doen ʼn beroep op die werkgewer om die instellings van sosiale dialoog te respekteer en die PSCBC-versoeningsverhoor by te woon.

“Ons het besluit om ons kollektiewe kragte saam te snoer om die werkgewer te verplig om die afgekeurde aanbod te verbeter.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Nie Verbaas ·

En dit is die enigste tyd wat hulle iets met oorgawe doen. Wens n mens kon dieselfde van hulle werk sê.

Hermien ·

Moenie veralgemeen nie, ek is in diens van die staat sedert Desember 1991. Sit op dieselfde salaris skaal sedert 1997, verdien ek nie ‘n salaris verhoging nie?

Feite ·

Nou wat moet ons se? Met dieselfde ‘besparings’ beleid wat selfs ons groot Internasionale Maatskappy toe pas? Geen verhogings nou al vir 3 jaar, alle voordele tot die been toe gesny, alle nuwe werknemers die laagste moontlike salaris vir dubbel die werk en n nuwe toxic work environment. Maar staak ons? Mmmmm…… Nee, want ons weet dit werk net vir sekere mense.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.