Staatsdepartemente moet miljarde se skuld aan munisipaliteite vereffen

skuld-krediet-afbetaling-belasting-sakrekenaar-rekenaar-boekhou

(Foto: FirmBee/Pixabay.com)

Die DA sê hy neem kennis van die minister van samewerkende regering en tradisionele sake, Nkosazana Dlamini-Zuma, se oproep dat munisipaliteite die miljoene rand wat hulle aan Eskom verskuldig is, moet betaal. DA-woordvoerder oor samewerkende regering, Haniff Hoosen, sê enige optrede wat munisipaliteite verantwoordbaar hou vir dié skuld, moet geloof word.

“Dit sal egter oneerlik wees as dit gedoen word sonder dat die wanbetaling van verskeie staatsdepartemente aan dié munisipaliteite ook aan die groot klok gehang word. Talle munisipaliteite sukkel om hul verpligtinge teenoor Eskom na te kom weens die immer stygende skuldlas wat wanbetalende verbruikers, ook staatsdepartemente, op hulle plaas,” het Hoosen gesê.

Die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Plaaslike Regerings (Salga) het vroeër gesê 5% van munisipaliteite se skuld kom van staatsdepartemente – en die totale skuldlas beloop R20 miljard.

“Die DA doen dus ʼn beroep op die minister en haar departement om die skuld in te vorder wat staatsdepartemente plaaslike owerhede skuld. Munisipaliteite se skuld aan Eskom is nagenoeg R20 miljard. Staatsdepartemente skuld munisipaliteite nagenoeg R20 miljard. Die wiskunde is eenvoudig: as staatsdepartemente hul rekeninge betaal, gaan munisipaliteite in ʼn baie beter finansiële posisie wees om hul Eskom-rekeninge te betaal en broodnodige dienste te lewer.”

Hoosen sê staatsdepartemente is munisipaliteite se grootste wanbetalers en pootjie plaaslike owerhede se pogings om hul Eskom-skuld te delg. “Dit is ʼn enorme bron van kommer en [die optrede van staatsdepartemente] moet verwerp word met die minagting wat dit verdien,” het hy gesê.

Die DA sê die groeiende kultuur van wanbetaling moet gestuit word.

“Die rol wat elke Suid-Afrikaner kan speel om die skuldlas van munisipaliteite te verlig, kan nie onderskat word nie. Ons kan egter nie net van arm gemeenskappe verwag om te betaal, terwyl staatsdepartemente, sakeondernemings, politici, burgemeesters en LP’s versuim om hul munisipale skuld te betaal nie,” het Hoosen gesê.

Die DA sê wanneer geld by inwoners ingevorder is, moet munisipale bestuurders verantwoordelik gehou word wanneer skuld nie betaal word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

PH ·

Dis hoekom die PFMA daaris. “Public Finance Management Act”. Bestuurders kan persoonlik verantwooedelik gehou word vir wanbestuur. Word dit ooit gedoen?

Johann cb ·

Die belastingpligtige het mos baie geld! Vra die SAUK! Ons betaal graag…

Eben ·

Ek wil graag weet hoe ESKOM toegelaat het dat dit gebeur. Werkers wat nalatig is moet afbetaal word. Net ongeletterde en onverantwoordelike mense sal die chaos toelaat.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.