Staatskoerant sal duidelikheid bring vir verpleegstudente – minister

Argieffoto

Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, het onderneem dat duidelikheid oor die lot van voornemende verpleegstudente teen vandag in ʼn kennisgewing in die staatskoerant verskaf sal word.

Hy en die direkteur-generaal van gesondheid, Precious Matsoso, het die parlementêre portefeuljekomitee oor gesondheid gisteraand in Kaapstad oor die kwessie toegespreek.

Ter sprake is kommer dat daar nie genoeg tyd is om nuwe regulasies wat deur die departement uitgevaardig is, om te sit in sinvolle vakinhoud en sillabusse nie, en dat die voorskryf van handboeke ʼn probleem kan wees.

Mkhize en Matsoso het egter die versekering gegee dat almal wat geregtig is om in 2020 in die verpleegkunde te studeer, dit wel sal kan doen.

“Ek het persoonlik hiervoor verantwoordelikheid aanvaar, en self as voorsitter opgetree in die vergaderings wat ons hieroor met onder meer die departement van hoër onderwys en die Suid-Afrikaanse Verplegingsraad gehou het,” het Matsoso gesê.

Sy het gesê drie universiteite (waaronder die Universiteit Stellenbosch) asook alle verpleegkolleges is reeds geakkrediteer om kursusse kragtens die nuwe regulasies aan te bied en sewe universiteite se aansoeke is hangende.

“Teen Januarie wil ons al die studente wat vir die kursusse aanvaar is, in die klasse hê,” het die direkteur-generaal gesê.

Die optrede volg op volgehoue druk oor die kwessie deur opposisiepartye, veral die VF Plus, DA en ACDP. Siviwe Gwarube van die DA en Philip van Staden van die VF Plus het aan Mkhize gesê hulle gaan hom fyn dophou sodat verpleegstudente nie in die steek gelaat word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Hennie ·

So die swaap deo kan nie sê wat gesê moet word nie… En die een is kwansuis ‘n dokter. My gedorie Hans!

charmaine ·

En wat van die ander personeel soos my seun is n gekwalifiseerde suster werk tans in ICU en wil ook graag nog verder studeer gaan hulle geakommodeer word?

Marix ·

Die meeste kursusse wat jy kan/ wil doen nadat jy as verpleegkundige gekwalifiseer het, kan gedoen word deur technikons en universiteite. Afstandsonderrig kan gedoen word. Dan is praktiese besoeke of ure wat gewerk word, addisioneel tot die kursus,
Die BTech graad is ook ‘n waardevolle addisionele kwalifikasie.
Hoop die info kan help.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.