Stappe vir Afrika-vryhandelsgebied verwelkom

afrika-vasteland-aardbol-kaart-duim-kleur

Foto: Esté Meyer Jansen/Maroela Media.

Die sakeregte-organisasie Sakeliga het Dinsdag die onlangse ondertekening van ’n Afrika-vryhandelsverdrag deur die presidente van Nigerië en Benin verwelkom.

Hierdie verdrag sal die grootste vryhandelsone ter wêreld wees nadat Nigerië, Afrika se grootste ekonomie, die ooreenkoms Sondag onderteken het by die twaalfde buitengewone beraad van die Afrika-Unie (AU) in Niger.

Die AU sal na verwagting binnekort die bedryfsfase van die Afrika-kontinentale vryhandelsgebiedooreenkoms (AfCFTA) van stapel stuur.

“Stappe vir meer geliberaliseerde markte en laer handelsbelastings en beperkings sal baie doen om welvaart en welstand op die Afrika-vasteland te verhoog. Soos met alle vryhandelsooreenkomste tussen state is daar nog tekortkominge. In die geheel gesien, is die AfCFTA egter ’n stap om handelsbelastings en -versperrings dwarsoor Afrika te verwyder,” het Gerhard van Onselen, senior ontleder by Sakeliga, gesê.

Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga, sê die organisasie sal die ontwikkeling van die ooreenkoms fyn dophou.

“Die AfCFTA is ’n belowende ontwikkeling, want dit is daarop gemik om die ekonomie te bevorder deur regeringsbeperkings te verwyder – al moes daardie beperkings in die eerste plek nooit daar gewees het nie. So lank groter handelsvryheid die wesenlike bydrae van die AfCFTA is, verwelkom ons dit. Ons sien uit daarna om ons lede aan te moedig om nuwe geleenthede te vind om mense dwarsoor die Afrika-vasteland te dien met waardevolle produkte en dienste.”

Die eerste stap van die AfCFTA sal wees om tariewe, soos ondermeer grensbelasting, te sny vir goedere wat tussen lidlande van die ooreenkoms verhandel word maar ʼn tydsraamwerk hiervoor is nog nie aangekondig nie.

Daar word geskat die AfCFTA se implementering kan lei tot ʼn 60% hupstoot in intra-Afrika handel teen 2022.

Volgens BBC.com het die Afrika-ontwikkelingsbank in 2014 bevind dat net 16% van internasionale handel tussen Afrika-lande plaasvind. Op die oomblik wissel daardie handel van vars vis van die Seychelle tot petrol uit Angola.

Met Nigerië wat nou deel van die gebied vorm, is die droom om handel tussen Afrika-lande te vergroot een stap nader aan verwesenliking. Die AfCFTA het toegang verkry tot die reusagtige Nigeriese mark en dit plaas die vryhandelsgebied in ʼn beter posisie om met soortgelyke streke in die wêreld te onderhandel.

Eritrea is die enigste van die 55 Afrika-lande wat nog nie die ooreenkoms vir die vryhandelsgebied onderteken het nie. Volgens Albert Muchanga, die AU-kommissie se kommissaris vir handel en nywerheid, het dié land nie aan die onderhandelings deelgeneem nie, omdat hulle in konflik is met Ethiopië.

Muchanga glo dat Eritrea wel later aan boord sal kom soos wat daar vrede tussen die twee lande bewerkstellig word.

Pres. Cyril Ramaphosa het intussen ook die bekendstelling van die vryhandelsgebiedooreenkoms geloof en gesê dit sal die ekonomieë van talle Afrika-lande op ʼn hoër groeitrajek plaas.

Ramaphosa het verder gesê die ooreenkoms is ʼn mylpaal in ʼn droom wat 60 jaar gelede deur die stigters van die AU begin is toe hulle ʼn visie vir ʼn geïntegreerde Afrika voorsien het.

Hy glo die implementering van die ooreenkoms sal ook lei tot ʼn groter fokus op infrastruktuurontwikkeling oor die hele vasteland om ekonomiese aktiwiteite te ondersteun.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Johan ·

Giggel ek nou… “Afrika vryhandels gebied” nogal. Sluit dit nou die nuwe SA met sy strewe na kommunisme en al sy tender bedrog in?

Andreas ·

Giggel ek op jou giggel, en dan wettig ons nogal vryhandel ook.

J ·

Wat n sirkus, 90 % van afrika lande het niks om mee handel te dryf, dit gaan nou net nog makliker wees om te smokkel tussen lande

Johanna Botha ·

Wie kry die belasting of is daar nie so iets nie ….ag wat hulle kan nie eers die grense bewaak nie wat nog van sit bestuur

Andreas ·

Wat ek graag sal wil sien is of dit ooit en as dit, wanneer dit die lig sal sien, dalk bly dit net op die papier te lees. Dan ook die regeringsbeperkings wat onder andere weggevat sal word, dit sal sekerlik net vir oor grense heen beweeg wees en verseker nie indiensneming nie. As dit moet gebeur, sal die wit mense mos ook handeklap. Goedere, produkte?

Ook het ons mos al paar maal in die verlede uitbarstings van xenofobie in die land gesien, juis ons wat met by die 27% werkloosheid in die land sukkel. En veronderstel die mense stroom die land binne, ons kan nie eens soos dit tans is ons grense beveilig nie. Wat Suid-Afrika betref, is dit nie dalk soos ons president se vergesig van superstede nie?

Andreas ·

Skuus, maar meeste transaksies en handel sal maar in die donker en sonder krag moet geskied, ons sit mos met Eskom opgeskeep.

John ·

… en wie gaan daarby baat… Sjina en Indiè vir hul rommelverkope. En gaan daar gesmokkel en gesmous word dat dit ‘n naarheid is… letterlik, want siek diere en ongetoetste produkte gaan ons winkelrakke vul. Afrika volg soos ‘n skaap die EU-mode. Alle grense gaan mettertyd doelloos wees. Die volkslied se ok so.

Edd ·

Die swakste las maak die grootste impak. Die swakste lande gaan die waarde bepaal.

marous ·

Nigerie se borrel gaan bars as hulle olie op raak . Simbiose is al wat hulle het .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.