Stappers van verskeie bergreekse gered

(Foto: Wilderness Search And Rescue WSAR Western Cape/Facebook)

Reddingwerkers van Wildernis-soek-en-redding (WSAR) het Sondag op drie afsonderlike bergreddingsvoorvalle gereageer.

Volgens David Nel, woordvoerder van WSAR, het hul reddingspanne in Januarie reeds op 33 voorvalle gereageer, wat aansienlik meer is as vorige jare.

Hy sê die meeste voorvalle word in die somerseisoen aangemeld omdat groot getalle plaaslike inwoners en toeriste die buitelewe dan wil verken.

(Foto: Wilderness Search And Rescue WSAR Western Cape/Facebook)

Volgens Nel is reddingspanne Sondagoggend geaktiveer nadat ʼn groep stappers in die moeilikheid beland het toe hulle probeer het om Els Ravine bo die Nuweland-woud in Kaapstad uit te klim.

“Die groep van sewe stappers het hulp ontbied toe hulle besef hulle kan nie verder klim nie. Terwyl vier stappers kon afklim en terugkeer na waar hul staptog begin het, het die oorblywende drie op ʼn randjie van die berg vir bystand gewag,” sê Nel.

(Foto: Wilderness Search And Rescue WSAR Western Cape/Facebook)

ʼn Hommeltuig van die Wes-Kaapse nooddienste se hommeltuigeenheid is gebruik om die stappers op te spoor. Die hommeltuig het kritieke inligting aan reddingwerkers verskaf oor die stappers se presiese ligging en die uitdagings wat die span waarskynlik sou teëkom terwyl hulle toegang tot hul ligging verkry.

“Die reddingwerkers kon die stappers só opspoor en die stappers in harnasse en helms vasmaak, om tot onder op die krans te laat sak.”

Reddingwerkers is die Sondagmiddag weer ontbied deur ʼn vrou wat haar enkel beseer het toe sy in die Cecilia-woud in Kaapstad gestap het. Sy het gestruikel en haar enkel seergemaak toe sy afdraande gestap het, waarna sy nie verder kon stap nie.

“Die stapper is op die toneel behandel en in ʼn draagbaar gelaai. Met behulp van die span se nuwe terreintemwiel, wat op die draagbaar gemonteer is, het die span vinnig werk daarvan gemaak om haar terug te dra op die roete na veiligheid. Sy is na Constantianek geneem en na ʼn ambulans oorgeplaas voordat sy hospitaal toe geneem is.”

(Foto: Wilderness Search And Rescue WSAR Western Cape/Facebook)

In ʼn derde voorval is WSAR-reddingwerkers, die provinsiale nooddienste en ʼn reddingshelikopter van Air Mercy Service (AMS) Sondagmiddag na Du Toitskloof by Wellington om ʼn beseerde stapper by te staan.

“Die stapper, in haar 20’s, het haar enkel beseer terwyl sy van die Kromrivier-waterval in die Limietberg-natuurreservaat teruggestap het.”

Die reddingspan is na die stapper afgehys, waar hulle haar toestand bepaal het en daarna in ʼn reddingstuig en ʼn helm vasgemaak het voordat sy in die helikopter opgehys is. Sy is na ʼn nabygeleë landingsone gevlieg waar sy in ʼn ambulans oorgeplaas is.

WSAR vra dat stappers of buitelugliefhebbers hul noodnommer by 021 937 0300 skakel indien hulle in die moeilikheid beland.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Johanna ·

Mense wat NIE Kan nie of opgelei is vir die sport gee net problem.

Mariaan ·

Beserings verstaan ek..maar mense pak roetes aan waarvoor hul nie opgewasse is..en dan moet duur hulpbronne ingespan word om hul te red…nee man..wees meer verantwoordelik tog

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.