Starbucks open sy deure in Suid-Afrika

'n Starbucks-koffiewinkel in Washington in die VSA. Foto: www.starbucks.com

‘n Starbucks-koffiewinkel in Washington in die VSA. Foto: www.starbucks.com

Die bekende koffiegroep Starbucks het Dinsdag aangekondig dat hy winkels in Suid-Afrika sal oopmaak.

Starbucks het ʼn eksklusiewe vennootskap met Taste Holdings in Suid-Afrika gesluit wat beteken dat Suid-Afrika met die eerste Starbucks-koffiewinkels in sub-Sahara-Afrika sal spog.

Taste Holdings het in ʼn mediaverklaring aangekondig dat die eerste Starbucks-winkel vroeg in 2016 in Johannesburg sal oopmaak. Nog winkels sal in die res van die jaar oor die hele land geopen word. Die winkels sal deur Starbucks en Taste Holdings ontwerp en gebou word en sal die volle reeks Starbucks-produkte aanhou.

Kris Engskov, president van Starbucks in Europa, die Midde-Ooste en Afrika, het gesê hulle is trots om uiteindelik Starbucks aan Suid-Afrikaners te bring. “Die mark vir koffie in Suid-Afrika groei vinnig en ons wil deel wees van hierdie groei deur die energie en passie van hierdie ongelooflike land in die ontwerp van ons eerste winkel en eerste barista-span te weerspieël. Ons kan nie wag om te begin nie,” het hy gesê.

Volgens Carlo Gonzaga, uitvoerende hoof van Taste Holdings, sal die vennootskap met Starbucks talle werkskeppingsgeleenthede tot gevolg hê. “Starbucks ondersteun die ontwikkeling van plaaslike verskaffers en is toegewyd aan ons Changing Lanes-program waardeur werk aan voorheen werklose mense verskaf word en hulle aan internasionale opleidingsinisiatiewe en vaardigheidsontwikkeling blootgestel word.”

Engskov het bygevoeg dat jongmense ʼn sleutelrol in Starbucks se sukses speel en het beklemtoon dat die meerderheid Starbucks-werknemers tussen 17 en 25 jaar oud is. “Talentvolle jongmense is nog altyd vir ons ʼn prioriteit en ons sal ons nuwe vennote met die nodige vaardighede toerus om suksesvol te wees in vandag se ekonomie.”

Hy het gesê Starbucks maak gebruik van hoëgehalte-koffie, onder meer van plase in Ethiopië, Rwanda en Tanzanië.

Die Starbucks Coffee Company is in 1971 op die been gebring en het tans meer as 22 000 koffiewinkels oor die hele wêreld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Blondie ·

Uiteindelik!!! Ek wag al sooo lank dat ons daai regte koffie kan kry . Kan nie wag nie!!

Hendrik ·

Dit sal goed wees as ons jongmense ‘n gelyke kans sal kry om daar te werk. Dat die werksgeleenthede nie gereseveer word volgens ras. Ek sien ook uit daarna om daar koffie te gaan drink in ‘n goeie atmosfeer.

zahn ·

So, ons word alweer voor die tyd gewaarsku, werkskepping net aan die voorheen benadeeldes. Kan enigiemand vir my verduidelik hoe iemand wat na 1994 gebore is, voorheen benadeeld was? As dit die voorwaardes is, jammer, ek drink dan eerder my getroue ou boeretroos, dankie.

Koos ·

In Aus het hulle hul agterente gesien..die Aussies het n sterk koffie kultuur en Starbucks kon nie die pyp rook nie….of so het ek gehoor.

DMG ·

Gaan SA citizens die franchise naam kan koop en as n franchise run?

HEVW ·

Ken jy die Duitse koffie hier in Namibie? Veral die wat tuis so tussen familie en vriendekring gedeel word. Neewat Starbucks kan maar hul koffie vir die wat nie weet nie skink.

Gideon ·

Starbucks moet hier op Lephalale kom kyk hoe lyk franchises wat deur voorheen benadeeldes bedryf word!! Pateties, en die voorheen bevoordeeldes spandeer hulle geld op kos wat ons lekker self by die huis maak!! Pasop Starbucks, het julle navorsing gedoen en agtergekom wie is die koffie drinkers?

Jaco Grobler ·

Nee wat, genoeg goeie verskaffers van koffie in SA, sowel as toerusting om dit te maak. Ek het al reeds baie goeie koffies ontdek, en geniet die reis opsoek na nog, om koffie te koop by hulle is nou nie juis hoog op my prioriteidslys nie. Inderwaarheid vermy ek meeste organisasies wat hulle toespits op die groter verbruikersmark.

Mariëtte ·

Ek is baie lief vir lékker koffie. Sal Starbucks ‘n kans gee!

Sean Mac ·

slegste koffie in die wêreld. In Melbourne waar ons nou 8 jaar al woon is daar slegs 3 outlets en meer as 700 ander koffie shops – die syfers spreek vanself

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.