Steeds te veel vrae tien maande ná raaiselmoord

Gavyn Moore se familie sê daar is net te veel onbeantwoorde vrae na sy moord.

Soveel vrae. Bitter min antwoorde.

Byna ʼn jaar nadat Gavyn Moore (32) se bebloede liggaam buite sy huis in ʼn veiligheidskompleks in Hazyview in Mpumalanga gevind is, probeer sy familie steeds self die stukkies van die legkaart oor die ure voor sy dood inmekaar pas.

“Dis ʼn helse pad wat ons al tien maande lank stap,” sê Christo Stemmet, lewensmaat van Gavyn se pa, Francois van der Merwe.

Moore, ʼn verkoopsagent van die dorp, se liggaam is vroegoggend op 21 Desember deur ʼn buurvrou ontdek. Hy het ʼn snywond aan sy arm gehad. Bloedplasse was oral op die toneel sigbaar en verskeie van sy huis se vensters was gebreek – deur Moore self.

“Roof was dit beslis nie,” sê Stemmet.

Die hek na die woonstelkompleks in Hazyview waar Moore gewoon het.

Moore se beursie was in sy bakkie en só ook sy selfone en huissleutels.

Die jong man was vroeër die aand by G’s, ʼn kuierplek op die dorp waar hy ʼn paar drankies gedrink het. Daar het hy en nog twee mans – wie se identiteit steeds nie vasgestel is nie – glo luidrugtig begin raak en is hulle gevra om eerder huis toe te gaan.

Omstreeks 21:15 betaal Moore sy rekening en ry die sowat 1 km na sy huis in die Rock Village-veiligheidskompleks. Ander inwoners hoor stemme by die hek – oënskynlik ʼn stryery in Afrikaans – en minstens een getuie sien ʼn ander voertuig op die toneel, maar Moore se bakkie ry dan tog die kompleks binne.

Stemmet sê hulle het later ook vasgestel iemand het ʼn ambulansdiens gebel en laat weet dat iemand voor die veiligheidskompleks in Lepelaarstraat lê. Wie hierdie persoon is, is tot vandag onduidelik.

Gavyn Moore (32).

Stemmet sê hulle is vroeg die volgende oggend laat weet Moore se liggaam is by sy huis gevind. Hy kon oënskynlik nie sy huissleutels vind nie en het vensters gebreek in ʼn poging om in die huis te kom. Daar was ook talle bloedvlekke om die huis, asook by die bure. Dit lyk of hy verward om die huis gestrompel het.

Stemmet sê hulle het aanvanklik gedink Moore het hom doodgebloei nadat hy sy arm op ʼn stuk vensterglas gesny het. Hulle het die Maandag ná sy dood die nadoodse ondersoek gaan bywoon. Daar is hulle meegedeel dat Moore hom nie doodgebloei het nie, maar gesterf het weens bloeding op die brein – die gevolg van ʼn harde hou teen die kop. Die hou was egter van só ʼn aard dat dit nie deur ʼn val veroorsaak kon word nie.

Moore, het die polisie op daardie dag aan die verbysterde familie gesê, is vermoor.

Roubeklaers by Moore se begrafnis. Hy is in Desember verlede jaar in Hazyview vermoor.

Stemmet sê sedertdien was dit ʼn opdraande stryd om enige vordering in die ondersoek te laat gebeur. Hy het uit desperaatheid self getuies begin soek, vrae begin vra, leidrade opgevolg. Die geslotekring-televisiebeeldmateriaal van die kuierplek waar Moore die laaste ure voor sy dood was, is uitgewis. Die identiteit van die twee mans saam met hom bly onbekend. En wie het die ambulans gebel toe hulle iemand buite die hek sien lê het, vra hy.

Hy moes boonop in die media verneem dat die saak klaarblyklik aan die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) voorgelê is om die pad vorentoe in die ondersoek te help bepaal omdat geen verdagte nog geïdentifiseer is nie.

“Dit is moeilik om vrede te maak. Ons word weekliks getraumatiseer. Ons weet nie wat aangaan met die ondersoek nie. Hoekom sê die polisie dis moord? Ons het aangeneem dis ʼn ongeluk, maar by die nadoodse ondersoek sê die polisie dit is moord, want die kopbesering is deur iemand anders toegedien.

“Jy bly dit herleef.”

Moore was ‘n verkoopskonsultant en ‘n bekende gesig op die dorp.

Stemmet sê hulle hoop iemand wat op daardie noodlottige aand in die kuierplek was, kom na vore. Enige inligting help. Dieselfde met die persoon wat die ambulans aanvanklik ontbied het.

“Daar is rééds baie mense wat probeer help. Self sal ek die saak nie los nie. Die saak kan nie afgehandel word as al die getuies nog nie eens ondervra is nie. Sluit die saak, maar eers as al die vrae beantwoord is,” sê hy.

Hy sê tot dusver het niemand van die polisie eens medelye met hul verlies betuig of net naastenby die onderneming gegee dat hulle minstens sal probeer uitpluis wat daardie aand gebeur het nie.

“Job se geduld en Salomo se wysheid. Dis wat hierdie ondersoek nodig het,” sê Stemmet.

Kol. Donald Mdhluli, polisiewoordvoerder in Mpumalanga, het nie op navrae oor vordering met die ondersoek gereageer nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Cecilia ·

Dis baie gerieflik dat d beeldmayeriaal by d kuierplek uitgewis is. Hazyview is nou nie n stad nie. Seker daarvan d Barman kan n beskrywing vd 2 wat met Moore n woordewisseling gehad het gee. Maar nee d SAPS is te useless om eers daaraan te dink.
Sterkte aan sy familie. Ek weet hoe dit voel as jy nie antwoorde kry nie. Ek bid vir julle.

Alta Alleman ·

Wou dieselfde vraag vra. Hy is ‘n bekende op die dorp. So baie mense het gesien wie die ander 2 mans is. Iemand het sekerlik hulle herken?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.