Steenkoolkontrak: ‘Eskom speel vir tyd’ – AfriForum

Argieffoto (Foto: Shutterstock)

Eskom se planne om te appelleer teen verlede week se hofuitspraak van die Gautengse hooggeregshof – waarin bepaal is dat die kragvoorsiener inligting oor sy bestaande steenkool- en dieselkontrakte aan AfriForum moet openbaar – is bloot nog ’n vertragingstaktiek, waarsku dié burgerregteorganisasie. AfriForum het vandag benadruk dat die organisasie ’n appèl teen die uitspraak sal teenstaan.

Eskom werp skynbaar alles in die stryd om te verhoed dat hy inligting rakende sy bestaande steenkool- en dieselkontrakte in die volgende tien dae aan AfriForum moet openbaar. Dit ondanks die feit dat die hof Eskom op 24 Maart beveel het om gehoor te gee aan AfriForum se aansoek om dié kontrakte ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (PAIA) te bekom.

Die kragvoorsiener het AfriForum, ’n dag ná die uitspraak gelewer is, skriftelik in kennis gestel dat hy aansoek om verlof tot appèl gaan doen. As gevolg hiervan gaan Eskom nie die inligting rakende sy bestaande steenkool- en dieselkontrakte aan AfriForum oorhandig nie.

Volgens Louis Boshoff, veldtogbeampte by AfriForum, versterk hierdie stap die burgerregteorganisasie se vermoedens dat die kontrakte ongerymdhede bevat wat Eskom geheim wil hou.

“AfriForum is daarvan oortuig dat die onlangse uitspraak waterdig is en sal daarom die beplande appèlaansoek teenstaan”, sê Boshoff. “Dit is tyd dat Eskom se vertragingstaktieke end kry en die kragvoorsiener verantwoordbaar gehou word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Herman L ·

Ek hoop Afriforum is suksesvol om hierdie aansoek teen te staan.

Wondermaarnet ·

Hulle leer mos by die kaders hoe om vir tyd te speel. Mag hierdie saak suksesvol wees en die koppe rol.

Papsak ·

Ek glo Afriforum kan hierdie aansoek teen staan druk hulle hoekom speel hulle vir tyd ????

Jacobus ·

Vir iemand wat in die bedryf gewerk het weet dat ons prima steenkool deur kaders teen geweldige wins uitgevoer word terwyl Eskom die absolute bodem moet skraap met feitlik onbruikbare materiaal. Verder word meeste kool per pad vervoer wat ‘n verder kersie op die koek van “bevoorregte” leaders aangesien meeste voerband stelsels kaput is!

Di ·

Tyd dat hierdie skelms openaar gemaak word. Hoop Afriforum slaag hierin dat ons antwoorde kan kry rondom die skuldiges in ESKOM en ANC

Chris ·

Dit is waaroor De Ruiter geskryf het. Nou word hul aan die maak gestel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.