Steinhoff: Reguleringsraad se ondersoek ‘kan nou begin’

Christo Wiese, die voormalige voorsitter van die oorsigtelike raad en een van die grootste aandeelhouers in Steinhoff. Foto: ANA

ʼn Ondersoek na die Steinhoff- “rekeningkundige skandaal” wat die multinasionale handelaar se aandeleprys skerp laat tuimel het, sal vandeesmaand in alle erns begin, het LP’s Woensdag gehoor.

Bernard Agulhas, die uitvoerende hoof van die onafhanklike reguleringsraad vir ouditeure (Irba), het die parlement se komitees oor finansies, openbare rekeninge en openbare dienste en administrasie toegespreek. Hy het gesê ʼn saak teen Steinhoff is in Desember aanhangig gemaak en daar is inligting versoek van onder meer die maatskappy se ouditeurs, Deloitte.

Agulhas het gesê die Irba het die afgelope Maandag ʼn reaksie van Deloitte af ontvang. “Ons kan nou eindelik begin met die ondersoek wat ons vir Februarie 2018 beplan het,” het hy gesê.

Die Irba is ook in gesprek met sy Duitse en Nederlandse eweknieë, het Agulhas gesê. Steinhoff se hoofnotering is in Frankfurt en sy korporatiewe setel is in Amsterdam.

LP’s het vroeër die dag reguleerders, insluitende die Raad op Finansiële Dienste (FSB), daarvan beskuldig dat hulle nie die Steinhoff-kwessie ernstig genoeg opneem nie. Die nuus van die rekeningkundige onreëlmatighede het miljarde rande van die maatskappy se markwaarde afgevee.

Die Suid-Afrikaanse Reserwebank het gereageer deur te sê die saak word wel ernstig opgeneem, maar het bygevoeg die bank glo nie valutabeheer is oortree nie.

Die FSB het ook gesê hy ondersoek die saak en neem dit ernstig op, maar dat hy nog wag vir ʼn verslag van PriceWaterhouseCoopers (PwC) wat deur Steinhoff aangestel is om ʼn onafhanklike ondersoek te doen na die rekeningkundige onreëlmatighede in die maatskappy se finansiële state van so ver terug as 2015.

Heather Sonn, Steinhoff se waarnemende voorsitter, het LP’s vroeër ingelig dat die maatskappy ʼn klag van bedrog teen Markus Jooste, Steinhoff se voormalige uitvoerende hoof, by die Valke aanhangig gemaak het.

Behalwe vir dié onthulling het Sonn, Christo Wiese, Steinhoff se voormalige raadsvoorsitter en een van die grootste aandeelhouers, en Steve Booysen, die hoof van die raad se ouditkomitee, gesê hulle kan nie enige vrae beantwoord oor wat tot die skandaal gelei het nie en dat hulle ook vir PwC se verslag wag.

Wiese het gesê hy het bewus geword van die rekeningkundige onreëlmatighede net dae voordat dit vroeg in Desember aan die lig gekom het. Hy het beklemtoon dat die ouditeurs wat die onreëlmatighede in 2017 se finansiële state opgetel het, dieselfde maatskappy was wat “ruim betaal is” om vorige oudits te doen en wie se integriteit nou bevraagteken word.

Booysen het gesê hoewel aanvanklike berigte van bedrog by Steinhoff, wat deur Duitse owerhede ondersoek is in September verlede jaar aan die lig gekom het, is die onreëlmatighede eers in Desember bevestig.

Jooste is gevra om ʼn voorlegging te doen om sekere transaksies te verduidelik, en “nog belangriker – die kontantvloei van sekere transaksies te verduidelik,” het Booysen gesê. Jooste het glo nie vir hierdie voorlegging opgedaag nie en het om 19:45 daardie aand sy bedanking ingedien.

Die Steinhoff-span het gesê hy sal vandeesweek met PwC vergader om die saak te bespreek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.