Stembriewe gedruk; verkiesingsuitslag dán verwag

Só het die stembriewe in 2019 gelyk. Stembriewe sal vanjaar anders lyk. (Foto: Twitter via @IECSouthAfrica)

Die finale uitslag van vanjaar se nasionale en provinsiale verkiesing sal waarskynlik eers op Sondag 2 Junie bekend gemaak word. Uitslae word tradisioneel op die Saterdag ná stemdag bekend gemaak.

Vanjaar se verkiesing sal egter na alle waarskynlikheid anders verloop, bloot weens die magdom stembriewe wat die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) moet tel.

Masego Sheburi, die OVK se adjunk- uitvoerende hoof van verkiesings, het Woensdag aan verslaggewers by ʼn werksessie van die Suid-Afrikaanse Nasionale Redakteursforum (Sanef) gesê daar sal vanjaar weens die derde stembrief (vir onafhanklike kandidate) 50% meer stembriewe wees om te tel.

Altesame 52 partye en 11 onafhanklike kandidate neem op 29 Mei aan die nasionale en provinsiale verkiesing deel.

Die stembriewe sal daarom vanjaar nie net een nie maar twee kolomme hê weens die hoeveelheid kandidate wat op die stembriewe moet verskyn.

Volgens Sheburi sou daar probleme met die druk van stembriewe kon inglip sou daar slegs een ellelange kolom met kandidate op die stembrief verskyn. Slegs twee drukkers in die land sou boonop dié lywige stembrief kon druk.

Alle stembriewe is reeds gedruk. Sheburi sê daar kan dus geen aanpassings aan die stembrief gemaak word indien Suid-Afrikaners oor minder as drie weke hul kruisies wil gaan trek nie.

Daar is reeds op 10 April aan stembriewe begin druk wat beteken dat die verkiesing onmoontlik op 29 Mei sal kan geskied indien die Konstitusionele Hof in die guns van die Arbeidersparty, die ACT en die Afrikan Alliance of Social Democrats (AASD) beslis, sê Sheburi.

Dié partye versoek dat die OVK sy aanlyn portaal weer oopstel sodat hulle hul kandidatelyste kan indien. Die portaal het glo voor die sperdatum onklaar geraak terwyl hulle besig was om hul stawende dokumente op te laai.

Die Konstitusionele Hof het Woensdag uitspraak voorbehou.

Só verloop sake ná stemdag

Sheburi het Woensdag aan verslaggewers verduidelik dat 90% van stemme binne die eerste 24 uur ná die verkiesing getel word. Die oorblywende 10% neem egter nog dae om afgehandel te word. Dié langer proses word gewoonlik toegeskryf aan onreëlmatighede of pogings om die verkiesingsuitslag te beïnvloed.

Politieke partye het ná die verkiesing tot Vrydag om 21:00 kans om besware aan te teken. Hierdie besware moet dan oorweeg word voordat die finale uitslae eindelik bekend gemaak kan word.

Die finale uitslae, waaronder die hoeveelheid setels per party, sal vanjaar na verwagting teen 5 Junie in die Staatskoerant gepubliseer word. Die uitslae sal ook op dié dag aan die sekretaris van die parlement oorhandig word.

Teen 6 Junie ontvang die hoofregter die uitslae vir die beëdiging van suksesvolle kandidate.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Manie ·

Hoe langer daar vir stembrief tellings gewag word, hoe groter word die kanse op onderduimshede. Hulle noem sommer direk van die laaste 10% wat lank neem om te tel. Dis dalk net die 10% wat ‘n sekere party kort om aan bewind te bly.

JohanR ·

Moenie nou soos soms met matriek eind vraestelle die briewe in verkeerde hande op eindig. Na die tyd kan Luthuli Huis miskien deursoek word?

Carina ·

Ek kan nie verstaan dat die stem proses nie al op ‘n digitale manier kan gedoen word nie. Almal het ‘n selfoon of toegang tot ‘n selfoon of rekenaar. Teken in met jou ID nommer. As jy nie ‘n geldige SA ID het nie, kan jy nie stem nie. So geen “ingevoerde” stemmers nie. En jy kan net 1x inteken, so geen dubbel stemme nie. Jy klik op die party, persoon, ens vir wie jy wil stem en jy’s klaar. En die resultate is dadelik beskikbaar. Die druk van stembriewe kos miljoene, baie verdwyn, word gemors en word gemanipuleer om sekere partye voorkeur te gee. Maar digitaal kan dit nie gebeur nie. Wanneer gaan ons bykom??

Samuel ·

Hierdie verkiesing sal seker nie sonder bedrog plaasvind nie. Oneerlikheid is mos aan die orde van die dag.

Jack ·

Ek stem saam met Carina.Maak dit so eenvoudig tog so veilig as moontlik.Hoekom in lang rye staan en die stembokse kan na willekeur “wegraak” na die tyd.Die OVK is nie geloofwaardig nie.

Daisy ·

Geen stemmery, in geen land, was al “free and fair” nie
Daar sal altyd gekonkel word en onderduimshede plaasvind
Ek weet nie of dit waar is nie, maar ons is aangeraai om ons eie penne saam te vat en nie die te gebruik wat verskaf word nie, aangesien sommiges “vanishing ink” bevat.
Het iemand anders dalk ook die gehoor? Sal graag kommentaar hieroor wil hoor

Bolandse Nooi ·

Dit gee die ANC 1 dag meer tyd om met die uitslae te peuter …

OneWheel ·

Hoekom gebruik die OVK nie sommer die LOTTO-masjiene se netwerk om mense te laat stem nie? Dis gewaarborg om peuterbestand te wees, werkend en hoë sekuriteit?

Jaco ·

Dit verstaan ek ook nie, moes al lankal weg gedoen het met die papier goed.

Marina ·

Vader net belaglike dat daar soveel partye moet wees!! Is daar enige Ander land in die wêreld wat met soveel partye sit?! Is oor elkeen wat idee het party stig want soek sy deel van daardie hoë pakket van in die kabinet te wees en wil koning kraai op sy eie miershoop!!

Lettie ·

Hoop ons kry DUIDELIKE vooraf papier stembrief beskikbaar sodat ons nie deur al daardie gesigte moet gaan sóék nie. Asseblief kkn hul dit nie meer eenvoudig gemaak het nie. 3/4 partye 2 vir eenklomp en ander 2 vir ander klomp. Daar reeds te veel mense waarvoor ons moet opdok.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.