Stemdag ‘geleentheid om SA van ANC te red’, sê opposisiepartye 

(Argieffoto: Reint Dykema)

Opposisiepartye het die aankondiging van vanjaar se verkiesingsdatum verwelkom en dit onomwonde gestel dat dit ʼn geleentheid is om Suid-Afrika van die regerende ANC te red.

Pres. Cyril Ramaphosa het Dinsdag aangekondig die algemene en provinsiale verkiesings van 2024 sal op 29 Mei plaasvind.

John Steenhuisen, DA-leier, het gesê die aftelling kan nou begin na ’n geskiedkundige oomblik waar Suid-Afrika die geleentheid het om homself te red van 30 jaar van ANC-mislukking, korrupsie en staatskaping.

“Hierdie verkiesing is ’n keerpunt vir Suid-Afrika, en dit kom op ’n tyd dat ons nasie dit in drie dekades die nodigste het.”

Die DA het volgens Steenhuisen noukeurig voorberei vir “hierdie geskiedkundige verkiesing”, met steunvlakke vir die party wat volgens hom tans die hoogste ooit is.

Dr. Pieter Groenewald, VF Plus-leier, het gesê die aankondiging van die verkiesingsdatum bring sekerheid en sal daartoe aanleiding gee dat die momentum sal begin opbou onder politieke partye, organisasies en die publiek oor die verkiesing wat “allerbelangrik is vir die toekoms van Suid-Afrika”.

Die EFF het gesê die verkiesing is ʼn geleentheid vir alle Suid-Afrikaners om ʼn einde te bring aan die “ellende wat ons as ʼn nasie gely het onder die onbevoegde, korrupte en onverstandige regering van die ANC”.

ActionSA het gesê sy verkiesingsveldtog sal daarna streef om alle Suid-Afrikaners te wys dat hy die land kan regruk, maar dat hierdie werk eers kan begin sodra die ANC uit sy amp verwyder is. “ActionSA is die party wat dit sal bereik,” het Michael Beaumont, nasionale voorsitter van ActionSA, gesê.

Mkhuleko Hlengwa, woordvoerder van die IVP, het gesê hy beskou 29 Mei 2024 as ’n dag van vryheid vir die land, “om homself finaal te bevry uit die kloue van ’n ANC-regering wat net armoede, werkloosheid, onderontwikkeling en wydverspreide korrupsie gelewer het”.

Die UDM meen die komende verkiesing lui ’n oomblik van afrekening vir Suid-Afrika in, wat sy burgers ’n seldsame kans bied om los te breek uit die wurggreep van ’n regerende elite wat ontkoppel geraak het van die wese van demokrasie. “Dit verteenwoordig ’n ongeëwenaarde geleentheid om ’n ambisieuse poging aan te pak om die struktuur van ons samelewing te rekonstrueer, wat die welsyn van ons nasie op die voorpunt van ons kollektiewe pogings plaas,” het Yongama Zigebe, nasionale sekretaris-generaal van die UDM, gesê.

Rise Mzansi, wat vanjaar in sy eerste verkiesing sal staan, meen daar sal op 29 Mei nuwe leiers vir Suid-Afrika gekies word.

“Demokratiese regimeverandering kan en sal plaasvind. Of dit nou misdaad of die ekonomie is, alle aanwysers dui daarop dat die tyd vir Suid-Afrika min raak en daarom is dit noodsaaklik dat ons almal ons moue oprol sodat ons verandering onder leiding van nuwe leiers kan bewerkstellig,” het Songezo Zibi, leier van Rise Mzansi, gesê.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Michael ·

Die vraag wat gevra moet word is sal die anc soos lamsak de klerk net gaan lê en die mag oorgee?

KB ·

Wie en wat is Rise Mzanzi? Hulle is nie eers in die parlement nie. Hoekom hulle vermeld?

muffin ·

ja kom stemdag nader sodat ons gaan stem om van ANC-mislukking, korrupsie en staatskaping en tweede apartheid te stop.

Seef ·

29 Mei sal gekenmerk word as die dag in SA se geskiedenis waarop die ANC die grootste verkiesingsbedrog ooit gepleeg het.

Nicky ·

Maak net seker hulle het nie al bokse en bokse vol kruisies, wat hulle wgsteek tot stemdag

Republikein in die Wes Kaap ·

Samuel, wees verseker die SADC, AU, BRICS, VN en EU sal die verkiesing vry en regverdig verklaar.

Pandora ·

Vir wie moet ons nou eintlik stem?
In my gemeenskap sien mens net ANC en EFF – die ander partye is of te besig met hul eie dinge.
Sou graag die regte keuse wou maak.

JohanR ·

Pandora stem maar ANC as jy nog 5 jaar van vrot wil he! Jy hoef nie ‘m ANC by jou deur te he om te weet hoe vrot hulle is!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.