Sterftes, beserings bevestig ná ontploffing by raffinadery

(Foto: SAPD/Twitter)

ʼn Man en ʼn vrou is dood en minstens ses mense beseer in Donderdagoggend se ontploffing by Astron Energy se Milnerton-raffinadery in Kaapstad.

Die Wes-Kaapse polisie het die sterftes en beserings bevestig. “Die oorsaak van die ontploffing word steeds ondersoek.” Geen verdere besonderhede is bekend gemaak nie.

Maroela Media het vroeër berig die ontploffing het tot gevolg gehad dat huise in die onmiddellike omgewing geskud het.

Astron Energy het nog slegs bevestig dat daar omstreeks 04:00 ʼn “voorval” by sy Milnerton-raffinadery was.

Lede van Kaapstad se brandweer-en-reddingsdienste op die toneel by die Milnerton-raffinadery. (Foto: @Abramjee/Twitter)

“Ons noodreaksieprosedures is onmiddellik geaktiveer en die betrokke owerhede is in kennis gestel. Die gevolglike brand is onder bedwang gebring en alle bedrywighede by die aanleg is opgeskort,” het die maatskappy in ʼn kort verklaring gesê.

Jermaine Carelse, woordvoerder van Kaapstad se brandweer-en-reddingsdienste, het bevestig hulle is op die toneel, maar het alle verdere navrae na Astron Energy verwys.

Suzanne Pullinger, ʼn woordvoerder van die maatskappy, het intussen aan Maroela Media gesê meer inligting sal later bekend gemaak word.

Astron Energy het in die verklaring gesê sy prioriteit is om die veiligheid te verseker van almal op die toneel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.