Sterker ekonomiese groei in tweede kwartaal

(Argieffoto: Ford/Verskaf)

Suid-Afrika se ekonomie het met 0,6% in die tweede kwartaal van die jaar gegroei.

Dit volg op die 0,4%-styging in BBP wat in die eerste kwartaal aangeteken is.

Luidens Statistieke Suid-Afrika (StatsSA) se jongste syfers het ses bedryfsektore aan verskaffingskant in die tweede kwartaal gegroei – met vervaardiging en finansies wat veral vir opwaartse momentum gesorg het. Ten opsigte van die vraag na produkte het die land gebaat by ʼn skerp styging in beleggings in masjinerie en toerusting wat insluit produkte wat verband hou met hernubare energie.

Ses van die tien bedryfsektore het in die tweede kwartaal ʼn toename in ekonomiese aktiwiteit getoon: landbou, bosbou en visserye, vervaardiging, mynbou, persoonlike dienste, finansies en staatsdienste.

(Grafika: StatsSA)

Ná twee agtereenvolgende negatiewe kwartale het landbou ʼn positiewe koers ingeslaan. Die 4,2%-styging in uitsette is gedryf deur toenames in die produksie van veld- en tuinbougewasse. Gunstige weersomstandighede, verhoogde verbouing en ʼn toename in die vraag na uitvoere het verdere stukrag aan die sektor verleen.

Die mynboubedryf het ook betreklik goed presteer en ʼn tweede agtereenvolgende kwartaal van groei agter die rug. Die persoonlike dienste- bedryf het gegroei danksy hoër groei in onderwys en gesondheid, terwyl die styging in algemene staatsdienste hoofsaaklik toegeskryf word aan ʼn toename in personeelgetalle, sê StatsSA.

Nie alle bedryfsektore het egter ʼn positiewe tweede kwartaal ondervind nie. Ná 18 maande van volgehoue groei het die vervoer-, stoor- en kommunikasiesektor se inkomste met 1,9% gekrimp. Vervoerdienste was lusteloos en daar was ʼn afname in padvervoer en padpassasiersvervoer.

Handelsyfers het ook gedaal weens swakker klein- en groothandelsyfers. Die algehele daling is teengewerk deur verhoogde bedrywighede in voertuighandel, toerismeverblyf en restaurante, spyseniering en die kitskosbedryf.

Die boubedryf is een van die sektore wat stoom verloor het.

Huishoudings het minder geld, maar…  

Huishoudelike besteding het in die tweede kwartaal afgeneem terwyl verbruikers op allerlei goedere en dienste probeer besnoei het. Ondanks die algehele daling, het huishoudings se besteding ten opsigte van restaurante en hotelle toegeneem en die sektor het vir ʼn sewende agtereenvolgende kwartaal gegroei.

(Grafika: StatsSA)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

houopkruip ·

Die ekonomie vaar beroerd, swak, skokkend.
Punt.
“100% van byna niks is steeds byna niks”.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.