Steyn ‘tree vir tree’ terug by die skool

Steyn Steenberg terug by die skool. (Foto: Verskaf)

Steyn Steenberg pak die lewe deesdae een treetjie op ʼn slag aan.

“Met elke dag wat verbygaan vind hy weer sy normale roetine. Met tyd gaan dit ál beter.”

Dié gr. 10-leerder aan Hoërskool Garsfontein in Pretoria het Maandag, tot talle se verbasing, vir die eerste keer sedert die motorfietsongeluk wat sowat twee maande gelede sy been geëis het, teruggekeer skool toe.

“Dit was ’n groot oomblik. Dit het behoorlik gevoel soos sy eerste dag van skool in graad een. Sy vriende was só bly om hom te sien,” het Jacques Steenberg, Steyn se pa, aan Maroela Media vertel.

Jacques en sy vrou, Christa, het nie gedink dié oomblik sou so vinnig aanbreek nadat hulle weke lank langs hul blondekop-tienerseun se hospitaalbed moes waak en hom toe weke lank moes moed inpraat tydens rehabilitasie nie.

“Ná sy ernstige beserings het ons nie gedink hy sal gou weer skool toe gaan nie. Hy verbaas ons só,” vertel Jacques. Steyn was net tot 11:00 vandag by die skool en sal mettertyd al langer bly soos hy daarvoor kans sien.

Maroela Media het vroeër berig Steyn het in Mei vanjaar by die dood omgedraai toe hy op Moedersdag sowat ʼn kilometer van sy ouerhuis met sy motorfiets teen ʼn staalversperring gebots het. Al drie die hoofslagare in die been is tydens die ongeluk afgesny. Sy beserings was van só ʼn aard dat dokters tussen sy lewe en sy been moes kies. Sy been is gevolglik geamputeer.

Sy longe het ook kort ná die ongeluk platgeval en sy bekkenbeen is tydens die ongeluk gebreek. Hy is dae lank onder verdowing gehou voordat hy stadig maar seker van die verdowing gespeen kon word.

Steyn het ná die ongeluk gesukkel om te sluk of te praat weens moontlike ligte beroertes wat hy in twee gedeeltes van sy brein opgedoen het. Die beroertes het waarskynlik plaasgevind toe Steyn ná die ongeluk in die hospitaal opgeneem is en deur dokters bygebring moes word omdat hy weens bloedverlies sy bewussyn verloor het.

Steyn Steenberg ná die ongeluk in die hospitaal. (Foto: Verskaf)

Volgens Jacques het Steyn se spraak sedertdien sowat 90% verbeter nadat hy vir ses weke lank spraakterapie in ʼn rehabilitasiesentrum ontvang het. Hiér het hy ook intensiewe fisio-, arbeids- en sielkundige terapie ontvang.

Steyn het egter 50% sig aan die linkerkant van albei oë verloor en in dié stadium is dit die grootste bron van bekommernis, vertel sy pa.

Intussen loop Steyn tans met ʼn tydelike prostese om daaraan gewoond te raak totdat hy ʼn permanente prostetiese been ontvang. Die nodige geld vir dié been moet nog ingesamel word.

Jacques verduidelik dat Steyn in dié stadium nog baie pyn het en sukkel om met die tydelike been te loop. Om sake te vererger het hy ook sy gewrig in die ongeluk verplaas en ten spyte van behandeling, sukkel hy steeds om gemaklik met krukke te loop.

“Dit is ʼn aanpassing. Dit is baie moeilik om met die tydelike been te loop, maar hy werk daaraan en bly positief. Sy gemoed is positief. Hy is oor die trauma daarvan om sy been te verloor. Ek dink hy is reg om aan te gaan met sy lewe,” vertel Jacques.

Steyn se skool is besig met ʼn geldinsamelingsinisiatief om Steyn se eie permanente prostetiese been te finansier vir wanneer hy later vanjaar gereed is om met dié been te leer loop.

Besoek die Facebook-blad “Steyn se storie” om sy vordering te volg of ʼn bydrae tot die insamelingsprojek te maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

Arno Scheepers ·

Welgedaan en sterkte jongman. Ek bewonder jou moed. Maklik gaan dit nie wees nie. Ons hou aan bid vir jou

Boki ·

Wow wow wow, ek volg hierdie storie al van dag een af! Ek ken jou nie maar my hart was regtig in stukke gewees toe ek die eerste artikel gelees het. En om te sien hoe ver jy gekom het is net amazing vir my! Ek hoor jy se jys nie altyd positief nie maar moet nie te hard op jouself wees nie sover doen jy wonders. Eks trots op jou dat jy nie gaan le het nie maar wel opgestaan het. Jy is verseker i yster van i mens jong man en ons almal kan iets by jou leer. Bly bid, bly hoop en hou jou moed jys op die regte pad. ♡♡

Marinda Hattingh ·

Boki, ons gesin is só bevoorreg om hierdie unieke en kosbare gesin te ken, en kan absoluut beaam wat jy sê. Jy het Steyn heeltemal reg opgesom. Hy en sy gesin is ñ inspirasie vir baie.

Megan ·

Ek weet sommer dat hierdie jong man die beste ondersteuning ontvang. Sekerlik vanaf sy ouers. Maar defnitief vanaf sy skool! Ek myself is ‘n oud Garsie en voel sommer nou ekstra trots om te weet dat hierdie skool en gemeenskap bankvas agter hierdie seun staan met sy aansterking. Ons bid vir jou jongman. Met geloof sal jy gou gou weer jouou self wees!

Pensioenaris ·

Baie sterkte aan hierdie hele gesin! Ons kan net daagliks vir hulle bid. Gebede het hulle tot dusver gedra en sal dit ook vorentoe doen. Hy sal dit nog ver bring want hy is ‘n vegter. Sterkte jong man.

Lenie ·

Jy is so n groot voorbeeld vir baie daar buite. Hou aan veg en moet nie moed verloor nie. Jy is n warrior vir God en ons is trots op jou. Hou jou oë gevestig op God. Jy is kosbaar

hercu ·

ek salueer jou Steyn!! baie sterkte en hou vas aan Abba Vader se liefde en genesende hand – bid vir julle!!

Elmaré Smit ·

Jy is n voorbeeld vir baie van ons. Ons is trots op jou. Ons bid vir jou. Sterkte. Jesus liefde

Lana ·

Steyn, ek is so dankbaar dat jy al tot hier gevorder het. Ons bid steeds vir jou. Met tyd kan dit net al beter gaan!!

Gorrie van Melbourne ·

Jou yester!

Sterkte daar, jys n voorbeeld vir ons almal.

Groete vanaf n our Garsie.

Marie ·

Sterkte seun! Jy is ‘n inspirasie! Hou moed! Jy het al klaar soveel bereik in so kort tyd! Sal jou opdra aan ons Hemelse Vader xx

honourable member ·

Sterkte jong man. Jy is n groot inspirasie vir baie mense.

Pienk ·

Hierdie jong man met sy vegtersgees en moed is n groot aanwins vir die samelewing. Ek sal ook graag by sy ouers gaan kersopsteek want hul doen duidelik n fantastiese job om hom te ondersteun en groot te maak.

lvdh vanuit Nederland ·

Ons volg jou verhaal vanaf die begin. Kry telkens hoendervleis as ek oor jou vordering, positiwiteit en ongelooflike deursetting lees. Sterkte jongman! en sterkte aan almal wat jou met soveel liefde bystaan en ondersteun!

lh ·

Wat ‘n pragtige seun, Tannie is SO trots op jou! Daai Hand wat jy voel in joune? DIT, is God se Hand my kind . . . Hy sal jou NOOIT verlaat nie! Ek bid jou genade en voorspoed toe, jy is ‘n YSTER!
Sterkte aan die Ouers en gesin, mag Steyn ‘n voorbeeld wees, vir almal wat verkies om te bly lê!

Ep ·

Dink sy maats/vriende moet sy naam verander om te lees YSTER …. maggies was dit lekker om so positiewe berig te lees van die jong man. Ysater jy maak baie mense trots om jou en ek glo meer vir jou ouers Jy gaan nog ver in jou lewe kom, ons gaan nog baie van jou welslae lees Dankie aan Hoërskool Garsfontein wat help om dit makliker te maak vir jou dit weerspieël die positiewe karakter van die skool

Waar kan ons die rekening nr kry dat ons as lesers n bydrae kan maak hoe gering?

Annelize Mostert ·

Steyn, jy ‘n brawe jong man. Alles mooi is vir jou toekoms en ook baie sterkte

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.