Stigting geskok oor aanstelling van nuwe leërhoof

Lt.genl. Lawrence Mbatha, nuwe hoof van die leër.

Die Stigting vir gelykheid voor die reg het die aanstelling van die nuwe hoof van die leër verwerp en sy skok oor die besluit om lt.genl. Lawrence Mbatha in dié pos aan te stel, te kenne gegee.

Mbatha is ʼn week gelede as die nuwe leërhoof aangewys.

Sy aanstelling het gevolg op die skielike dood van die voormalige leërhoof lt.genl. Thabiso Mokhosi. Dié is in Desember in ʼn hospitaal dood ná ʼn kort siekte, net ʼn paar maande nadat hy as hoof van die leër aangestel is.

Die parlementêre komitee vir verdediging en militêre veterane het Mbatha se aanstelling verwelkom en hom sukses toegewens.

Die Stigting vir gelykheid voor die reg deel egter nie dié sentiment nie.

JP Botha, voorsitter van die stigting, het Vrydag gesê Mbatha se aanstelling is “sonder twyfel ʼn voortvloeisel uit ʼn verrotte regstelsel waar die reg op ʼn eensydige en onregmatige wyse deur die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) toegepas word”.

Die organisasie sê Mbatha het op 25 Mei 1993 ene Walter Smiles opdrag gegee om ʼn handgranaat in die Trustbankgebou in Kimberley te gooi. Hy het Smiles na die toneel vervoer en was teenwoordig toe die handgranaat gegooi is. Een persoon is dood en nog 40, ook vroue en kinders, is tydens die aanval beseer.

Luidens die rekords van die Waarheids- en-versoeningskommissie (WVK) was Mbatha destyds die Noord-Kaapse bevelvoerder van uMkhonto weSizwe (MK), die voormalige gewapende vleuel van die ANC.

Mbatha het later aansoek om amnestie gedoen, maar die amnestiekomitee het bevind die voorval was nie deel van die konflik van die verlede nie en het nie met ʼn politieke oogmerk verband gehou nie.

Sy aansoek is van die hand gewys en ʼn klagte van moord en poging tot moord is teen hom aanhangig gemaak.

Sy aanstelling as leërhoof is “skokkend”, het Botha gesê.

“Die growwe wyse waarop die Nasionale Vervolgingsgesag die bepalings van artikel 9 van die Grondwet en reg en geregtigheid in die algemeen minag, word nog sterker beklemtoon as dit in ag geneem word dat die dade waarvoor voormalige lede van die veiligheidstak tans vervolg word, sonder uitsondering met ʼn politieke oogmerk verband hou en in die konflik van die verlede gepleeg is,” het hy gesê.

Die stigting meen dit val dus binne die bepalings van die slotgedeelte van die Tussentydse Grondwet.

“Daarteenoor hou die moord en poging tot moord wat lt.genl. Mbatha [na bewering] gepleeg het, volgens die nadruklike bevinding van die amnestiekomitee, nie verband met ʼn politieke oogmerk nie en is [dit] nie in die konflik van die verlede gepleeg nie. Dit val derhalwe nie binne die bepalings van die slotgedeelte van die Tussentydse Grondwet nie en is vir alle regsdoeleindes gewone moord en poging tot moord,” het Botha gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Nie Verbaas ·

So hy behoort eintlik agter tralies te wees. Wonder hoekom hy nooit vervolg is nie.

Rodger17 ·

Sjoe nou het ek als gehoor!Hoe stel jy só persoon in so pos aan,behalwe dat hy anc is?Dis uiters belaglik en verregaande!Sies vir die anc!

Piet parys ·

So wat se die Cyril aanhangers nou . Anc seker die korrupste regering wat ooit in SA regeer het . Hulle reken hulle is untuchable maar die wiel draai .

Jaco ·

Lekker jobs vir Broederbonders in die ou SA was maar dieselfde soort van ding as wat nou gebeur. bekwaamheid het wel in daardie jare ‘n baie groter rol gespeel, maar ek weet tog ook van Broederbonders wat jobs gekry het waarvoor hulle nie die beste bekwaam was nie.
So vandag se “hulle” het die beginsel van jobs vir jou politieke pelle maar net by die “ons” van die ou SA geleer. Al fout wat hulle vandag maak, is om glad nie na bekwaamheid en ondervinding te kyk nie.

johanf ·

Glo nie ek sal dit in my leeftyd ervaar nie, “genoeg is genoeg” is uit vir die minderheid…..

Sonneblomkind ·

Wonder nou…wie het hom goedgekeur. As hy misdaad kon pleeg en wegkom….sien ek groot probleme vir ons …

johanf ·

Michael 1 : Glo nie ek sal dit in my leeftyd ervaar nie, “genoeg is genoeg” is uit vir die minderheid…..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.