Stormers, jou lekker ding!

Peter O’ Mahony (Munster) en Steven Kitshoff (Stormers) by die VRK-trofee. (Foto: Carl Fourie/URC)

ʼn Mens kan seker die Stormers verskoon as hulle vir Munster se Jack Crowley ʼn biltongruiker wou stuur nadat sy suksesvolle skepskoppoging ʼn Kaapstadse rugbyskouspel verseker het; maar dit is gʼn vloekskoot dat John Dobson se span in sy tweede agtereenvolgende Verenigde Rugbykampioenskap-eindstryd (VRK) speel nie.

Ja, hulle het die groepfase in die derde plek afgesluit: Nederlae teen Cardiff, die Glasgow Warriors, Ulster en die einste Munster het daarvoor gesorg.

Maar kom ons wees eerlik met mekaar: Die Stormers maak dit tans lekker om rugby te kyk en topvertonings teen die Bulls, Sharks en Connacht het hul weg na die eindstryd gebaan.

Met Manie Libbok wat die toutjies vanuit sy losskakelposisie trek, is die Kapenaars se agterlyn bitter gevaarlik.

Wanneer die 25-jarige Humansdorp-boorling met selfvertroue speel, is hy so te sê onstuitbaar op die rugbyveld en hy het onder meer twee drieë teen Connacht in die halfeindstryd gedruk.

Manie Libbok het ’n barshou teen Connacht gespeel. (Foto: Hansie Linde)

Voeg daarby die vaart van Leolin Zas, die uitstekende sentersamespel van Dan du Plessis en Ruhan Nel, sowel as die dartellopies van Damian Willemse, en jy het ’n agterlyn wat enige span hoofbrekens gee.

Voorlangs kan jy op Evan Roos, Hacjivah Dayimani, Deon Fourie, Ben-Jason Dixon, Ruben van Heerden, Frans Malherbe, Joseph Dweba en Steven Kitshoff reken.

Om dan nie eens van Willie Engelbrecht en Marcel Theunissen te praat nie.

Waar Malherbe vir die kalmte en Dweba vir die vuur in die voorry sorg, is Kitshoff die gom wat die hele Stormer-meesterstuk bymekaarhou.

En die Springbok-stut is g’n onbekende spoeg-en-plak-handelsnaam wat inderhaas vóór die eerste skooldag van die nuwe jaar aangekoop word nie; aikôna, hy is soos Super Glue: bestendig en baie sterk.

(Foto: Hansie Linde)

Daarbenewens sal hy sy Kaapse rugbyhoofstuk op ’n hoë noot wil afsluit voordat hy sy tasse vir Ulster pak. En wat is beter as ’n tweede VRK-titel op ’n streep?

Hoewel Munster allesbehalwe kanonvoer in die eindstryd sal wees – hul onlangse spelpeil maak Jean de Villiers heel opgewonde – onderstreep die kaartjieverkope die Stormers se gewildheid.

Meer as 50 000 kaartjies vir die eindstryd is binne drie uur uitverkoop. ’n Sukkelspan sou dít nie reggekry het nie.

  • Stormers se VRK-uitslae (Kapenaars se telling eerste):

38 – 15 teen Connacht

34 – 18 teen Edinburgh

37 – 20 teen Zebre

16 – 16 teen Ospreys

24 – 30 teen Cardiff

31 – 22 teen Lions

36 – 19 teen Scarlets

34 – 26 teen Dragons

37 – 27 teen Bulls

40 – 8 teen Lions

17 – 24 teen Glasgow Warriors

5 – 35 teen Ulster

46 – 19 teen Sharks

23 – 19 teen Bulls

29 – 23 teen Sharks

22 – 22 teen Leinster

24 – 26 teen Munster

38 – 22 teen Benetton

33 – 21 teen Bulls (kwarteindstryd)

43 – 25 teen Connacht (halfeindstryd).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Hennie Biebouw ·

Ek hoop werklik Dobbo en kie verstaan wat op hulle wag. Hierdie gaan beslis nie ‘n wedstryd wees wat sommer gewen gaan word met “lekker loslit” rugby nie… Die Stormers sal beslis strukture in plek moet hê.

piet ·

Gaan definief ‘n harde wedstryd wees. Soos Munster die laaste paar weke gespeel het, is hulle die vorm span op die oomblik in my opinie. Hopelik kan die Stormers dit op hul tuisveld deurtrek.

SjN ·

Die snoek en patat span moet nie te gou fees vier nie, Sterkte, mag die beste span op die dag wen.

Niklaas ·

Ek hoop vir die beste vir die Stormers. Maar moet nie nou al die vreugdevure aansteek nie. Munster was nog nooit ‘n swak span nie en hul gaan verbete veg.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.