Kyk: Crowley skop Stormers na tuiseindstryd

Jack Crowley vier sy suksesvolle skepskoppoging teen Leinster. (Foto: Twitter/Munster)

Moenie verbaas wees as die planne reeds ingedien is om ʼn standbeeld vir Jack Crowley naby die DHL-stadion in Kaapstad op te rig nie.

Die Munster-binnesenter se suksesvolle skepskoppoging in die 78ste minuut van sy span se Verenigde Rugbykampioenskap-halfeindstryd in Dublin het nie net vir Leinster in sy spore gestuit nie, maar ook die weg gebaan vir ʼn tweede agtereenvolgende eindstryd in Kaapstad.

Crowley se heldedade beteken dat Munster die hoogaangeskrewe Leinster met 16 – 15 geklop het.

Dit is die tweede VRK-halfeindstryd op ʼn streep wat die Dublin-span met ʼn enkele punt op sy tuisveld verloor het. Verlede jaar het die Bulls ʼn groot haas uit die hoed gepluk toe hulle die uitklopwedstryd met 27 – 26 beklink het.

Maar terug na Crowley se skepskopheldedade.

Graham Rowntree, Munster-hoofafrigter, het die 23-jarige agterspeler vir sy komkommerkoel-houding geloof.

“Dit verg ongelooflike vaardigheid om so iets in ʼn drukkoker-situasie te doen, maar hy oefen baie hard,” het die Munster-hoofafrigter gesê.

Volgens Rowntree is hy ook nie bekommerd dat dit sy span se groot vertoning van die toernooi was nie. Anders as Engeland – wat in 2019 met die All Blacks in die halfeindstryd van die Wêreldbeker-toernooi afgereken het, net om sleg teen die Springbokke in die eindstryd te verloor – meen hy dat Munster se fut nog lank nie uit is nie.

“Pete O’Mahony (kaptein) het uitstekend in die kleedkamer gepraat toe hy gesê het dat die Leinster-kragmeting nie ons eindstryd was nie. Ons sal dus met baie selfvertroue na Kaapstad reis. Ons is hier om wedstryde te wen en die eindstryd sal geen uitsondering wees nie,” het hy beloof.

Munster het vroeër ʼn slag teen die Stormers in die groepfase geslaan toe hy die Kapenaars met 26 – 24 geklop het.

  • Die Stormers en Munster meet op 27 Mei kragte in die VRK-eindstryd op die DHL-stadion in Kaapstad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.