Strafregtelike klagtes teen EFF-LP’s ná chaos in parlement

EFF-LP’s word uit die raadsaal verwyder (10 Junie 2022) (Foto: Elmond Jiyane/GCIS)

Strafregtelike aanklagte is aanhangig gemaak teen EFF-LP’s ná hulle Vrydag die parlementêre sitting ontwrig het.

Nosiviwe Mapisa-Nqakula, speaker van die nasionale vergadering, sê twee parlementêre veiligheidswagte is aangerand toe hulle die LP’s uit die raadsaal verwyder het. Hulle ontvang mediese behandeling. “Strafregtelike aanklagte, insluitend aanranding en intimidasie, is teen die betrokke EFF-LP’s aanhangig gemaak deur lede van die personeel. Die parlement bied die nodige ondersteuning vir dié personeellede.”

Maroela Media het vroeër berig EFF-LP’s is uit die Goeie Hoop-gebou op die parlementêre perseel verwyder nadat hulle die president as onder meer ’n “geldwasser” uitgekryt het. EFF-LP’s het die sitting ontwrig en gesê hulle kan nie deur ’n misdadiger toegespreek word nie. Talle EFF-LP’s is later uit die gebou verwyder terwyl die wat aanlyn ingeskakel het se klank verdoof is.

Mapisa-Nqakula het die gedrag van die LP’s ten sterkste veroordeel vir hul minagting van die reëls en die gesag van die speaker.

“Deur hul optrede het hulle ook die regte van die res van die LP’s ontwrig toe hulle die president aanspreeklik wou hou oor hoe sy departement die begroting spandeer het.”

Pres. Cyril Ramaphosa (10 Junie 2022) (Foto: Elmond Jiyane/GCIS)

Sy het namens die parlement om verskoning gevra vir die mense van Suid-Afrika vir die “onsmaaklike tonele” in die nasionale vergadering. “Parlementêre prosesse bied verskeie kanale en platforms vir LP’s om die president, en alle lede van die parlement, aanspreeklik te hou. Van dié prosesse is mondelinge vrae, geskrewe vrae en byvoorbeeld tydens debatte oor die presidensiële begrotingstem.”

Sy sê niemand het die reg, mag of gesag om die werk van die parlement te ontwrig nie. “Dit is ʼn beginsel wat altyd beskerm sal word.

Die speaker het ook vir die president om verskoning gevra vir die vertraging en onaanvaarbare gedrag van die LP’s. “Ons bedank die president vir sy geduld en dat hy sy verpligtinge aan die parlement vervul ondanks ʼn onaanvaarbare situasie.”

Die parlement sal ook die gedrag van die LP’s ondersoek om te bepaal of enige verdere stappe gedoen sal word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.