Strand steeds gesluit ná walvis uitspoel

Die walvis het naby aan die promenade en die Oyster Box hotel in uMhlanga uitgespoel. (Foto: Verskaf)

Die Durban View-swemstrand in uMhlanga is steeds vir die publiek gesluit nadat ʼn boggelrugwalvis se karkas die naweek daar uitgespoel het.

Jennifer Olber, ʼn marine-ekoloog by Ezemvelo KZN Wildlife, het aan Maroela Media verduidelik dat die strand gesluit sal bly en mense verbied sal wees om daar te swem tot die haai-aktiwiteit in die area afgeneem het.

“Die ontbinde liggaam van die 15-m lange walvis het baie haaie na die area gelok.”

Olber sê die walvis was reeds dood toe dit op die strand uitgespoel het en dat daar nie ʼn rede vir die dood bevestig kon word nie. Sy noem egter dat die walvis baie walvisluise gehad het, wat daarop dui dat die walvis redelik siek was.

“Walvisluise is ʼn algemene verskynsel by boggelrugwalvisse. Hierdie walvis het egter gewemel van die luise.” Gesonde walvisse spring uit die water om van die luise ontslae te raak, omdat dit hulle laat jeuk.

Die walvis was ook heelwat maerder as wat van ʼn boggelrugwalvis verwag word en het na raming so 30 ton geweeg. ʼn Gesonde boggelrugwalvis weeg gewoonlik 38 ton.

Olbers sê dat boggelrugwalvisse ʼn jaarlikse migrasieroete al langs die oostelike kus van Suid-Afrika volg. “Hulle swem na die Mosambiekse kanaal, op pad na Madagaskar, om daar in warm waters te gaan kalf. Dit vind gewoonlik in Mei en Junie plaas. Tussen Oktober en November swem hulle weer terug noord na Arktiese waters.”

Die walvis se karkas is deur die eThekwini-munisipaliteit met behulp van grondverskuiwingstoerusting verwyder en toe is daarvan ontslae va geraak op ʼn stortingsterrein. “Die walvis was in ʼn soort van sandkanaal gestrand en daar was ʼn rotsbank agter die walvis, wat dit moeilik sou maak om die karkas weer terug in die see in te sleep. Dit kan ook nogal ʼn gevaarlike storie wees, want as die walvis uitmekaar sou trek, sou jy net hake en toue sien vlieg.”

Olber sê dat daar tussen agt en 12 walvisse per jaar op strande in die omgewing uitspoel. “Die boggelrugwalvisbevolking het sowat 10% per jaar oor die afgelope 30 jaar gegroei, so dit is te verwagte dat daar meer walvisse sal uitspoel.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Plastiek ·

Ek hoop werklik dat daar ‘n nadoodse ondersoek ingestel was, ek kan net raai dat plastiek die oorsaak van die dood was

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.