Strandganger in Umhlanga doodgeskiet

Paramedici is Dinsdagoggend na die Whalebone-loopbrug ontbied. (Foto: Verskaf)

ʼn Strandganger is Dinsdagoggend by die Umhlanga-strand in Durban doodgeskiet nadat hy glo in ʼn onderonsie met ʼn ander man betrokke was.

Shawn Herbst, woordvoerder van Netcare 911, sê paramedici is tussen 10:00 en 11:00 na die Whalebone-loopbrug ontbied ná gerugte van ʼn skietery.

“Ooggetuies beweer dat twee volwasse mans in ʼn geskil betrokke was toe een van hulle glo ʼn vuurwapen uitgepluk en die slagoffer in die buik geskiet het,” sê hy.

Konst. Thenjiswa Ngcobo, polisiewoordvoerder, het aan Maroela Media bevestig dat twee mans, onderskeidelik 36 en 34 jaar oud, by die onderonsie betrokke was.

Toe paramedici op die toneel aankom, het die ouer man se hart reeds gaan staan.

“ʼn Gevorderde lewensondersteunende resussitasie is deur noodsorgpraktisyns en ʼn ander private ambulansdiens begin,” sê Herbst.

“Ongelukkig het die pasiënt se toestand, ondanks alles moontlik wat vir hom gedoen is, vinnig versleg en hy is op die toneel dood verklaar.”

Die slagoffer is op die toneel dood verklaar. (Foto: Verskaf)

Die slagoffer se identiteit is nog nie amptelik bekend gemaak nie.

Volgens Ngcobo is die hoofverdagte egter reeds in hegtenis geneem op aanklag van moord.

“Hy sal na verwagting eersdaags in die hof verskyn.”

Speurders verbonde aan die polisiestasie in Durban-Noord se ondersoek na die omstandighede van die noodlottige skietvoorval duur intussen voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Goldy ·

In kaapstad is die gewel anders, veral bendeverwant. In Durban is dit meer wreed.

Danie ·

Skop,skiet en moor n perfekte resep vir onse suid afrika.Misdaad ons ondergang.

Di ·

Mense in die land het mos SKIETMAL geword. Se net een woord verkeerd en jy is dood! Sal nooit ophou tensy die doodstraf terug gebring word nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.