Stropers vas wat glo olifanttande verkoop

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: SAPD)nt

Die Valke het vandeesweek twee mans in hegtenis geneem wat glo probeer het om olifanttande in Makhado in Limpopo te smous.

Ao. Lethunya Mmuroa, woordvoerder van die Valke, sê ʼn ondersoekspan van Polokwane het Donderdag met behulp van onder meer SANParke daarin geslaag om die twee mans op te spoor en vas te trek.

Die Valke het vroeër die dag inligting ontvang dat twee individue, onderskeidelik 24 en 25 jaar oud, olifanttande in Makhado verkoop.

“Die span is in die gebied ontplooi en kon daarin slaag om die mans by ʼn ondergrondse parkeerarea in hegtenis te neem,” sê Mmuroa.

“Hulle het olifanttande in hul besit gehad.”

Dit is onduidelik waar die verdagtes die olifanttande gekry het.

Die verdagtes sal na verwagting Maandag in die Makhado-landdroshof verskyn. Aanklagte van onder meer die onwettige verkoop of handel van olifanttande staar hulle in die gesig.

Olifante is ʼn beskermde spesie en daar word dikwels onwettig met ivoor handel gedryf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.