Stryd tussen regter-president, adjunk sleep voort

Die Wes-Kaapse regterpresident, John Hlophe. (Foto: judgesmatter.co.za)

Daar is oënskynlik nog geen einde in sig in die smerige stryd tussen die Wes-Kaapse regter-president, John Hlophe, en sy adjunk, Patricia Goliath, nie.

Die hooggeregshof is in chaos gedompel nadat Goliath in Januarie klagte teen Hlophe ingedien het. Hierin het sy onder meer beweer dat hy ʼn mederegter aangerand en toegelaat het dat sy vrou, regter Gayaat Salie-Hlophe, wederregtelik besluit wie as waarnemende regters in die afdeling kan dien.

Hlophe het op sy beurt klagte teen Goliath aanhangig gemaak.

Die regterlike dienskommissie (RDK) se gedragskomitee het Dinsdag gesê regters Dumisani Hamilton Zondo en Phineas Mojapelo het beslis dat ʼn ondersoek ingevolge die Wet op die Regterlike Dienskommissie na die twee se bewerings gedoen moet word.

Ingevolge art. 17 van dié wet kan ʼn bevinding gemaak word dat een of albei van die klagtes verder ondersoek en na ʼn tribunaal verwys moet word. Die derde regter, Nambitha Dambuza, het in ʼn minderheidsuitspraak gevoel albei klagte moet na die RDK verwys word, met die aanbeveling dat ʼn tribunaal van die gedragskomitee dit ondersoek.

Volgens Dambuza word bewerings van ernstige wangedrag in albei klagtes gemaak en as dit die waarheid is, gaan dit ʼn uiters negatiewe uitwerking hê – ook op die breër regstelsel.

Die gedragskomitee het die klagtes nou na die adjunkhoofregter verwys sodat ʼn ondersoek – formeel of informeel – na die bewerings gedoen kan word. Die aard daarvan is streng ondersoekend en daar is geen onus op enigeen om enige bewering of te bewys of te weerlê nie.

Daar moet besluit word of:

  • Een of albei van die klagte van die hand gewys word;
  • Een of al twee van die klagte gewig dra (indien wel, moet remediërende stappe gedoen word. Dit kan ʼn verskoning, teregwysing, geskrewe waarskuwing, vergoeding of berading insluit);
  • ʼn Aanbeveling gedoen word dat een of al twee van die klagte na ʼn tribunaal van die gedragskomitee verwys word.

Die RDK het vroeër vandeesmaand reeds aangekondig hy gaan ook voort met stappe teen Salie-Hlophe. Sou Salie-Hlophe ná afloop van die ondersoek skuldig bevind word, sal sy ook ʼn ligter straf – eerder as om in ʼn staat van beskuldiging geplaas te word – opgelê kan word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Pieter J ·

Hier is een regter wie se rekord boekdele spreek en hulle moet maar net vir hom ondersoek.

Nie Verbaas ·

Die feit dat vorige klagtes van 2012 nog nie afgehandel is nie spreek boekdele.

Antoinette ·

Dank al 2 af dan sal daar seker vrede in die hof wees.

Jakes ·

Aanstellings van regters word deur die president gedoen. Wie het al 3 hierdie regters aangestel? Was dit Zumpie en indien wel, laat dit sekerlik stof tot nadenke. Oudregter Kriegler het hom verskeie kere oor hierdie mense se bevoegdhede uitgespreek.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.