Suid-Afrikaners uit Midde-Ooste teruggebring

(Argieffoto: Unsplash)

ʼn Groep van 80 Suid-Afrikaners is vandeesweek uit Irak en Jordanië met ’n spesiale repatriasievlug van CemAir teruggebring. Meer as drie maande nadat algehele afsondering in Suid-Afrika ingestel is, sit daar egter steeds talle Suid-Afrikaners in die buiteland gestrand. Sommige Suid-Afrikaners wie se gesinslede in Nieu-Seeland werk, het hulle boonop maande laas gesien, aangesien dié land se grense steeds gesluit is.

Die vlug vanuit die Midde-Ooste het Woensdagoggend by die Internasionale Lughawe OR Tambo in Johannesburg geland. Die vlug het in Entebbe (Uganda), Khartoem (Soedan), Amman (Jordanië), Erbil (Irak) en Basra (Irak) gestop om Suid-Afrikaners op te laai. Die vlug het toe van Djiboutien en Entebbe na Johannesburg gevlieg.

CemAir het Woensdag in ʼn verklaring gesê hy is dankbaar vir al die betrokkenes wat hierdie ingewikkelde vlug moontlik gemaak het. CemAir het tydens die Covid-19-pandemie repatriasievlugte na en van 20 lande oor die hele Afrika en die Midde-Ooste onderneem, wat meer as 1 000 gestrande Suid-Afrikaners teruggebring het.

Die groep gaan nou vir 14 dae by ʼn kwarantynfasiliteit vertoef voordat hulle met hul families ná maande kan herenig.

Talle Suid-Afrikaners sit al vir amper vier maande in die buiteland gestrand. Dit is omrede hulle nie ʼn vlug na Suid-Afrika kan bekostig nie.

Een van die vrywilligers van die HomeAwayFromHome-inisiatief (HAFH) wat die groep Suid-Afrikaners in Kambodja koördineer, sê ʼn fondsinsameling is van stapel gestuur om geld in te samel om kos vir die talle Suid-Afrikaners wat nog in Kambodja gestrand sit, te koop. Dié Suid-Afrikaners gaan onder haglike omstandighede gebuk waar hulle verblyf moet deel en op weldoeners moet staatmaak om te oorleef. Die meeste se geld en medikasie het al opgeraak.

Laykanne en Eben Coetzee (Foto: Verskaf)

Intussen is daar ook Suid-Afrikaners wat in Suid-Afrika vasgekeer is, terwyl hulle van hul geliefdes in die buiteland geskei is.

Laykanne Coetzee is steeds in Suid-Afrika gestrand terwyl haar man, Eben Coetzee, reeds sedert November in Nieu-Seeland woon. Sy sou in Maart vlieg om by hom aan te sluit, waar hulle saam hul nuwe lewe sou begin. Laykanne het reeds haar werk in Februarie bedank. Dié egpaar kry emosioneel en finansieel baie swaar. Al hul besittings is reeds na Nieu-Seeland oorgestuur.

Altesaam 50 gesinne is tans tussen Suid-Afrika en Nieu-Seeland verdeel en kon nog nie herenig nie omdat Nieu-Seeland se landsgrense weens Covid-19 gesluit is. Die meeste van hierdie gesinslede is kinders wat van hul ouers, wat tans in Nieu-Seeland werk, geskei is.

Dié gesinne het ʼn petisie begin wat hulle as hulpkreet aan die Nieu-Seelandse regering wil rig om dit moontlik te maak dat hulle met hul geliefdes herenig kan word. Altesaam 740 handtekeninge is reeds vir die petisie ingewin.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Kobus ·

Wat nou van ons mense in Asia? Ons mis elke keer die sogenaamde Repat vlugte met 1 of 2 dae! Ons is maklik 300 Suid Afrikaners wat oral hier gestrand sit. Wat moet ons doen om gehoor of gesien te word sodat die regering ons ook kan kom haal?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.