Suidelike Halfrond se sterre skitter op nuwe seëls

Sterre van die Suiddelike Halfrond verskyn op die Poskantoor se nuwe reeks seëls. (Foto: Poskantoor)

Die Poskantoor het pas ʼn nuwe stel van tien seëls en twee eerstedagkoeverte bekend gestel wat spog met sterre en sterrestelsels van die Suidelike Halfrond.

“Die sterre beeld oeroue gelowe uit, maar hulle sal aanklank vind by die modernste onder jong kinders. Die sterre op die seëls is gedruk met ink wat in die donker gloei en skyn dus behoorlik soos sterre,” het Johan Kruger, woordvoerder van die Poskantoor, gesê.

Die seëls en eerstedagkoeverte (ʼn spesiale koevert wat in ʼn beperkte oplaag gedruk word) is deur die kunstenaar Anande Nöthling ontwerp.

Die seëls en koeverte is eg Suid-Afrikaans en elkeen het ʼn inheemse konnotasie.

Die seëls is beskikbaar by groot poskantore, asook by die Poskantoor se filatelie-afdeling.

Seëls

Die konstellasie Canopus is op die eerste seël. Dié sterre word die horingster (oftewel Naka) in Sotho, Tswana, Venda, Lobedu, Ndebele en Pedi genoem. Die IXam-mense het die ster in hul rituele gebruik as hulle miereiers gaan soek het.

(Verskaf deur die Poskantoor)

Die Poskantoor sê die tweede seël het drie jolige, klein vlakvarkies op en verwys na die drie sterre wat onder Afrikaanses as die Drie Konings bekendstaan. In Sotho en Tswana is dit die vlakvarke, oftewel Dikolobe.

In Tswana word die ster Sirius Kgogamasigo genoem, met soortgelyke name in Sotho, Venda en Zoeloe. In Xhosa is dit die kampioen, oftewel iQhawe. Dié sterrestelsel word op die derde seël uitgebeeld.

Die Scorpiussterre en ʼn leeu pryk op die vierde seël. Die Poskantoor sê die Khoi-Khoi het die sterre leeu-oë, oftewel Xami di mura, genoem.

(Verskaf deur die Poskantoor)

In Sotho, Tswana en Venda is die Suiderkruis die kameelperdbul. Die Suid-Afrikaanse filosoof Credo Mutwa het die sterrestelsel die Boom van die Lewe genoem.  Dié sterre verskyn op die vyfde seël.

Die Poskantoor sê gedroogte mopaniewurms is vir baie Suid-Afrikaners ʼn lekkerny en gakgala is wat die Tswana die ster Delphinus noem. Die ster, die larwe en die volwasse mot van die mopaniewurm verskyn op dié seël.

Die sterregroep Centaurus is op die sewende seël. Vir die IXam-mense was dié twee sterre die leeusterre – volgens oorlewering twee leeus wat deur ʼn jong meisie in sterre verander is.

Die IXam-mense het die sterrestelsel Aldebaran die hartebeesbul genoem, sê die Poskantoor. Die hartebees is een van die herkouers wat die verste gevorder het op die evolusieleer en is geharde diere. Aldebaran en die hartebees verskyn op die agtste seël.

Tafelberg verskyn op die negende seël. ʼn Franse sterrekundige, Nicolas-Louis de Lacaille, het ʼn dowwe groep sterre saamgroepeer terwyl hy aan die Kaap was om die Suidelike Halfrond se sterre te karteer en het dit Mons Mensae, Latyns vir Tafelberg, genoem. Dit is die enigste sterrestelsel wat na ʼn geologiese kenmerk genoem is.

(Verskaf deur die Poskantoor)

“Enigiemand wat na die uitspansel kyk op ʼn plek waar daar nie ligbesoedeling is nie, sal verstom staan oor die prag van die melkweg. Die IXam het geglo die melkweg het ontstaan toe ʼn meisie van die eerste mense ʼn handvol as en brandende wortels uit die vuur gegryp en in die lug gegooi het. Die kleure van die wortels en die vonke het die melkweg gevorm,” sê die Poskantoor.

“Vir ander volke in Suid-Afrika was die melkweg ʼn voetpad deur die uitspansel waarlangs geeste van voorvaders kon stap. Die melkweg verskyn op die tiende en laaste seël.”

Eerstedagkoeverte

Die Groot en Klein Magellaanwolke verskyn op die eerste van die eerstedagkoeverte.

Die Poskantoor verduidelik vir verskeie San-groepe was dié sterrewolke twee steenbokke; pragtige bokkies wat lewenslank ʼn paar vorm en hulle gebied geesdriftig teen indringers verdedig. Die koevert beeld die sterrewolke en ʼn paar van die klein bokkies uit. Vir die IXam, wat lank gelede in die Noord-Kaap gewoon het, was die wolke volstruiseiers.

Die Pleiades-sterregroep, wat in die Weste as die sewe susters bekend staan, verskyn op die tweede eerstedagkoevert. Die Poskantoor sê die Xhosa het elke jaar in Juniemaand gewag vir isiLimela, soos die sterre in dié taal genoem word, om te verskyn. Die finale seremonie van die Abakwetha-inisiasieskool, waar seuns deur ʼn ritueel moet gaan om as mans beskou te word, is deur die verskyning van dié sterregroep bepaal.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Nico ·

Besonderse ontwerpe om op trots te wees. Welgedaan Anande Nöthling.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.